Blog

Storie van Hoop - NG Clocolan

 26 Nov 2020  Ds Elandré Swartz   Dis ‘n Ring-ding

Dit is seker al teen hierdie tyd ‘n cliché om te praat van die COVID-19 pandemie en wat dit aan ons land en aan die wêreld gedoen het, maar ek wil tog hierdie storie van hoop met die lesers deel.

Ek is predikant by NG Clocolan.  Toe die pandemie ons getref het, het ons almal gehoop dat die wêreld tog net tot stilstand sal kom, vir drie weke vakansie neem, en die virus dood wag.  Ongelukkig het dit nie gebeur nie en was die virus steeds al soekende na slagoffers.

Die pandemie het veroorsaak dat almal maskers moes dra, hande was en onbekende afstande handhaaf, die ekonomie geval het, sommige besighede net specials verkoop, ander besighede weer hul deure moes sluit, hospitale slegs kritiese gevalle hanteer, kerk deure moes toemaak en aanlyn bediening moes begin, bejaardes ingehok bly, mense werkloos raak en op soek is na voedsel en klere, en selfs dat sommiges ons finaal groet...

Dit was die realiteit vir elke dorp, stad en land...  Maar dit was nie alles net een groot donker tonnel sonder einde nie.  Dié tonnel het ‘n lig aan sy einde.

Tydens die erge inperkinstyd was Cloc-Inn, Clocolan se aftree-oord, so streng met die reëls dat niemand kon ingaan om die inwoners te beosek nie.  Slegs personeel was toegelaat op die perseel.  Weeklikse en maandelikse inkopies moes by die ingang vir die personeel oorgehandig word waarna dit moes gesaniteer moes word.  Dieselfde reëls het gegeld vir Hlohloane Jeugsorgsentrum.  Die probleem was dat die voedsel voorsiening beperk was en die winkels se rakke leeg.

Gelukkig het Makoadi, ons plaaslike groenteverskaffer, ‘n wonderlike gemeenskapsprojek geloods.  Al die groente wat nie op die mark verkoop kon word nie, is vrylik geskenk aan die gemeenskap, veral die behoeftige gemeenskap.  Mense het met hulle bakkies en trokkies opgedaag en dit so vol gelaai dat hulle voertuie lyk soos ‘n tipiese City Golf “sonder agterste skokbrekers”.

Ek en ander mense uit ons gemeente en gemeenskap het vragte vol groente gelaai en aan die aftree-oord sowel as aan die kinderhuis geskenk.  Die blydskap op die personeellede se gesigte was onbeskryflik.  Om nie eens te praat van albei instansies se inwoners nie!

Hierdie verhaal lê my na aan die hart, want dit wys vir my hoe God se liefde sigbaar is in mense se harte en optrede.  God se liefde het hoop gegee.  Hoop wat niemand verwag het nie, maar wat almal voor gehoop het.  Ten spyte van wat die pandemie veroorsaak het, wys hierdie verhaal vir my dat God veel groter is as enige “kleine aardse probleempie”, al voel dit vir ons soos ‘n berg.

Wanneer ons ons hoop op Hom vestig, SAL Hy voorsien soos wat Hy telkemale vir ons beloof in Sy Woord.  God laat ons nooit alleen nie, daarom moet ons Hom ook nooit los nie.

Romeine 5: 3-5: 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

Nuutste Artikels