Blog

Sentrum vir Predikantebegeleiding 2022

 3 Jun 2022  Ds Gerhard Meyer   Predikante Netwerk

Van 9 tot 11 Mei het `n paar predikante die voorreg gehad om die Sentrum vir Predikantebegeleiding te Menuha by te woon. Dit was drie intensiewe dae waar daar deur middel van rollespel blootstelling gegee is aan van die uitdagings wat bediening in ‘n gemeente moontlik kan inhou. Hierdie rollespel het vir ons die geleentheid gegee om sterk- en swak-punte in jou eie benadering tot bediening te identifiseer en aan die hand van opvolggesprekke met die begeleiers was moontlike merkers neergesit vir groei vorentoe.

Die mooiste aspek van die sentrum was egter die saam kuier en eet. Geleenthede en gesprekke waar daar gerus kon word, idees en frustrasies gedeel kon word en verhoudings en vriendskappe versterk kon word. Die lewe van dominee wees is dikwels ‘n eensame lewe - ander steun en vertrou op jou, maar dit mag wees dat jy min plekke het waar jy ander kan vertrou en op hul steun. Al was dit net ‘n vyf minute-gesprek met iemand wat ook hierdie realiteit verstaan en ervaar, was dit vyf minunte wat jou in staat stel om die volgende vyf jaar met ‘n hernieude passie aan te pak.


Foto verskaf: Sentrum vir Predikantebegeleiding, Mei 2022

Nuutste Artikels