Blog

The Deer’s Cry van Arvo Pärt – geskoei op die Lorica van St Patrick

 22 Apr 2022  Dr Anneke Lamont   Spiritualiteit Netwerk

Die konteks van hierdie werk word teruggeneem na die tyd rondom 425 ná Christus in die land van die Kelte - of Ierland soos ons dit ken. Daar was nog geen Bybel nie. Die eerste sogenaamde Bybel is eers in 1450 deur Johannes Gutenberg in Duitsland gedruk en dit was in Latyn. Die eerste Engelse Bybel is in die 1500’s deur William Tindale gedruk. Dus het die geesteswêreld van die Kelte en baie van die aardbewoners in daardie tyd, op mondelinge stories en tradisies berus. Een daarvan was ‘n retoriese prosa wat as beskerming teen die Bose gebruik is. So ‘n tipe beskerming is ‘n borsplaat genoem. In Latyn bekend as ‘n Lorica en in die Keltiese wêreld ‘n Lúirech.

Die Keltiese sjamaans of druïdes (Druids) het ‘n direkte mistieke of religieuse ervaring as van kardinale belang beskou om die rol van ‘n geestelike leier te vervul. Hulle het die priesterlike rol vervul as tussengangers tussen die fisiese en geestelike wêrelde en was ook beskou as geneeshere op alle terreine. Hierdie mense het die sogenaamde Lorica of borsplaat as beskerming gebruik teen alle Bose magte. Hulle het byvoorbeeld van die natuur geleer hoe om te kamoefleer en hulself onsigbaar te maak. Hulle het, volgens oorlewering, die vermoë gehad om hulself onsigbaar te maak of om ‘n ander vorm aan te neem. In kort – so ‘n borsplaat was gebruik om hul te beskerm op hul fisiese en geestelike reis. In ons tyd word hierdie magiese vermoë ook gebruik in Tolkien se “Lord of the Rings” en JK Rowling se “Harry Potter”-skepping.

Die Lorica van St Patrick word toegeskryf aan Patrick wat in die vyfde eeu na Christus gebore is. Hy het opgegroei in Latyns-Brittanje, maar is as jong slaaf na Ierland ontvoer. Daarvandaan is hy terug Brittanje toe en het uiteindelik gehoor gegee aan ‘n roeping om terug te gaan na die land van die Kelte en die Evangelie te versprei. Hy het grootse werk gedoen om die Goeie Nuus oor Jesus daar te versprei en die Keltiese kruis, wat ook die son en maangode simboliseer, is een van die bewyse van St Patrick se gebruike om die tradisies wat reeds in Ierland vasgelê is, in die nuwe geloof te inkorporeer.

Een van die vele mites en legendes rondom St Patrick is die volgende: Hy het tydens sy aankoms as sendeling in Ierland saam met sy metgeselle en volgelinge ‘n vuur aangesteek op die heuwel van Slane, so tien myl van die hoofstad Tara, om die vooraand van Paasfees te vier. Koning Loégaire het egter die aansteek van alle vure verbied: Sy vuur sou eerste aangesteek word. St Patrick se vuur ontketen die koning se argwaan en met sy manne storm hulle op die oortreder af. St Patrick gebruik in nood die volgende woorde: “Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar ons, ons vertrou op die Naam van die Here ons God.” (Psalm 20:7) Die koning het nie aangeval nie, en die legende vertel verder dat niemand vir St Patrick of sy volgelinge kon sien nie, want al wat sigbaar was, was ‘n troppie takbokke.

Hierdie oorgelewerde verhale beklemtoon daardie tyd se besondere fokus op die krag wat daar in woorde lê. St Patrick se gebruik van die woord as borsplaat en beskerming, maak ‘n logiese konneksie vir ons vandag: Die woord van God wat lewend en kragtig is, wat skerper sny as enige tweesnydende swaard en wat deurdring tot die skeiding van siel en gees en gewrigte en murg en wat beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart is. (Hebreërs 4:12) Hierdie borsplaat van die woord wat as die NAAM van Jesus Christus bekend staan, het vir ons die Lewe geword. Ons weet dat hierdie NAAM bo elke ander naam is en dat elke knie daarvoor sal buig. (Filippense 2:9-10)

Pärt and The Deer’s Cry

Die Lorica van St Patrick is lank en het vele woorde, maar Pärt gebruik net die een spesifieke vers:                          

Christ with me, Christ before me, Christ behind me,

Christ in me, Christ beneath me, Christ above me,

Christ on my right, Christ on my left,

Christ when I lie down, Christ when I sit down,

Christ in the heart of every man who thinks of me,

Christ in the mouth of every man who speaks of me,

Christ in the eye that sees me, Christ in the ear that hears me.

