Blog

Só onthou ek en dááruit put ek hoop – dankie!

 18 Mar 2022  Ds Jan Lubbe   Visionering

Die 54ste Sinode van die NG Kerk Vrystaat – 293 sinodegangers uit 137 gemeentes – het verlede week onder moeilike omstandighede in Bloemfontein byeengekom. Ons was diep onder die indruk van ‘n tragiese oorlog in die Oekraïne, van lewensverlies en verwoesting. Iewers het iemand spontaan begin sing “Dona nobis pacem” en het die groot saal vol mense onbegeleid ingeval: “Here, gee ons vrede.” Ons was almal bewus van hoe dit in ons eie land en oor die Vrystaat heen gaan; die realiteit van beurtkrag al drie dae van die sitting! Verder was hierdie ‘n uitgestelde sinode: Covid-19 het ons die afgelope twee jaar van soveel werksaamhede weerhou en ook meegebring dat die agenda vir ons Sinode onder groot druk saamgestel is – nogtans, ‘n woord van dank aan dr. Bertus Celliers en al sy helpers! Voor in die agendaboek, die lang lys name van hulle wat heengegaan het. Alle gemeentes het verliese gely. Maandagoggend – die dag vóór die sinodesitting – dr. Carin van Schalkwyk, ons skriba, ná haar moedige stryd met kanker. Groeteboodskappe van die NG Kerk in Afrika en Laerskool Trompsburg het gespreek van hul meelewing hierin. En dan was daar die gespanne vraag in afgevaardigdes se gemoed: Hoe gaan ons besluite geneem kry oor sake wat tans besorgdheid wek en verdeeldheid bring onder lidmate en leraars?

In ons harte egter, het daar tóg ‘n stil vertroue geleef, vandaar ons gebed: “Ons Vader wat in die hemel is...” Elkeen van die drie dae sou in die teken staan van die bede oor die heiliging van God se Naam; oor die koms van sy koninkryk; oor die verlange na sy wil wat op aarde sal geskied. In sy openingswoorde het dr. Nico Dicks ons herinner aan Paulus se oproep in 1 Korintiërs 14:40 – “Laat alles gepas en ordelik verloop.” In sy groeteboodskap van die Algemene Sinode weer, het dr. Gustav Claasen ons tot ‘n getuienis opgeroep: “Staan op, laat jou lig skyn!” (Jesaja 60:1-2). Oudl. Willem Ellis het uit die Brief aan die Filippense waardes vir goeie gesprekvoering en luistervaardighede opgediep. Onder begeleiding van die NG Kerk Pellissier het ons Psalm 119 oor God se woord gesing; Psalm 134 oor God “wat beveel en dit geskied”; Lied 169 oor Sy heiligheid; Lied 488 oor hoe Hy balsem gee vir mense se wonde; Lied 528 – “Leer my u wil, Heer, u doel met my...”

Dít was die gees waarin besluite geneem is. Dinsdagmiddag reeds, ‘n duidelike belydenis deur die Sinode dat die Bybel vir ons die geskrewe Woord van God is, dat ons dit in samehang met sy Skeppingswoord wil lees; in verbondenheid aan Christus, die Woord wat mens geword het en lewe; soos wat die Heilige Gees ons in ons harte van die waarheid daarvan oortuig (Nederlandse Geloofsbelydenis, Art. 2, 5 en 10). Ons het erken dat daar verskille is in hoe ons die Bybel in ons onderskeie kontekste lees en vertolk, maar óók dat ons saam met mekaar na die boodskap van God aan ons – sy Kerk – wil soek. Daarom die besluit om ‘n studiegroep uit kerkraadslede, leraars en dosente saam te stel wat ‘n kort, toeganklike verklaring oor Skrifgesag en Skrifvertolking (ons hermeneutiek en etiese toepassing) sal skryf vir gebruik in gemeentes. Dit sal ook die basis word waarop ons verder oor aktuele teologiese- en etiese sake wil besin. In dieselfde gees het die Sinode haar opnuut verbind aan ons gereformeerde belydenisgrondslag, ván die Apostoliese Geloofsbelydenis tot die drie Formuliere van Enigheid. Wat glo ons oor God as Skepper; oor die persoon en werk van Christus, ons Verlosser; oor regverdiging en heiligmaking uit genade en deur geloof alleen; oor die eenheid van die Kerk? Soos ons met ‘n verantwoorde hermeneutiek die Skrif moet lees, só ook ons belydenisskrifte – wanneer dit, byvoorbeeld, oor die bestaan van die Bose en verlossing daarvan, gaan (Heidelbergse Kategismus, Sondag 52). Dit was teen hierdie agtergrond dat die Sinode ‘n tweede verteenwoordigende studiegroep aangewys het om ons te adviseer oor die kwessie van selfdegeslagverbintenisse (SGV). Die tafelgesprekke én oop debat daaroor het bevestig dat daar in die Vrystaat twee, drie standpunte oor die 2019-Algemene Sinode se besluite oor SGV en ‘n “ruim huis” leef. Gemeentes soek egter duideliker leiding. Dit geld ook vir die breër gesprek rakende kerkverband, dolering en Artikel 37 (‘n moontlike uittrede uit die Algemene Sinode). Beskrywingspunte wat deur gemeentes ingestuur is, is saam met ‘n verslag van die taakspan hieroor hanteer. Die Sinode het egter geoordeel dat ons nie tans voldoende inligting rakende gemeentesienings, prosedures en die implikasies van Artikel 37 het nie en is dit aan die Moderamen opgedra om ‘n gebalanseerde inligtingstuk op te stel en aan gemeentes deur te gee – nie later as teen September 2022; die tydraamwerk vir al vier bogenoemde sake en dus ruim vóór 2023 se Algemene Sinode.

