Blog

Opknap van historiese bakens in Winburg

 18 Mar 2021  Dr Bertus Celliers   Algemeen

As jy in ‘n oostelike rigting van die N1 af mooi kyk sien jy Winburg se konsentrasiekampkerkhof waar dit teen ‘n “plato’tjie” lê. Reg onderkant die 487 grafte, waarvan die meeste kindergraffies is, is ‘n klompie Britse soldate begrawe. Opvallend in die kerkhof is die grafsteen van Alice Draper (gesterf 17/01/1902), wat volgens die skrywer van The Boer Whore, Nico Moolman die naam is wat Susan Nell in Engeland aangeneem het. Susan is die vrou wie se tragedie in die Winburgse konsentrasiekamp afgespeel het, vertel Nico.

Dit is interessant dat hierdie kerkhof aan die teenoorgestelde kant van die dorp aangelê is as waar die konsentrasiekamp self was. En buite sig van die dorp self. Wat sou die rede wees, gegewe dat konsentrasiekampkinders ook in ‘n kerkhof effens nader aan die dorp begrawe is? Volgens die naamregister is baie van kinders wat hier begrawe is afkomstig uit die Winburgdistrik self. Een opvallende naam, is dié van ‘n bitter jong Mias de Klerk. Dieselfde as dié van ‘n latere teologie professor.

So entjie suid is ‘n begraafplaas wat net na die Anglo-Boereoorlog aangelê is. Ds JJT Marquard, Winburg se leraar tydens die oorlog, is in Desember 1904 daar begrawe.

N1 se kant toe van die konsentrasiekampkerkhof is die dorp se amptelike stortingsterrein. Dié is oorlopens toe vol en moeilik toeganklik. Met die gevolg dat die hele terrein rondom die kerkhof een groot vullishoop begin word het. Onveilig en onwelriekend. En só het die kerkhof ook verwaarloos, met gras en bossies wat kniehoogte al die sementgrafsteentjies verdwerg het. Die ystergrafmerkers in die Britse deel is al jare gelede gesteel en vir skrootyster verkoop. Ook dié deel was toegegroei.

Hierdie treurige toestand is opgemerk deur geskiedenisliefhebbers. So is ‘n plaaslike sakeman wat nie net die toerusting en mannekrag het om te help nie, maar vir wie die dorp se welsyn na aan die hart lê, genader.

Leon van Straten (lidmaat van Winburggemeente) het met sy mense begin om die omgewing om die kerkhof skoon te maak en op Saterdag 13 Maart het by die sestig vrywilligers, plaaslike en van elders by hulle aangesluit en die hele kerkhofterrein skoongemaak. Groepe het uit Kimberley en Gauteng opgedaag, en selfs ‘n 81-jarige dame van Stilbaai.

Die begraafplaas by die Schnehage Grafkelder (gedateer 1888) is ook skoongemaak. Hierdie begraafplaas is waarskynlik die tweede oudste in Winburg en lê langs die pad wat afloop na die konsentrasiekampkerkhof en die huidige begraafplaas. ‘n Hele aantal kinders en Britse soldate uit die Boereoorlogtyd lê hier begrawe. Die terrein by die Voortrekkermonument op Rietfontein, Pres MT Steyn se geboorteplaas net buite Winburg is ook netjieser gemaak, asook die Voortrekkerbegraafplaas (meestal Wesselse) langs die pad na die monument.

En les bes is begin om die ou Voortrekkerbegraafplaas binne die dorp netjies te maak. Alhoewel die afsonderlike grafte nie gemerk is nie, is die rye grafte uitkenbaar deur sementstroke. Dorpenaars is waarskynlik sedert die 1840’s hier begrawe.

Hierdie inisiatief is iets groots. Die groter uitdaging is egter om die skoonmaak op te volg deur die goeie werk wat Saterdag gedoen is en in stand te hou, veral die terrein óm die konsentrasiekampkerkhof. Eintlik is dáár nog baie werk. Ongeveer agt jaar gelede het die Erfenisstigting ook moeite gedoen om dié kerkhof netjies te maak, asook om met die provinsiale regering te onderhandel om die Voortrekkermonument te bekom. Hierdie onderhandelings het ver gevorder, maar toe skielik doodgeloop. Die plaaslike munisipaliteit verroer ook nie ʼn vinger om hulle verantwoordelikheid ten opsigte van hierdie terreine na te kom nie. Trouens, hulle het doodeenvoudig toegelaat en is na bewering self verantwoordelik vir die storting van vullis langs die konsentrasiekampkerkhof, buite die afgebakende stortingsterrein. Met die gevolg dat alles weer verval het.

Leon is van plan om gereeld te gaan opruim en wil die gebied toespan. Van die buitestaanders wat deel was van die inisiatief is blykbaar ook bereid om elke klompie maande hulle goeie werk hier voort te sit. Plaaslike inwoners is ook hierdeur geïnspireer om meer moeite te doen om hierdie erfenis, asook die ander historiese bakens te bewaar en op te pas. Dit kos ongelukkig baie om alles in stand te hou. Ervaring het geleer dat dit net tot op ‘n punt gedoen kan word uit plaaslike vrywilligers se beursies.

Soms maak entoesiaste van buite plaaslike mense se oë oop om die geleidelike verval en verwaarlosing raak te sien en self iets te begin doen. Volgende op Leon se lys is om in samewerking met plaaslike besigheidsmense en buite-eienaars van die geboue om die kerkplein, waarvan sommige uit die negentiende eeu dateer, minstens die vooraansigte netjieser te maak. Ter wille van ons wat hier bly, en toeriste wat ons historiese dorp besoek.  

Foto's verskaf deur dr Bertus Celliers

Nuutste Artikels