Blog

TWEE SENDELINGE STAP IN ‘N KROEG IN …

 17 Nov 2021  Dr Enrico Casaleggio   Algemeen

Two guys walked into a bar. The third guy ducked. Daar is letterlik duisende van hierdie soort grappe. ‘n Storie wat begin met “Twee sendelinge stap in ‘n kroeg in …”, kan ook vir ‘n grap aangesien word. Dit is egter presies wat ‘n paar dae gelede met my en Dirk Taljaard gebeur het.

Sien, die storie werk so: Nadat ons in Durban gesprekke gehad het met volgelinge van ander godsdienste, het ons daaraan gedink om baie nader aan die huis soortgelyke geselskap te soek. ‘n Soektog op Google Maps bring ons uit by ‘n plek wat aangedui word as ‘n bymekaarkomplek vir Hare Krishnas. Sommer met ‘n eerste oogopslag op die rekenaarskerm lyk dit nie vir ons na die Hare Krishna-tempels waaraan ons gewoond is nie. Hulle belowe egter daar is goeie koffie en ‘n jogaklas. Nie ek of Dirk het die postuur wat ‘n yogi (jogainstrukteur) rasend van opgewondenheid sou maak nie, maar ons het albei ‘n swak vir goeie koffie.

Die “tempel” is so klein dat ons die eerste keer daar verby ry, sonder om dit agter te kom. Gelukkig kry ons dit met die tweede probeerslag. Van buite lyk die plek, met vreemde patrone op die mure, nie na die tipe coffee shop wat ons uit eie keuse sou besoek het nie, maar gelukkig was dit in die middel van die dag met Bloemfontein se somerson wat dooierus op ons neem.

Dit is toe dat die twee sendelinge die kroeg instap. As die buitekant vir ons gewaarsku het om buite te bly, dan beaam die binnekant dit met: “Ek het jou mos gesê!” Dit is nie net óns wat onmiddellik agterkom dat ons soos ‘n seer oog uitstaan nie. Die eienaar, kliënte en kroegvrou kyk ons aan asof ons besoekers van die planeet Dagobah (van Star Wars-faam) is. Ek sou kon sê dat daar ook ‘n kroegman was. Hy was egter nie van dié tipe wat drankies verkoop nie. Hy het ‘n verskeidenheid van produkte verkoop wat gerook kon word - waarvan sigarette nié een was nie!

Die eienaar stap nader. Hy het so baie tatoëermerke, dit lyk of hy met ‘n nat koerant geslaan is. Hy het natuurlik duur betaal vir sy tatoëermerke, daarom dra hy ‘n frokkie. Een van die tattoos sê “Too cute for this planet”. In dié betrokke situasie was dit nogal veelseggend. ‘n Ander tattoo het hy dalk verkeerdom verwoord: “Wat is ‘n Moeder sonder ‘n huis?” Dalk het hy dit tog so bedoel.

Die meeste wat ons blykbaar in gemeen het, is ons onderskeie haarstyle, aangesien hy ook nie hare het nie. Hy kyk vir ‘n oomblik op na ons wat hom steur terwyl hy “besigheid” doen met ‘n kliënt wat meer tuis lyk as ons.

“Twee Americanos, asseblief!” Dirk se bestelling bring bietjie orde. Dit lyk of die kroegvrou verstaan wat hy bedoel.

“Is hier ‘n yogaklas?”, vra ek. “Nee”, sê sy. “Julle moet maar by die gym in die volgende straat gaan hoor”. “Is hier Hare Krishnas?”, is my volgende vraag. Sy weet duidelik nie waarvan ek praat nie, want sy antwoord: “Nee, ons verkoop ander produkte”.

Die koffie is regtig lekker. Ek hoop maar dat dit net koffie is.

Intussen het Koerantman (aka tatoëerman) klaargemaak met sy kliënt. “Ek hoor julle soek na Hare Krishnas?” sê-vra hy. “Wat wil julle met hulle maak?”

Sy stemtoon verraai ‘n mate van paranoia.

“Ons wil net bietjie met hulle gesels”, antwoord Dirk, so gerusstellend as moontlik.

“Wie is julle?”, vra Koerantman. Die paranoia in sy stem nog ‘n bietjie duideliker.

“Ons is sendelinge”, kom my antwoord.

“Wat!? Ek het nie geweet mens kry nog sulke goed nie!”

Koerantman is duidelik verbaas. Sy graad van paranoia het ook merkbaar afgeneem.

“Nee, die Hare Krishnas is al vier jaar gelede hier weg. Hulle is terug Indië toe. Hulle chanting het blykbaar nie goed afgegaan in Bloemfontein nie. As hulle die tweede versie gevat het van Hare Krishna, Hare Rama, op die begeleiding van klokkies en simbale, het die geduldige Vrystaters se gesigsuitdrukkings gesê dat dit nou genoeg was”.

“Van waar is julle”, vra hy. Dit tref hom klaarblyklik dat ons op die ou end toe nié van Dagobah is nie. “Ons is van die NG Kerk” antwoord ek. “Ons vertel graag vir mense dat hulle sondes vergewe kan word en dat hulle vir ewig kan lewe, omdat Jesus Christus aan die kruis gesterf het. Ons wil hulle vertel hoe hulle Christus as Verlosser kan aanvaar”.

“Julle kan gerus weer kom koffie drink”, sê Koerantman. “Ek moet nou aanskuif. Ek het ‘n werksafspraak”. Hy vat nie die aas wat ons vir hom uitgooi vir ‘n gesprek oor die Evangelie nie. “Ons sal beslis weer kom”, verseker Dirk hom.

Met dankbare harte stap twee sendelinge uit die kroeg uit. Ons het nie heeltemal bereik wat ons in gedagte gehad het nie. Ons glo tog die Here het deur Sy Gees ‘n deur geopen waar ons ‘n volgende keer met vrymoedigheid die Evangelie kan bring. Koerantman, die kroegvrou én die kroegman weet nou almal ons is sendelinge wat die goeie nuus van verlossing in Jesus Christus bring. Die Heilige Gees sal daardie saad laat ontkiem.