‘n Verdere saak wat diskussie ontlok het, ook rondom die tafels, is teologiese opleiding en die toekoms van Woordbediening in gemeentes in die Vrystaat. Daar ís kommer oor getalle wat afneem en oor die uitdagings van Hoër Onderwys en opleiding in ‘n nuwe konteks. Maar net so was die Sinode bevoorreg om ‘n hartlike groeteboodskap van die Dekaan van die Fakulteit Teologie en Religie, prof. Rantoa Letsosa, te ontvang en is die oorsigtelike verslag van die Kuratorium en die Seminarium met dank aanvaar. ‘n Nuwe ooreenkoms is met die Universiteit van die Vrystaat oor ons opleiding gesluit. ‘n Groep besorgdes gaan wel, in oorleg met die Kuratorium en Algemene Kuratorium, verdere ondersoek doen oor toekomstige opleiding vir die NG Kerk.

Dit was weereens ‘n voorreg om veral Woensdag – toe ons oor die koninkryk van God gebid het – ‘n kleurvolle oorsig van die wye werksaamhede van die Vrystaatse NG Kerk te kry. Ons wil dankie sê aan ds. Barnard Steyn en medewerkers in al die netwerke ter begeleiding en ondersteuning van gemeentes en leraars. Die Bybelgenootskap het aan elke afgevaardigde ‘n eksemplaar van die 2020 Direkte Vertaling geskenk! Ons hét dankie gesê aan mev. Beneli Pretorius en alle vrouelidmate van die NG Kerk Vrystaat vir die geweldige rol wat hulle in gemeentes en gemeenskappe speel. Ons wil dankie sê aan dr. Nico Mostert en al die vennote naby en ver – Zambië en Japan – dat jul getrou die lig en hoop van die Evangelie in woord en brood blý deel. Ons wil dankie sê aan mnr. De Wet Claassens en personeel by ENGO wat meer as 200 000 mense, oud en jonk, regoor die Vrystaat voed en versorg. Daar is taakspanne aangewys om klein gemeentes te ondersteun en om digitale bedieninge te help ontwikkel in die tyd ná Covid. En die bediening vir Ondersteuning het ‘n nuwe sinodale begroting laat goedkeur; ‘n begroting wat alle gemeentes en ringe in staat stel om ‘n konkrete verskil in hul dorp of buurt te maak. Nuwe reglemente is aanvaar om nuwe bedieninge moontlik te maak...

Nou lê die dik agendaboek met sy heldergeel sonneblom voorop, deurgewerk en toegemaak. Ons het huis toe gegaan, terug na gemeentes regoor die Vrystaat. Persoonlik is ek diep dankbaar vir wat ek voor my oë sien gebeur het: Dat God ons nie aan onsself oorlaat nie, maar ons lei op nuwe weë na mekaar en na waar daar regtig nood is. Omdat Hy die Vader is aan Wie ons elkeen én die gemeentes én hierdie wye landstreek behoort. Nou, en tot in ewigheid.