Blog

Steeds omgeef Alfa, Omega ons

 5 Jan 2021  Ds Jan Lubbe   Algemeen

Daar is ’n tyd om gebore te word, van blydskap te dans, te omhels. En daar is ’n tyd om te sterf en te treur, ’n tyd sonder omhelsing, soms oorlog. Só lui die woorde van die Prediker oor tyd, kunstig bepeins: Sewe woordpare, 14 reëls oor wat tussen die begin en einde van ’n mens se lewe lê.

Nie oor ure of jaartalle nie, maar oor wat ín die tydsverloop gebeur en wéér kan gebeur. Tydlose woorde, noudat die skrikkeljaar 2020 omgekantel het na ’n onbekende 2021 en ons ons tyd op die skaal van Prediker 3 afweeg.

Watter soort tyd beleef ons?

’n Mens huiwer om die vraag te antwoord. Ons is kinders van ons eie tyd, vergeet maklik agtertoe en ken skaars ’n tree vorentoe – hoe kan ons nóú al sê wat 2020 in die groter tydslyn van ons lewensreis of landsgeskiedenis was?

Historici skryf daar was vréésliker jare om in te leef. Soos 536 AD, toe ’n ontsaglike vulkaanuitbarsting die noordelike halfrond in skemerte gedompel het; geen son, somer of oeste en toe ’n builepes wat 25 miljoen lewens eis!

Nader tuis, lees Jan F. E. Cilliers se oorlogsdagboek oor die uitsiglose oorgang van Desember 1901 na Januarie 1902, ’n bitter einde op die verskroeide vlaktes. Tog is
Covid-19-sterfgevalle die afgelope tien maande in ons land meer as die vroue, kinders en bejaardes wat in wit konsentrasiekampe tydens daardie oorlog gesterf het: 27 927.

Afgetel na ’n individu: Vir tannie Marie Venter in ons gemeente, wat nie weer vir oom Jan kon sien ná die ambulans hom Covid-hospitaal toe geneem het nie, sal 2020 die Jaar van Onafgroet bly. Mense sonder woorde gelaat, dis al. Nóg is’t het einde niet, hoe graag ons ook wou sê “voorspoedige Nuwejaar”.

Ons beleef ’n oorgangstyd – hierdie jarepaar 2020-’21 – van wat was na wat kom; lewe vóór Covid en daarná, wanneer dit ook al sal wees.

Vriende wat erg siek was van Covid sê jy is nie meer dieselfde; behalwe die impak op jou gestel, moes jy in benoudheid die woord “verganklik” bedink.

Tydelikheid. In ons stad is ’n era verby: Die dieretuin gesluit; die Cheetahs oor die kantlyn geskop; die laaste Volksblad van papier, toegevou.

Vir die Klas van 2020 ’n grensjaar van ontnugtering: Soveel na uitgesien, soveel frustrasie om net klaar te kry!

Ons grootmenswêreld ontmasker: Hoe pretensieus vyfjaarplanne was; hoe min ons die Onbekende kan beheer; hoe sleg ons vaar om vryhede verantwoordelik te hanteer; hoe magsbehep onbevoegde regeringslui kan raak; hoe gieriges Covid-noodfondse sal steel; hoe enorm die ellende van armoede;  hoe gou onverdraagsaamheid in geweld oorslaan; hoe vlak rassisme onder die vel lê; hoe ons enigiets in WhatsApp-groepe glo en aanstuur;
hoe haastig selfgewaande predikers Bybeltekste gryp om als onbekend te verdoem; hoe tragies kleinwêreldse kerktwiste in só ’n tyd is.

Maar, dit kan óók wees dat in die stil, ingeperkte oorgangsdae ’n nuwe bewussyn in ons gebore word: Die aarde kan sonder ons klaarkom, lug en water skoner. Geen nasie kan alleen great wees nie, ons is aan mekaar verbind.

Ideologie en fopnuus hou nie stand nie, die waarheid maak vry. Goeie wetenskap is essensieel, ook dapper dokters, verpleegsters en onderwysers.

As die staat kerkdeure sluit, gaan kerkmense strate toe met komberse, sop en brood. Burgerlike gemeenskappe wat hande vat kan hulself ophelp. Die wiel van geregtigheid draai stadig, maar seker; joernaliste en juriste kan ’n demokrasie beskerm. Dikwels begin dit by ’n individu wat kalm bly en reg gedoen het.

Ons is klein en broos, weet ons nou, maar saam kan ons ’n verskil maak. Laat ons moed hou! Ons kán, as ons onthou dat selfs in ’n onvaste tyd, ons van die Alfa en Omega omgewe is, die Skepper van tyd en ruimte, wat ook heet: Immanuel.

Dié dae is nie leeg.

Nuutste Artikels