Blog

Skriba van ons moderatuur, Leon M Foot

 6 May 2022  Mariëtte Odendaal   Leer ken die Moderamen

"Ek het geleer: People don’t care how much you know, until they know how much you care." 

Dis nogal ’n riem onder die hart om te weet dat ons nuwe skriba, Leon Michael Foot, buiten om predikant te wees, ook baie ander passies in sy lewe het. Dit maak van hom ’n ryk-geskakeerde persoon – iets wat van kardinale belang is in ’n wêreld waar ’n mens as geestlike leier wydbelese en aan soveel wêrelde moontlik blootgestel moet wees.

Leon, wat ook ’n opgeleide lewensafrigter (life coach) is, lees graag nie-fiksie, veral (auto)biografieë en bederf homself deesdae met audioboeke wat hy graag luister as hy die pad na Bloemfontein toe aanpak. Hy is ook sedert 1977 radio-amateur met die roepsein ZS4Y en het al met meer as 250 lande kontak gemaak en ook met ruimtevaarders op pendeltuie gesels. Hy is ’n ywerige fotograaf, het al ʼn paar fotografie-kursusse agter die blad en het vir hom onlangs ’n Nikon D750-kamera aangeskaf. Hy waag ook deesdae sy hand (saam met sy jongste seun) aan mesmaak en het onlangs sy eerste knipmesse gemaak.

Maar waar het alles begin?

Leon Foot is ’n gebore Kapenaar; hy is in 1961 in Kaapstad as die middelste van drie seuns gebore en het in die suidelike voorstede grootgeword. Hy voltooi sy matriek aan die Hoërskool Zwaanswyk in Retreat.

“Ons het eenvoudig grootgeword,” vertel Leon. “My pa het aanvanklik by ʼn motorhawe gewerk en later op die Suid-Afrikaanse Spoorweë. My ma was die grootste deel van haar lewe ʼn huisvrou. Ek was die eerste een in die gesin wat ná skool gaan studeer het.”

Daar is mense wat in ’n kind se vormingsjare ’n bepalende invloed op hul geestelike ontwikkeling het. In Leon se geval sonder hy veral meneer Reynecke, ’n onderwyser wat in die laerskool sy Sondagskoolonderwyser was, uit. “Sy klasse het nooit opgehou voordat die ouers nie aan die deur kom klop het nie,” vertel Leon. “Vir die ander was dit dalk sleg, maar ek het aan sy lippe gehang. Hy het waarskynlik (naas my ouers) die eerste groot geloofs-invloed op my lewe gehad.”

Die kerk was van kleins af deel van Leon se lewe. Hy vertel: “Die NG Kerk Van Riebeeck-gemeente in die Kaapse Skiereiland het elke jaar ʼn kosstalletjie by die Goodwood Skouterrein beman. Dan het die gemeentevroue kos in die kerkkombuis gemaak en is dit aangery na die skouterrein. My ma was baie betrokke daarby.

Sondae is ons kerk toe – betyds, anders sit die Stemmets op ons bank! My pa het gewoonlik Sondagoggende gewerk en dan het ons weer die aand kerk toe gegaan. My ouers was hierin vir my ʼn goeie voorbeeld.

Vrydae was dit Kinderkrans en ek het dit getrou bygewoon. Ek het selfs nog ʼn litteken op my arm waar ek dit deur die glasdeur gestamp het toe ons een dag effe haastig die saal wou verlaat!”

Leon se besluit om predikant te word, het as volg verloop: “Toe ek in Standerd 8 (Graad 10) was, was ons gemeente vakant. Ek kan goed onthou hoe ek in daardie tyd een aand in die kerk gesit en die oortuiging gekry het om predikant te word. Tot op daardie stadium het my kop nog in ’n wetenskaprigting gestaan. Later daardie jaar het ons ʼn nuwe leraar, ds Zach Blomerus (nou emeritus in Kimberley) gekry by wie ek die volgende jaar in die finalejaar-katkisasieklas was. Ek het ʼn baie sterk band met hulle as gesin ontwikkel en hy het my lief gemaak vir die Belydenisskrifte. Hy was ook die een wat my die eerste keer, op my eie (en lisensie-loos!) met sy kar laat ry het!”

Leon begin in 1979 sy BA (Admissie) aan die Universiteit van Stellenbosch met Sielkunde en Filosofie as hoofvakke. Hy verwerf daarna sy BTh en Lisensiaat, en daarna sy MTh (kliniese pastoraat) met prof Danie Louw as studieleier. In 2013 verwerf hy sy PhD in praktiese teologie aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy navorsing het gehandel oor wit NG Kerk-lidmate en apartheid. Die tema was: Lewe na apartheid: Lidmate se narratiewe vanuit ’n longitudinale pastorale betrokkenheid.

