Blog

Swart stam, maar groen kroon die boom

 26 Nov 2020  Gerda-MariĆ© van Rooyen   Bedieningsbegeleiding

Vroegoggend hoor ek hoe druppels op die afdak bo die deur na buite bokspring. “Dankie, Heer,” roep ek tot my man se ontsteltenis uit. Die trane wat van my wang biggel, laat hom verward. “Is dit nie wonderlik nie?” vra ek. “Vir die derde aand in ‘n ry kom seën die Here ons met Sy gieter. Ek is baie bly vir die boere,” verduidelik ek. Dit is immers net die Here wat herstel kan bring. Baie mense het vir Boshof en haar omgewing gebid nadat die gebied vir ‘n week onder verwoestende brande deurgeloop het. As iemand vir Andreas gevra het wat hulle kan doen om te help, het hy geantwoord: “Bid net vir ons.”

Danksy die land se gebede en welwillendheid is Boshof met vragte vol voer, bokse en bottels water  uit alle windrigtings geseën. Selfs meubels en klere is by die kerksaal afgelaai hoewel slegs een huis, waar die vermoorde Van der Berg-egpaar gewoon het,  afgebrand het. Genadiglik was dit onbewoon. Met mans wat met rukke langer as 24-uur brand geslaan het, die vuur se wind wat onpeilbaar was en talle vlakvarkgate oor die reuseveld waarin bakkies in kon vassit, was daar geen lewensverlies nie. Getuienis op getuienis is vertel hoe die vuur reg rondom van die plaashuise gebrand het. Ongelukkig het ons veeverliese, maar van die boere het reeds beloftes van diere gekry.

Een boervrou vertel in elkeen van hul tien kampe is daar gras wat nie gebrand het nie en waar van die diere kon saambondel. Drie weke gelede het daar op die gietswart gebrande vlaktes nog hier-en-daar ‘n karkas gelê. Hierdie week staan die gras soos 'n nuuskierige kleuter sigbaar. Die veld se dankbaarheid teenoor 10 mm reën was genoeg om selfs die roet wat op baie boere en inwoners se gemoed gelê het, te breek. Gister stuur die boervrou van die veld wat plek-plek ontvlugting vir wild gebied het, vir my ‘n foto met die woorde: “Die boom is swart gebrand, maar die mooiste groen blaartjies kroon die boomtop.” Haar boodskap bemoedig my. Daar is altyd hoop. Ds. Muller Oosthuizen het al die pad van Williston gery om bederfbokse vir boere vanaf sy gemeentelede te bring. Williston, die plek wat al agt jaar onder droogte gebuk gaan. Vir baie Boshoffers. Oud-Boshoffers en ander landsburgers het die brand hoop gebring. “Ek het gedink ek is klaar met die mensdom, maar toe sien ek daar is nog hoop vir ons,” het bekendes en wildvreemdes die laaste tyd gesê. Ek het ook opnuut hoop.

Boshoffers het broodjies in die middernagtelike ure toe die vuur op sy felste was, gesmeer en aan die brandvegters verskaf. Organisasies, waaronder die Vrystaat Sinode, en ander gemeentes in die omgewing het skenkings gemaak en hulp aangebied. Sommiges het selfs van Pretoria, Bloemfontein en Somerset-Wes gekom om ‘n handjie te kom bysit. Dié omgeedaad het die boere oorbluf. “Ons het gedink ons staan alleen,” het een boer teenoor Andreas gebieg. Die mense van Boshof voel so geseën soos die veld met reën. Ons het só mildelik ontvang dat ons voer en bederfbokse na ander dorpe in nood kon stuur. Dit strook met ‘n profetiese woord wat party mense gekry en gedeel het; “die brande is die begin van herlewing vir ons land.” Ek sê “amen.” Mag dit so wees, Heer. Laat die verskroeide aarde wat korrupsie en selfsug in ons land laat, deur herstel wat voeding vir siel en liggaam bied, vervang word. Al is ons stam swart, laat ons deur goeie oorwin word en liefde ons dade omsoom.

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van die NG Kerk Vrystaat nie.
Nuutste Artikels