Blog

Tobie de Wet - tot aan die eindes van die aarde - Japan

 3 Dec 2021  Mev MariĆ«tte Odendaal   Algemeen
Ek onthou nog as kind hoe die dominee daar van die preekstoel af vertel van Christus se laaste opdrag – dat sy dissipels sy Goeie Boodskap tot aan die uiteindes van die aarde moes bring. Dit was natuurlik nie ’n maklike taak nie, want dit het beteken dat jy in ’n vreemde taal en kultuur moes gaan werk, maar hoe anders moes die res van die wêreld dié Goeie Nuus hoor?

Tobie de Wet was een van ons NG Kerk-predikante wat destyds dié roeping ontvang en toe ons susterskerk in Japan saam met sy vrou Annalie aan sy sy, gaan dien het. Hier is sy storie: 

Tobie de Wet het as enigste seun, met ’n suster Annelie (nou Spies) twee jaar jonger as hy, in die Swellendam-distrik op ’n merinoskaap- en graanplaas grootgeword waar hy ’n sorgvrye kinderlewe gehad het. Hy het op Bredasdorp skoolgegaan en vanaf Sub A (Graad 1) daar by ’n tante loseer. Vanaf St 7 (Graad 9) is hy na Oakdale Landbouskool omdat daar van hom, as enigste seun, verwag is om te gaan boer.

“Alhoewel ek van jongs af weg van my ouers moes woon en dit soms hartseer was, was ek gelukkig,” vertel Tobie. “My ma het ’n groot invloed op my lewe gehad. Sy was ’n toegewyde Christen wat die geestelike leiding in ons huis geneem het. My pa was nie geestelik betrokke nie, maar sy kritiese denke het ’n groot indruk op my gemaak. Die tannie by wie ek op Bredasdorp loseer het, het my na alle kerkbyeenkomste geneem; iets wat aan my as jong kind geanker het in die weë van die Here. Hier het die toegewyde predikante en die Kinderkrans met hul sendingvisie ’n diep indruk op my jong gemoed gemaak.”

Twyfel en sekerheid

Op Oakdale begin die jong krities-denkende Tobie vrae oor die Bybel, Jesus en God vra. “Dit het ’n ernstige worsteling geword en ek kon en wou later nie meer bid of Bybel lees nie,” vertel Tobie. “Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat dit alles maar net mensgemaakte konsepte is. In hierdie tyd het ek dikwels op die plaas hard gebid dat God aan my duidelikheid moes gee en so het ek, deur die groot genade van die Here, die lewende God deur Jesus Christus herontdek.” Dit het Tobie se hele lewe totaal verander. 

“Later het ek begin wonder of ek nie eerder voltyds in die bediening moet gaan in plaas daarvan om te gaan boer nie,” vertel Tobie. “Hier het nogal nie die Bybel nie, maar Langenhoven se spreuk, “’n Man wat in die verkeerde beroep staan, is soos ’n boer wat sy kliprante omploeg, maar sy goeie grond laat braak lê”, my diep aangespreek. Ek het só daaroor geworstel, dat ek God een aand gesmeek het om my in daardie nag duidelik te wys wat ek moes besluit. Daar het egter geen antwoord gekom nie, maar die volgende oggend het ek ’n brief van ’n vriend se ouers ontvang waarin hulle geskryf het dat hulle my voorstel as ’n voltydse bedienaar van die Here.” Dit was volgens Tobie soos ’n brief van die Here Self uit die hemel.

Ná skool is Tobie eers Weermag toe, waar hy die Here se roeping vir wêreldsending ernstig ervaar het. “In dié tyd het die boekie van dr Oswald J Smith, “Aan die brand vir siele” (Passion for Souls; World Evangelism) waar die belangrikheid van wêreldsending verduidelik word, ’n groot indruk op my gemaak,” vertel Tobie. “Hierin het die Here vir my ’n visie, passie en “commitment” vir wêreldsending gegee; om die evangelie aan die onbereiktes tot aan die eindes van die aarde te gaan bring.” 

Ná sy dienspligjaar is hy na Stellenbosch om teologie te gaan studeer. In hierdie tyd was hy baie betrokke by sendingaktiwiteite waar hy op die Sendingweek-komitee gedien het en ook vier jaar die voorsitter daarvan was. Hy was ook die voorsitter van Sondagmiddae se sendingstudie. 

“Paul Smith, seun van Oswald Smit, is een keer vanaf Kanada as spreker van die Sendingweek genooi; iets wat ’n groot impak op my lewe gehad het. Ook prof Kolie se boodskappe het my diep geraak,” vertel Tobie.