“Op kweekskool was ons bevoorregd om besondere dosente te kon hê waarvan Flip Theron en Willie Jonker seker die mees uitstaande was,” vertel Leon. “Ons het net te min klas by hulle gehad. Gelukkig het hulle boeke as nalatenskap vir my groot betekenis. Ek onthou dat Flip Theron in die Kerkbode ʼn lang, ingewikkelde artikel oor geloof en redding afgesluit het met: God se genade is nie afhanklik van ons verstaan daarvan nie. Dít was ʼn Halleluja-oomblik vir my.”

“Prof Danie Louw was te slim vir ons as studente (probeer maar sy boeke lees), maar sy manier van bid sal my altyd bybly. As hy in die klas gebid het, het dit vir my geklink of hy net die volume opdraai sodat ons ook ʼn deel van sy voortgaande gesprek met God kon hoor. Ná die ‘Amen’ draai hy die volume vir ons af, maar hy en God praat verder.”

Leon is al vir 33 jaar predikant by die NG Kerk Welkom-Suid; aanvanklik as een van vier leraars, maar tans een van net twee. “Ek het vroeg in my bediening besef dat baie meer van die kerk se werk agter die skerms gebeur as wat ons besef,” vertel Leon. “Daarom was ek nog altyd bereid om my kant te bring in kommissies en taakspanne. Aan die begin van my bediening was ek baie betrokke by verskillende barmhartigheidsdienste, maar die laaste twee dekades was dit veral op die terrein van finansies waarby ek betrokke was.”

Tans is Leon die skriba van die Algemene Sinode se Taakspan Finansies en Bates asook voorsitter van hul beleggingskomitee. Tot voor die Vrystaat se Sinodesitting in Maart was Leon ook die voorsitter van die Taakspan Ondersteuning en van die trustees van die pensioenfonds. Hy dien nou in sy vierde termyn op die moderamen – dalk ʼn rekord.

In 2008 het Leon twee hoofstukke geskryf vir die boek Christenleiers onder redaksie van Braam Hanekom en Jannie le Roux. Een van sy kinderpreke is ook opgeneem in Annes Nel se boek, God sorg vir ons. Leon het vir ʼn hele aantal jare ook ʼn e-posbediening gehad waar hy weekliks ʼn boodskap na 1 100 mense in Afrikaans en Engels gestuur het – “ʼn baie bevredigende, maar uitputtende werk.”

As predikant is dit natuurlik ook belangrik om geestelik gevoed te word deur die denke en insigte van ander teoloë. Leon vertel: “Ek lees wyd en vind aanklank by die meer praktiese werk van eietydse teoloë soos Jan Du Rand, Adrio Konig, Piet Naudé en Stephan Joubert.

“Vir my doktorale studie het ek baie gelees oor apartheid en veral oor hoe ander mense dit beleef het, soos Desmond Tutu en Beyers Naude (wat ek ontmoet het), ook Piet Meiring, Van Zyl Slabbert en Nico Smith by wie ek vir een kwartaal in die Kweekskool klas gehad het voordat hy die beroep na Mamelodi aanvaar het. Al hierdie skrywers help gee aan my insig oor hoe die meerderheid mense van Suid-Afrika oor die verlede en ons as wit Christene dink en voel. Ek lees ook graag wat Moeletsi Mbeki, Mamphela Ramphele en Richard Osmer skryf.

“ʼn Skrywer wat ek later in my lewe ontdek het, is Manie Malan, predikant van Kameeldrif. Ek het hom nooit ontmoet nie, maar sy beklemtoning van die objektiewe karakter van die geloof het my sterk aangespreek. Hy kon met eenvoudige woorde moeilike teologie maklik verstaanbaar maak. Ek gebruik nou nog sommige van die artikels wat hy geskryf het.

“In terme van leierskap is John Maxwell ’n uitstaande skrywer. Ek het ʼn halwe rak van sy boeke – net van Berkouwer het ek meer. Ek was van 2003 tot 2005 ook betrokke by Maxwell se Million Leader’s Mandate en het gehelp om van die materiaal in Afrikaans te vertaal.”

As ’n mens vir Leon vra watter raad hy ten opsigte van sy lewens- en beroepservarings aan voornemende – of praktiserende predikante kan gee, antwoord hy as volg: “Ten diepste is alle mense dieselfde. Ons kan uiterlik verskil en voorgee, maar diep binne-in is ons almal eenders. Seer is seer – of jy slim, ryk, geleerd, vernaam, of wat ook al is. En ons het almal seer. En daarby is ons nie een volmaak nie, al gee ons voor om dit te wees. Geen huis is sonder sy kruis nie, en elke huwelik het sy uitdagings. Ek het geleer: People don’t care how much you know, until they know how much you care. Die mense vir wie ek die meeste kon doen, was hulle met wie ek ʼn goeie, persoonlike verhouding opgehou het. My eie lewe leef ek met die motto: In U hande is ek veilig (Ps 23:4). Ek skryf dit elke jaar voor in my dagboek, saam met Luther se Ek is gedoop!

