Blog

Verhouding maak die verskil (veilig)

 3 Jun 2021  Ds Jan Lubbe   Kuratorium

Toe ons Dinsdagoggend as dagbestuur van die Kuratorium reflekteer op die vorige dag se ontmoetings en intense gesprekke oor teologiese opleiding, was dít die wyse woorde van ds Peet Louw van Riebeeckstad en voorsitter van ons Steunspan Diverse Opleidingsbane: “Dit is as mense mekaar ontmoet en in die oë kyk, dat kop-goeters in jou hart tot rus kom.”

Die derde vergadering van die Kuratorium se dagbestuur vanjaar, op 24 en 25 Mei, het met twee belangrike ontmoetings begin. Maandagoggend het die Sinodale Taakspan vir Leer- en Aktuele Sake (STALS) by monde van ds Pieter Prinsloo kommer en vrae oor teologiese opleiding met die dagbestuur gedeel. Dit het aangesluit by beskrywingspunte wat in 2017 by die Vrystaatse Sinode gedien het en gaan oor die funksionering van ons gereformeerde belydenisgrondslag in teologiese opleiding; besluite van die 2015, ’16 en ’19 Algemene Sinodes oor selfdegeslagverbintenisse; verantwoordbaarheid oor die opleiding en ‘n “ongemak” of “wantroue” wat in sommige kringe oor die opleiding bestaan. Dr Bertus Celliers, wat as lid van die Interimkomitee teenwoordig was en ook tydelik-deeltydse dosent in kerkreg by die Fakulteit Teologie en Religie is, het gevra dat nie die weg van verdagmaking nie, maar van openhartige gesprek oor kwessies van teologiese verskil gevoer sal word. Daarom is dit byvoorbeeld belangrik om die huidige konteks van opleiding in ag te neem, en die rol wat die Seminarium van die NG Kerk Vrystaat speel in die kerklike vorming en -begeleiding van ons studente. So deurloop alle studente van die NG Kerk deur die eerste vier jaar van hul opleiding programme oor die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis, die Dordtse Leerreëls en -Kerkorde, en die Belydenis van Belhar.

Dié tema het weer Maandagmiddag in die tweede ontmoeting ter sprake gekom, met die dekaan van die Fakulteit Teologie, prof. Rantoa Letsoša (van die Gereformeerde Kerk), en 14 van die dosente wat gelegitimeerdes van die NG Kerk is. Wat is “opleiding in gereformeerde teologie” veronderstel om te wees? Prof Rian Venter (Sistematiese Teologie) het gesê dat daar gewaak moet word teen ‘n kasuïstiek in opleiding. Dit wil sê dat studente met ‘n pasklaar antwoord op elke situasie in die kerk en wêreld uitgestuur word; hul moet eerder voorberei word om verantwoordelik met die Bybel om te gaan, met die geskiedenis van ons kerklike tradisie, wie God is en die bediening aan mense. Dit vra dat studente blootgestel sal word aan die huidige stand van beste navorsing oor die breë spektrum van die klassieke teologiese dissiplines, en waarin die hermeneutiese vrae ‘n sentrale rol speel. En hoewel dit akademies uitdagend mag wees, gaan dit ten diepste vir hom om ‘n hartsoortuiging, ‘n roeping, het prof Francois Tolmie (Nuwe Testament) beklemtoon.

Waarom sou die NG Kerk Vrystaat haar studente juis hier in Bloemfontein laat oplei? Hieroor was dosente en lede van die Kuratorium dit eens: die goeie geografiese- én sosio-ekonomiese ligging (dws bekostigbaarheid, toeganklikheid én kontak met ‘n verskeidenheid van gemeentes); die gunstige en gerekende posisie van die Fakulteit aan die Universiteit van die Vrystaat; die ingesteldheid van wedersydse respek, samewerking en goeie kommunikasie tussen die fakulteit en kerk; en ‘n historiese verbondenheid van meer as veertig jaar wat nou óók die opleiding van die VGKSA, die NGKA en die Reformed Church in Zambia insluit. Studente leer juis in só ‘n klaskamersituasie om ‘n gebalanseerde eie perspektief te ontwikkel en die vaardighede in te oefen om die Woord in ‘n diverse Suid-Afrikaanse gemeenskap te gaan bedien en te beliggaam – “daar is nie ‘n wegkruipplek teen transformasie nie”. Weereens speel die pastorale sorg van mentors, inskakeling by opleidingsgemeentes en begeleiding deur die Seminarium, hier ‘n onmisbare rol vir ons studente. “Ons het mekaar nodig”, het dr Martin Laubscher (Praktiese Teologie) dit saamgevat. Of, soos ds Cobus Hamman van Bainsvlei en voorsitter van ons Steunspan Gemeentejaar dit gestel het: “My Ma het my liefgemaak vir die Bybel, die Here het my geroep om ‘n dominee te word, die dosente het die potlood skerpgemaak en my leer dink – ek wil daarvoor aan hul dankie sê.”

Terug na ds Peet Louw se openingsgedagtes uit 2 Korintiërs 2. Die evangeliebediening moet “kennis van Christus” versprei soos ‘n “aangename geur wat lewe wek”. Daarom moet teologiese opleiding studente voorberei om die Woord van God in opregtheid te kan verkondig, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid teenoor Hom (2 Korintiërs 2:17). Ons wat hulle oplei en predikante deur wie God katkisante en jongmense tot die bediening roep, moet hiervan die goeie voorbeeld stel, deur self “wierook vir God” te wees. In tye van moeilike omstandighede soos nou, is die toets waarskynlik óf en in watter mate, ons veilige ruimtes kan skep vir die ontmoeting tussen generasies, tussen gemeentes wat verskil, en tussen studente, dominees en dosente, sodat verhoudings van vertroue gevestig kan word en ons die pad saam kan loop.

Dít gaan die goeie verskil maak.

Jan Lubbe (VDm) | Voorsitter: Kuratorium

Nuutste Artikels