Blog

Sinodesitting – ons GPS in lyn met Onse Vader

 18 Feb 2022  Mariëtte Odendaal   Visionering

Vanjaar se sinodesitting gaan in vele opsigte anders wees – soos ’n koel briesie oor warm, uitgestrekte woestynvlaktes sal dit jou (hopelik) aangenaam verras.

Behalwe dat dit so ekovriendelik moontlik aangebied gaan word, sal daar ook gepoog word om te besnoei waar moontlik en registrasie in lang toue is ook dié keer iets van die verlede. Ons praat hier van onder andere ’n papierlose vergadering waartydens daar ook so min moontlik plastiek gebruik gaan word, twee in plaas van drie etes per dag en QR-registrasie met jou selfoon.

Sinodesittings is egter, ten spyte van die enorme koste daaraan verbonde, dié belangrikste vergadering op ons kerkkalenders. Ons redakteur en ook skriba van ons sinode, dr Carin van Schalkwyk, verduidelik: “Die konsep van ’n sinodesitting vind ons vir die eerste keer in die boek Handelinge. Dit was nadat daar die teologiese vraag ontstaan het of gelowiges uit die heidendom besny moet word. Mettertyd het hierdie vergadering van gemeentes ook deel van die gereformeerde kerkstelsel geword, omdat die gesag by gemeentes en hul plaaslike kerkrade lê. Gemeentes word dan saam gegroepeer om ’n ring te vorm. Die taak van die ring is hoofsaaklik om gemeenskaplike werksaamhede te doen waar die gemeentes nie die werk op hulle eie kan doen nie. Verder hou ringe toesig oor die leer en lewe van plaaslike kerkraadslede. In ons geval is die Sinode van die Vrystaat ’n samestelling van al die gemeentes in die Vrystaat en vind vierjaarliks plaas.”

Die doel van so ’n sinodale vergadering is van onskatbare waarde; dis soos ’n Dakar-wedren in ’n uitdagende woestyn waar die kerk telkens weer moet gaan GPS of sy nog op die regte spoor is. Die tema is vanjaar juis ‘Onse Vader wat in die hemel is, laat u naam geheilig word, laat u Koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op aarde’.

“Die sinodesitting gee vir ons die geleentheid om saam te besin oor hedendaagse kwessies,” verduidelik Carin. “Dit is ook ’n vergadering waartydens leierskap verkies word om op die besture van bedieninge of werksaamhede te dien. Op hierdie vergadering word dan ook die leierskap verkies wat in die tyd wanneer die sinode in reses is, bestuursbesluite moet neem; hulle word die Moderamen genoem. Uit die Moderamen word daar lede afgevaardig na die Algemene Sinode se moderatuur om die Sinode van die Vrystaat daar te gaan verteenwoordig. Tydens ons plaaslike sinodesitting word daar ook ’n begroting goedgekeur wat ten doel het om gesamentlike werksaamhede van die sinode te finansier. Hierdie werksaamhede is só omvangryk dat dit nie op gemeente- of ringsvlak gedoen kan word nie.”

Dit is dus van groot belang dat elke gemeente op die sinodesitting verteenwoordig moet word en dat afgevaardigdes die doel van hul verkiesing deur hul betrokke gemeente deeglik moet begryp. Carin verduidelik: “Dit is vir my jammer dat gemeentes soms sukkel om te snap dat ’n sinodesitting ’n geestelike en geloofsonderskeidende vergadering is waar daar ten diepste  geluister en gesoek moet word na die wil van God. Wanneer iemand afgevaardig word om ’n sinodesitting by te woon, word jy nie gestuur om jou gemeente se standpunt te gaan stel nie. Jy is deel van ’n nuwe vergadering en in hierdie vergadering is jy deel van ’n groep ander medegelowiges wat saam luister en geloofsonderskeidend soek na die pad wat die Here vir die sinode wil wys.”

Dis egter nie altyd so maklik om op so ’n sinodesitting by ’n duidelike antwoord uit te kom nie. “As ’n mens na die eerste sinodesitting in Handelinge kyk, sal jy sien dat daar afgevaardiges met sterk opinies opgedaag het,” vertel Carin. “En toe hulle nie tot konsensus kon kom nie, het hulle gebid en gevas … Daarna is besluit dat nuwe gelowiges uit die heidendom nie besny hoef te word nie, want hulle het met hul bekering en doop reeds die Heilige Gees ontvang. Wat hier gebeur het, is dat die gebed en vas hulle gehelp het om te verstaan dat dit oor die ontvangs van die Heilige Gees gaan en nie oor uiterlike tekens en gebruike nie. Dit is dus belangrik dat daar by julle as afgevaardiges die bereidheid moet wees om saam met mede-gelowiges van wie julle dalk radikaal verskil, ten minste saam te kan bid en vas tydens die vergadering se soeke na God se wil”.