Sendingwerk in die Ooste roep

In hierdie studentejare het Tobie kontak met die Verwey’s van Japan Sending, die Visser’s van Japan Plattelandse Sending asook die Overseas Mission Fellowship (OMF)-sendelinge in Japan gehad.

“In my derde jaar op kweekskool het prof Van der Merwe (Missiologie) my vertel dat die Sinode van die Vrystaat besluit het om met sendingwerk in Japan te begin. Hy het my aangemoedig om aan hulle te skryf dat ek beskikbaar is, wat ek toe gedoen het.” Op die dag van sy legitimasie in 1973 is Tobie toe as eerste amptelike sendeling van die NG Kerk buite Afrika na Japan beroep en in Februarie 1974 in die Tweetoringkerk, Bloemfontein, georden. Hy is gestuur om in die inheemse Reformed Church in Japan (RCJ) te werk wat baie jare later (eers in 1999) die enigste amptelike susterskerk van die NG Kerk in daardie deel van die wêreld geword het.

Intussen het Tobie verloof geraak aan Annalie Els van Port Elizabeth en is hulle kort na sy ordening getroud. Terwyl hulle op hul visums vir Japan gewag het, het hulle NG Kerk-gemeentes in die Vrystaat besoek totdat hulle in Junie na Japan kon vertrek.

“Die ondersteuning van die sendingwerk in Japan was nooit sinodaal nie, maar dit was ’n geloofsending waarin die Sinode van die Vrystaat ’n groot ondersteuning was,” verduidelik Tobie. “In 1978, met ons eerste deputasie, het ons omtrent al die gemeentes in die Vrystaat besoek; dit was meer as 300 gemeentes. By sommige plekke het ons gemeentes gesamentlik besoek en is vol sale getrek. Daar was groot belangstelling in hierdie werk van die Vrystaatse kerk. Tydens hierdie besoeke het ons gepraat oor ons werk en ondersteuning gewerf. Daar is egter nooit oor geld gepraat nie, maar oor Christus se opdrag en dat ons almal geroep is om oral betrokke te raak.” 

Groot uitdagings as jong sendelingpaar in Japan ...

“Na ons Japannese taalstudie was ons eerste termyn by ’n gemeente-buitepos waar ons onder leiding van ’n kerkraad en ouderling (wat ’n professor was) begin werk het,” vertel Tobie. “Ek moes in Japannees praat en preek. Dis ’n uiters moeilike taal en was ’n geweldige uitdaging, want jy kan op geen ander manier kommunikeer nie; Japannese praat nie eintlik Engels nie.

“Naas die taal, is die kultuur ook radikaal anders – die Japannese leef- en sienswyse is baie anders as ons s’n. Dis uitdagend; jy moet daarby kan aanpas en inval. Jy moet die fyner nuanses daarvan verstaan. As jy nie baie sensitief is daarvoor nie, kan dit verhoudings maklik vertroebel,” verduidelik Tobie.

“Die Japannese is die mees-geletterde bevolking ter wêreld. Winkelwerkers het dikwels universiteitsgrade. Jy het te make met hoogs intellektuele mense met geweldige hoë standaarde. Daar word van jou verwag om alles in te sit. Die emosionele eise van die samelewing is geweldig dreinerend. Ná ’n dag in Japan is jy dikwels uitgemergel,” verduidelik Tobie.

“Hul geslotenheid (oral is ‘mure’) maak dat jy moet konsentreer om tot die mense deur te dring. Daar is ’n hoë werksetiek; jy kan nie lyf wegsteek nie. Japannese predikante kry slegs twee weke verlof met net een Sondag af per jaar. Die vrug op jou arbeid is min en ontmoedig jou maklik. Jy moet regtig bereid wees om te dien, want jy het niks beter om te bied nie. Op kerkraadsvergaderings was ek ingestel om eerder net te luister en te vra waar ek kan dien.

“En dan is daar die isolasie. Jy is ver weg van jou land en mense en daar is nie eintlik Westerlinge rondom jou nie; jy kan nie werklik diep, geestelike vriendskappe opbou nie.”

Maar daar was ook wonderlike hoogtepunte ...

“Die RCJ se gereformeerde teologie het ’n groot impak op my lewe gemaak,” vertel Tobie. “Hulle lê groot klem op die Woord en prediking van die Woord; dis Woordbediening in die suiwerste vorm. Jy begin by ’n boek en preek dit teks vir teks – uitgelê en toegepas met ’n duidelike appél. Dis evangelies en Christus-gesentreerde preke. Die kerk het ’n sendingvisie om mense te bereik met die evangelie in ’n magtige heidendom. Gebed speel ook ’n groot rol in die kerk.