Leon is pas aangestel as die nuwe skriba van die Sinode Vrystaat. Vra jy hom wat hy as sy grootste uitdagings in hierdie posisie beskou, antwoord hy as volg: “Eerstens wil ek verwys na ʼn baie bekwame voorganger, Carin van Schalkwyk, wat ʼn goeie rolmodel was. Dis jammer dat sy nie meer daar is om my van raad te voorsien nie. Die skriba se werk is dikwels meer agter die skerms, maar selfs daar moet goeie werk gedoen word. ʼn Eenvoudige taak soos die akkurate hou van ʼn notule raak later uiters belangrik as daar byvoorbeeld ʼn dispuut ontstaan.

“Die spanning wat die Algemene Sinodesitting van 2019 se besluit oor Selfdegeslagverhoudings  (SGV) gebring het, gaan vir die afsienbare toekoms die kerklike gesprek oorheers. Dit gaan waarskynlik die oorheersende tema in die komende termyn wees. Ongelukkig is daar by sommige rolspelers nie ruimte vir ander sienings as hulle eie nie. Dit is hartseer dat ons so in die kerk met mekaar omgaan. Oor ander etiese kwessies verskil ons gemakliker met mekaar, soos oor die doodstraf, slawerny, egskeidings en hertrou, maar as ons oor SGV praat, wil ons die kerk skeur.”

Oor die volgende geslag predikante het Leon die volgende te sê: “Dis ʼn ander, onseker wêreld wat hulle betree. Die sekerhede wat ons gehad het – soos dat jy waarskynlik ʼn onbepaalde termynpos sou kry – bestaan nie meer nie. Die meeste van hulle gaan in vaste-termynposte wees wat minder sekerheid oor die toekoms gee. Dit is grootliks as gevolg van dalende lidmaatgetalle en die gevolglike laer bydraes omdat lidmate in die COVID-tyd geleer het om buite die kerk te leef: Boodskappe op sosiale netwerke het baie se koinonia verdring. En ek dink nie ons gaan die meeste van hulle in die eredienste terugkry nie. COVID-19 het die kerk gesuiwer van baie droë hout.

“Aan die ander kant is ek baie opgewonde oor die jong leraars, want hulle gaan ʼn nuwe geslag gelowiges begelei om anders kerk te wees as in die verlede. Die goue era van die NG Kerk (in terme van geld, getalle en invloed, en ook die planting van kerke in Afrika) is verby. In die toekoms gaan die kerk baie kleiner, maar ook sterker wees. Om in die toekoms lidmaat van die kerk te wees, gaan meer toewyding as in die verlede vra. Die dae dat iemand ʼn lidmaat is omdat sy of haar ouers lidmate was, is verby. Gelowiges gaan lidmate word omdat hulle lidmate wíl wees. Die een groot uitdaging waarmee die huidige NG Kerk sukkel (en wit mense in die algemeen), is om as minderheid in Suid-Afrika te funksioneer. Al was ons nog altyd ʼn minderheid, het die politieke mag van voor 1994 ons ʼn rol gegee asof ons ʼn meerderheid was. Nou moet die kerk leer dienskneg wees.”

En wat is Leon se droom vir die kerk in die Vrystaat en ook vir Suid-Afrika? “Die pandemie was in baie opsigte ’n baie slegte ervaring, maar vir die kerk was dit ʼn suiwering. Ek dink dat baie mense uit gewoonte lidmate was, maar nooit werklik ’n verhouding met Jesus Christus gehad het nie. My droom is dat elke lidmaat se hart sal brand vir die evangelie van redding; dat mense om daardie rede by ’n gemeente sal aansluit en om daardie rede ʼn verskil sal maak waar hulle beweeg. Volgens statistiek is byna 80% Suid-Afrikaners ‘Christene’, maar ons het ook die hoogste misdaad-koers in die wêreld. Dit klop nie en maak ʼn bespotting van die term ‘Christen’. Die opsê van ʼn sondaarsgebed alleen maak jou nie ʼn Christen nie.

“Ons sal slegs dit kan bereik as ons mense aan die evangelie van Jesus Christus voorstel – die lewensveranderende genadige redding van ʼn sondaarmens en nie kerklidmaatskap aan hulle verkoop nie. Met ander woorde: Back to the basics. Die kerk is mense wie se lewens verander is deur Christus se kruisdood – as dit nie jou lewe verander het nie, verstaan jy dit nog nie. As jy nie net so opgewonde kan raak oor die evangelie as oor Saterdag se rugby nie, dan verstaan jy nog nie die evangelie nie!”

Leon is al byna 40 jaar gelukkig getroud met Sarie, ʼn laerskoolonderwyseres. Hulle het drie volwasse seuns, Marius (met sy vrou, Jana), Stefan en Jaco. Deel van die gesin is ook hul twee honde, Zorro (’n Saint Bernard) en Yoli (ʼn Yorkie).

Foto deur Tertius Botha: Dr Leon Foot, Bloemfontein Sinodesitting 2022.