Die teks is intiem en verteenwoordig beide elemente van Agape en Eros. Christus se nabyheid word beskryf as so naby as wat ‘n beminde kan wees. Hierdie noue band is so heg dat ek as die geliefde sy nabyheid, sy vorm en sy stem sal weerspieël. Hy word meer en ek minder. As iemand aan my dink, sal hulle Christus se teenwoordigheid in hul harte hê. St Patrick se Lorica roep Christus om in alles te wees, in alle mense en in alles om hom. (Sien die teks hierbo) 

Heelwat van Arvo Pärt se musiek word in films gebruik en The Deer’s Cry is geen uitsondering nie. Hierdie borsplaat wat St Patrick gebruik om hom en sy volgelinge van alle gevare te beskerm, word ook in die 1994 Hongaarse film SÁTÁNTANGÓ gebruik. Hierdie swart-en-wit film duur sewe ure en handel oor die val van Kommunisme. In die film word die lang, gevaarlike en eensame nagtelike pad van ‘n jong seun deur die wildernis met hierdie musiek begelei – en die rol van die borsplaat as beskerming op treffende wyse uitgebeeld en verklank.

Pärt fokus op die natuurlike boklanke van die musikale toon en gebruik geen twaalftoonmusiek soos hy geleer word nie en ook nie, in sy eie woorde, op die postmoderne kakofonie van die diskonneksie nie. Die drieklank vorm die basis van al sy komposisies. Die partituur is minimalisties en eenvoudig: ‘n Vierstemmige a capella-koor. Ek wil nie in té veel detail ingaan nie, maar die volgende is interessant. Met die woorde: “Christ before me”, neem die soprane die leiding terwyl die ander stemme aanhou met “Christ with me” – soos ‘n mantra. Met die woorde “Christ beneath me” sing die tweede soprane ‘n derde onder die melodie. Dan ook, die soprane sing ‘n A terwyl die res van die koor die hele akkoord rondom daardie A vorm met die woorde: “Christ beneath me, Christ above me, Christ on my left, Christ on my right” – die enkele toon word omring, verswelg deur die natuurlike drieklank.

Pärt gebruik ook staccato en dit sou kon dui op die takbok se huppelende beweging. Die musiek is nie swaar nie. Dit beweeg, al is dit ook haltend. Die gebruik van die asemhaling, die stilte en die woorde maak dit vir die luisteraar moontlik om die woorde in die oomblik aktief mee te maak. Die natuurlike asemhaling is geskoei op die natuurlike ritme van die woorde. So skep die komponis ‘n ruimte vir ons, die sangers, die luisteraars en die mens, om Christus waarlik tussen ons te hoor en te omhels. Ons ervaar die liefde, natuurlik en ook getransendeerd. Vir Pärt is die teks van kardinale belang. Hy sê: “The Word lies at the heart of it all, since without the Word, nothing would exist. I believe that this concept should not only be conveyed by the text but in every note of the music as well, in every thought”. Hy sê: “the Word writes my music”. Pärt se toonsetting van hierdie teks toon dan ook geen begin en einde nie – die musiek, soos die woorde, hou eenvoudig aan.   

Christus met my, Christus voor my, Christus agter my,

Christus in my, Christus onder my, Christus bo my,

Christus aan my regterkant, Christus aan my linkerkant,

Christus wanneer ek gaan lê, Christus wanneer ek sit,

Christus in die hart van elke mens wat aan my dink,

Christus in die mond van elke mens wat van my praat,

Christus in die oog wat my sien, Christus in die oor wat my hoor.


Arvo Pärt  |  Foto oorgeneem uit https://www.ecmrecords.com/artists/1440482618/arvo-part