“Die toewyding van die Japannese Christene is merkwaardig,” vertel Tobie. “Dis moeilik om in Japan ’n Christen te word, aan die Here toegewyd te leef en daarin te volhard. Dis ’n materialistiese land waar daar nie eintlik tyd vir godsdiens is nie. Die Christene se toewyding aan die Woord en hul gemeentes is merkwaardig. Jy aanvaar as lidmaat ook verantwoordelikheid vir jou gemeente - iets wat ’n groot inspirasie vir ons was.”

“Die RCJ is ’n tweede geestelike moeder vir my naas die impak wat die NG Kerk-familie in my lewe gehad het,” vertel Tobie. “Dit het ’n geweldige groot rol in my lewe gespeel. As eerste uitlander wat in die RCJ gelegitimeer is, was ek die enigste Westerling tussen al die ander foto’s van predikante tydens die 60-jarige viering van die kerk in 2018. Ek is ook emeritus-leraar van die RCJ en moet steeds jaarliks ’n verslag gee van wat ek doen.”

Terug na Suid-Afrika

“Ongelukkig moes ons aan die einde van 1982, as gevolg van die teologiese regverdiging van apartheid deur die NG Kerk, terugkeer na Suid-Afrika,” vertel Tobie. “Alhoewel die RCJ my aanvaar en as hul eie predikant gelegitimeer en beroep het, het hulle nie hul weg oopgesien om verder met die NG Kerk amptelik bande te hê nie. Alhoewel hulle groot waardering vir die NG Kerk se suiwer gereformeerde teologie, ons sendingvisie, passie en evangeliese, puriteinse spiritualiteit gehad het, kon hulle nie die politieke beeld van die NG Kerk aanvaar nie. Dit sou hul eie werk in Japan benadeel het. Die deure het ook terselfdertyd vir Suid-Afrika polities begin toegaan. Die regering van Japan het ernstig begin optree teen kontak met Suid-Afrika.”

Nadat Tobie-hulle se werk toe tydelik in 1982 opgeskort is, het hulle vir die volgende 16 jaar as predikantspaar in Gqeberha (Port Elizabeth) gewerk – drie jaar in die NG Kerk Parkheuwel en dertien jaar in die Reformed Church in Africa (RCA), ons Indiër susterskerk in Malabar.

Weer na Japan

Aan die begin van 2000 is Tobie en Annalie teruggestuur na Japan. “Missie Japan is toe as gesamentlike geloofsendingprojek van die NG Kerk-familie gestig met die sinodes van die Vrystaat, Oos-Kaap en Wes-Kaapland en die RCA as amptelike vennote in samewerking met die RCJ, met wie beide die NG Kerk en die RCA amptelik kerklike bande gesluit het.”

Die RCJ is as kerk ook sosiaal betrokke. Tobie vertel: “Die hoogtepunt van hoe die kerk ’n verskil in die gemeenskap kan maak, was in die drie jaar ná die tsunami in 2011. Ek sou in daardie jaar aftree, maar is toe versoek om vir drie maande aan te bly, asook vir drie maande in 2012 en toe weer in 2013 die kerk fisies en sosiaal te gaan help om die honderde gemeenskappe wat deur die tsunami getref is, te gaan bystaan. 

Tobie en Annalie het in 2014 afgetree en hulle in Swellendam saam met sy suster en haar man gaan vestig.

Die belangrikheid van ekumeniese vennootskappe

Tobie het ’n sterk gevoel oor die belangrikheid van ekumeniese vennootskappe: “Veral tydens ons werk by die RCA in Gqeberha was dit belangrik om deel van ’n ekumeniese broederkring te wees. In Japan was die RCJ egter baie bewus van hul uniekheid as spesifiek ’n Gereformeerde Kerk. Kontak met ander kerke was in elk geval beperk en prakties moeilik omdat mede-gemeentes te ver van mekaar is.  Die hegte ekumeniese verhouding tussen die NG Kerk, die RCA en die RCJ en wonderlike samewerking ten opsigte van die mooi projekte wat saam aangepak word, is vir ons uiters kosbaar.”

Die De Wet’s se dogter, Carina, is met Stephan van der Watt, betrokke by teologiese opleiding aan die Kobe Reformed Theological Seminary, getroud. Sy is by kinderbediening betrokke en is die ondervoorsitter by hul gemeente se Vrouebediening.  Hulle het vier kinders.