Blog

Pelgrims op ʼn dwaalspoor?

 4 Feb 2022  Dr Martin Laubscher   Verbi Divini Minister

Die gebruik van die woord “pelgrimstog” in sommige kontekste is dalk misleidend – en mag iemand dalk net op ʼn dwaalspoor lei – en benodig myns insiens herdefiniëring. Kortom, waaraan dink ons as ons die woord “pelgrimstog” hoor?

Die HAT verklaar dit soos volg: “Persoon wat na ʼn heilige plek reis om daar te aanbid; bedevaartganger: pelgrims na Jerusalem/Mekka Lourdes.” Anders gestel: pelgrimstogte is wat Jode sou onderneem om verskeie keer in ʼn jaar na die tempel in Jerusalem te reis om daar te gaan aanbid by een of ander feesgeleentheid; of wat Moslems doen deur jaarliks op te ruk na Mekka; of Christene wat byvoorbeeld die Camino na Santiago de Compostela in Spanje stap. Vir baie mense klink dit daarom na iets super-religieus, baie godsdienstig (en dalk selfs té godsdienstig met té sterk assosiasies met ander godsdienste), en na ʼn lang en veraf geleë reis wat meestal deur ander mense onderneem word. 

Iets hiervan is natuurlik waar, maar uiteraard nie die volle waarheid nie. 

Om na ʼn erediens te gaan, veronderstel dat jy ook ʼn reis moes aanpak en op weg moes gaan. Om dit nou sommer kortweg en padlangs te stel: Om kerk toe te gaan, die erediens te gaan besoek, saam in-persoon met die gemeenskap van gelowiges fisies teenwoordig te wees (en hoe het ons dit nie die laaste twee jaar gemis nie), veronderstel dat jy ʼn pelgrimstog Sondag-na-Sondag moet onderneem. Dit vra ʼn fisiese inspanning, voorbereiding en beplanning, geografiese skuif en beweging van punt A na B, en uiteindelik weer terug die wêreld in. Die hele aanloop tot ʼn erediens vorm myns insiens ʼn integrale deel van ons erediensbelewenis. En so natuurlik ook die afloop. Sondagoggend en -middae se roetine weerskante die erediens is eenvoudig net anders as enige ander dag. Sondag se erediens veronderstel ons is almal pelgrims en op ʼn pelgrimstog. Ons is goed vertroude en ingeoefende pelgrims wat ken van ʼn gereelde/weeklikse reis na die samekoms van aanbidding in die geloofsgemeenskap. 

En tog, selfs al stel ons dit só, is ons miskien nog steeds op ʼn dwaalspoor. Daar is meer, veel en heelwat meer, aan ʼn pelgrimstog as net dit. Dit is tog immers ook nie só vanselfsprekend en gegewe nie. Enigeen wie dink pelgrimstog is bloot net ʼn staptog-of-selfs-enige-gewone-reis waarin ons fisies-kineties-uiterlik-geografies beweeg van punt A na B, maak ʼn reuse fout. Natuurlik gebeur dit ook, maar dit is tog nie al wat gebeur nie. Trouens, dit is nie die eintlike punt nie!

Die reis na buite veronderstel dat ons in wese na binne dieper wil gaan. Die uiterlike reis ontsluit die innerlike reis binne ons. Die fisiese, fisiologiese, uiterlike uitdagings aan enige pelgrimstog moet beslis nie onderskat of onderspeel word nie, maar dit is dalk niks in vergelyking met die innerlike, psigiese, emosionele, en geestelike uitdagings daaraan verbonde nie. Soos gholfers dit dikwels stel, “die moeilikste set in gholf is nie die afstand tussen my bal en die putjie daar op die setperk nie, maar die afstand tussen my twee ore.” Wat leef in ons koppe (lees: harte) is vir baie net een set of tree te ver. Kortom, die verwagting en bedoeling om na die erediens te reis, opnuut (weer) jou pelgrimsmantel en skoene aan te trek, is natuurlik om uiteindelik dieper na-binne in ons harte op weg te gaan.

Is daar nie in ons almal ʼn heilige onrus wat altyd verlang na meer nie? Wie hunker nie na tuiskoms, rus, gemeenskap, geborgenheid, bevryding, en heling nie? Of, gedagtig aan die woorde van Augustinus, “ons harte bly onrustig, totdat dit tuiskom en rus vind in U, o God”. 

Dr Martin Laubscher