Blog

“The Sound of Silence”

 22 Sep 2021  Dr Suzanne van der Merwe   Verbi Divini Minister

Bladmusiek is slegs vir die ingewydes wat musieknotasie ken. Klanke wat deur instrumente voortgebring kan word, word op en tussen vyf lyntjies en vier spasies “geskryf”. Hierdie musiekskrif wat uit sekere note, simbole en tekens bestaan, word deur musikante gebruik om die komposisies te lees en ook te interpreteer. Elke noot, simbool en teken op die bladsy van die musiekstuk word gekodeer met betekenis. 

So het note ‘n bepaalde nootwaarde en toonhoogte en word ook gegroepeer om walse en marse, mazurkas en polonaise voort te bring op ‘n klavier en viool of op ‘n dwarsfluit of enige ander instrument. Dit is juis hier waar díe fassinerende aspek van musiek ter sprake kom. Sommige note word vervang met tekens wat stilte aandui. Ons noem dit ook rustekens. Elkeen met sy eie nootwaarde.  

Ja, jy verstaan dit reg … note van stilte, word die klank van stilte, wanneer die musikant die komposisie uitvoer. 

Die immergewilde Amerikaanse musiekduo, Simon & Garfunkel, se lied getiteld The Sound of Silence, het my nog altyd aan hierdie aspek van musiek laat dink.

Stilte en spesifiek die klank van stilte. 

Hoe kan iets wat ons nie hoor nie, tog betekenisvol op die oor val? 

Aktiewe musiekbeluistering is ‘n geoefende luistervaardigheid. Dit kan definitef nie vereenselwig word met lyfswaai op die “beat” van die musiek wat met braaivleisvure en skreeuende kindertjies op die grasperk gepaard gaan nie. Aktiewe musiekbeluistering het alles te make met fyn gestemde ore wat met tyd heen geleer het om nie nét na die algemene klank of gevoel van musiek te luister nie, maar na elke aspek daarvan. Dit beteken onder andere dat ‘n mens na die elemente van musiek luister en in die analise daarvan ‘n diepe vreugde ervaar. Selfs al sou die musiek - wat in ‘n mineur-toonaard geskryf is - die melankoliese of hartseer emosies opwel in die hart. 

My getemde intuïse maak my wys dat beide predikante en lidmate daarvan oortuig is dat die erediens gevul moet wees met “note”. Hoe harder die “note” uitbasuin word en hoe meer majeur-toonaarde uitgevoer word, hoe meer intens is die spirituele belewing. Asof stilte ‘n onwaardige noot sou wees in die komposisie van ‘n Sondag-erediens. 

Gun my die geleentheid om die idee van stilte in ‘n erediens te ondersoek, aan die hand van die metafoor van ‘n manjifieke komposisie. Ek wil die wye spektrum van Woordnote in ‘n erediens noem en die belang en betekenis van die klank van stilte bespreek. My betoog handel daaroor dat oomblikke van stilte die noodsaaklike medebepalers van ‘n geslaagde eredienskomposisie is. 

Laat ons begin deur te stel dat ‘n erediens ‘n Woorddeurdrenkte geleentheid is. Die Handleiding vir die Erediens beskryf die erediens as volg: “Die God wat sy gemeente in die erediens ontmoet, is die God wat deur sy Woord met mense praat.” Die Woord wat klink in al sy vorme. Die geïntoneerde Woord wat vanaf die kansel gelees word en wat uit bekende en geliefde dele sag op die ore val. Die gesonge Woord wat melodieus en op gevleulde vlerke emosies wek en harte versterk. Die simboliese Woord wat deur doopvont en nagmaaltafel die geloof versterk en die oog rig op die Gewer van goeie gawes. Die rituele Woord van geloofsbelydenis en die sluit van oë tydens gebed wat die siel verhef en fokus bring in die harwar van die lewe. 

Maar waar is die plek vir die klank van stilte?

Stilte klink verkeerd! 

Dit klink so anti-Woord! 

Ons is so gewoond daaraan dat dit woorde en klanke is wat vir ons betekenis oordra. Daarom seker ons ongemak met stilte in die erediens. Ons is gewoond aan baie “note”. 

Tog is daar vele tradisies wat stilte as ‘n belangrike en selfs die hoofmoment van die erediens en die bepaler van die liturgie voorstaan. Ons, in die Gereformeerde tradisie, is dalk net nie so bekend daarmee nie. Daarom is ons ook meer ongemaklik met die rustekens in ‘n erediens. Weliswaar sou ‘n Gereformeerde erediens seker nie maklik verdedig kon word deur algehele stilte in te voer nie. Net soos geen komposisie net uit rustekens bestaan nie. Dan was daar geen klank en geen musiek nie. 

Mens sou wel kon redeneer dat konteks die aard, duur en kwaliteit van stil oomblikke binne die erediens kan bepaal. Nie elke erediens behoort ‘n groot stilkomponent te dra nie. Maar dat stilte die klank van die Woord sou versterk en meer hoorbaar maak, kan voorsien word. Is daar nie die teks wat sê dat God in die stilte Homself bekend gemaak het nie? 

Ek is daarvan oortuig dat stilte ook in die erediens ‘n geloofsdissipline is wat deur deelname en inoefening ryker ervaring en dieper dimensie kan toevoeg. In ons liturgiese beplanning behoort ons, as liturge, soos die musiekkomponis die ideale verhouding te vind tussen klanke en stilte.