“Afgevaardigdes moet weet dat dit nie oor eie standpunte tydens ’n sinodesitting gaan nie, maar oor gesprek – nie net met mekaar nie, maar bowenal is dit ook ’n gesprek met God,” verduidelik Carin verder. “Dit gaan nie net oor praat met God nie, maar veel eerder om fyn te luister na die stem van God. Dit gaan daaroor dat ons onderlinge standpunte verreken en daaroor met mekaar sal praat. Dit gaan daaroor dat ons biddend sal luister na die Woord van God en dat ons in die lig van wat ons in die Woord van God en in die konteks waarin ons onsself bevind, besluite sal neem wat deur die Heilige Gees geïnspireer is.”

Afgevaardiges behoort hulle nou al voor te berei deur op ’n daaglikse basis in gebed te gaan:  Aan die een kant vir die komende sinodesitting, en aan die ander kant vir elke afgevaardigde. Bid vir ’n gees van onderskeiding en openheid om te luister na mekaar. Doen dit sonder om mekaar verdag te maak of te etiketteer; waak daarteen om mekaar nie as mede-gelowiges te beskou nie net omdat jy dalk dink dat jy alleen reg is.

“Op ’n praktiese vlak moet afgevaardiges ook verstaan dat hulle goed voorbereid na die sinodesitting moet kom,” verduidelik Carin. “Dit beteken dat hulle die agenda deeglik moet deurwerk en as hulle vrae oor ’n bepaalde saak het of ’n punt duideliker wil verstaan, dit klaar moet formuleer en dit binne drie minute op die vergadering kan stel. Hou in gedagte dat hierdie sinodesitting net drie dae duur. Dit is ten diepste ’n werksvergadering en die hele agenda word dus as gelese beskou.”

Sake wat brandpuntbesprekings op die sinodesitting gaan wees,is as volg:

  • Kerk en die verhouding tussen NG/Welsyn en ENGO. Wanneer praat ons van gemeentediakonaat en wanneer praat ons van statutêre werk en wie moet wat doen?
  • Gemeentes wat wil doleer en watter weg gevolg kan word om uit die kerkverband te tree.
  • Teologiese opleiding – is dit betroubaar? Laat ons na beide kante van die saak kyk en saam nadink.
  • Skrifgesag en die interpretasie van die Skrif. Hoe luister ons na die Bybel en wat maak ons daarmee?
  • Kleiner-wordende gemeentes en hoe om gemeenskappe te bedien wat hulle in hierdie situasies bevind.
  • Die kerk in 'n post-COVID-era.

Carin verduidelik waarom juis hierdie sake as besprekingspunte gekies is: “Die gesprek oor diakonaat is 'n gesprek wat lank reeds uitstaande is. In die laaste 20 jaar het wetgewing drasties verander; iets wat ons maatskaplike diensorganisasies baie direk raak. Die verandering in die wetgewing het ook meegebring dat hierdie organisasies hulle moes herposisioneer in terme van die kerk. Met verloop van tyd het dit al hoe meer gebeur dat hulle net residensiële en statutêre werk asook gesinsorgwerk vir die kerk begin doen het. Hulle is só oorweldig met die nood in gemeenskappe dat hulle sukkel om kop bo water te hou. Om sake by hulle nog meer ingewikkeld te maak, het die kerk ook haar diakonale pligte geabdikeer en nadenke oor gemeentediakonaat by ENGO se deur gelaat. Binne hierdie komplekse wêreld moet sake egter eers ontbondel en opnuut besluit word hoe dit in die toekoms gaan werk; wie vir wat verantwoordelikheid gaan neem. Hierdie saak raak die totale barmhartigheidsdiens van die Vrystaat, aangesien ENGO die grootste diensorganisasie in die Vrystaat is.”

“Die gesprekke oor kleiner-wordende gemeentes en die pad vorentoe in die NG Kerk word ook al 'n geruime tyd gevoer. COVID het die funksionering van alle gemeentes drasties geraak. Uit dit wat tans uitspeel, kan ons nie anders as om te sien hoe dit veral in klein gemeentes gebeur nie. Die COVID-pandemie het ook ons kerkbegrip verander en die vraag is nou: Hoe moet die NG Kerk haarself posisioneer ten opsigte van die volgende klompie jare om effektief gemeenskappe te kan bedien?”

Verslae oor ons sinodale werksaamhede is ook van groot belang, daarom sal daar by elke bedieningsverslag ook 'n kort video van hul werksaamhede gemaak en op die sinode se webwerf beskikbaar wees. Die hele sinode is in WhatsApp-groepe verdeel en die video’s sal ook daar versprei word.

Ons vra julle ernstige voorbidding vir ’n gees van onderskeiding sodat die Heilige Gees ons in ons besluitneming sal lei; dat ons met openheid na mekaar sal luister; dat ons oop sal wees om by mekaar te leer.