Blog

Oor navolging en beliggaming in die digitale era?

 12 Oct 2021  Dr Martin Laubscher   Verbi Divini Minister

In Fareed Zakaria se Ten lessons for post-pandemic world is daar twee lesse wat my nog altyd bybly, naamlik “Life is digital” en “Aristotle was right – we are social animals”.  Let wel, dit is twee aparte lesse en nóg ʼn geval van die een óf die ander, of selfs die een as die ander.  Dit is nóg die keuse daartussen en nóg die verwarring en duplisering van die een met die ander waaroor dit hier ten diepste gaan.  Beide hierdie twee werklikhede is ʼn integrale deel van ons alledaagse realiteit.  Dit is die suurstof wat ons inasem, dit is die brood wat ons eet.  ʼn Aanleer van die een en ʼn diepe hunkering en verlange na die ander, het ons die afgelope agtien maande op soveel vlakke en grade ervaar.  Kortom, hier is twee werklikhede wat onteenseglik tydens die pandemie na vore getree het en onomwonde vra na verdere teologiese nadenke waarin die kreatiewe sowel as onuithoudbare spanning daartussen vir ons ontsluit kan word.

Een so ʼn onlangse werk wat myns insiens op ʼn konstruktiewe wyse daarin slaag om dit aan te spreek, is Jason Byassee en Andria Irwin se Following – Embodied discipleship in a digital age. (Dit is deel van ʼn baie oulike reeks “Pastoring for life” wat Baker Academic so ʼn tydjie gelede mee begin het.  Uiters goed geskryf in toeganklike taal, met goeie akademiese belesenheid, en met die nodige pastorale sensitiwiteite.  Ander temas in die reeks sover is byvoorbeeld oor “Aging”, “Birth”, “Disability”, “Friendship” en “Recovering”.  Kortom, met die oog op die bediening is dit gerus ʼn reeks om van kennis te neem, maar laat ons terugkeer na die boek ter sake vir hierdie gesprek.)  Byassee en Irwin se titel is catchy en spot on, want dit is presies die punt wat tussen die twee lyne van Zakaria hierbo skuil. Daar is ʼn spanning tussen hierdie twee koördinate na môre wat op kreatiewe wyse onsluit kan word.  Die koortjie regdeur hierdie boek is inderdaad nie ʼn “óf-óf” vraag nie en selfs ook nie eens ʼn “én-én” nie, maar veel eerder hóé navigeer ons onsself en ander om die volle potensiaal van hierdie werklikhede vir die saak van die evangelie helaas geloofwaardig te beliggaam.

In meer teologiese taal wys hulle byvoorbeeld dat ons waarskynlik nou voor twee subtiele versoekings staan in die verband, naamlik deur of onsself (dikwels onbewustelik) te wend na die Gnostiek, of die Manicheïsme.  Eersgenoemde sien die heil in dualistiese terme om as‘t ware te ontvlug van die materiële werklikheid na ʼn geestelike werklikheid.  Of, soos in die woorde van John Milbank: “this is a world where people want online sex more than the embodied kind.”  Hoe belangrik die digitale bediening ook al geword het, dit help ook nie ons begin eskatologies te hiperventileer met die verkondiging hiervan in volslae messiaanse terme nie.  Die werklikheid is inderdaad meer kompleks en vra daarom vir ʼn meer genuanseerde posisie, soos byvoorbeeld uitgedruk in die volgende formulering:

“Note: long-distance correspondence is no substitute for face-to-face friendship, meals together, mutual prayer and worship and laughter and bodily touch, baptism and Eucharist. Digital communication is no substitute for, but rather a supplement to, embodied presence. It can extend, in weakened form, the goodness of community gathered around the Eucharistic table and baptismal font. It cannot substitute for those things, even in extreme cases like prison or exile when it keeps us apart from one another for extended periods of time. It can, however, bear grace across time and space. We show this every time we open the Bible” (Byassee & Irwin 2021:60-61) [Aksentuering – ML].

Nes ons dissipelskap en navolging nie volledig wil vertaal en verbeel in digitale terme nie, net so behoort ons ook nie die web en tegnologie as essensieel boos voor te stel nie.  Laasgenoemde is natuurlik niks anders nie as die verleiding verbonde aan Manicheïsme, naamlik: “In more colloquial terms, Manicheism makes the mistake of thinking of some things as essentially good and others as essentially evil. There is no essential evil in Christian thought” (7).  Tegnologie mag dalk voorkom as boos in die verhaal oor die toring van Babel, maar net so is dit tog weer uiters nuttig en goed vir Noag wie ʼn ark moes bou.  Weereens, die vraag is nie óf ons dit gebruik nie, maar veel eerder hóé ons dit inspan. Of, nog meer konkreet gestel: dink maar byvoorbeeld net aan groot dele van Paulus se briewe wat dit het om ʼn virtueel verbeelde liggaam waarvoor hy sou skryf om die boodskap by uit te kry.  ʼn Groot deel van hierdie geskrifte van hom is vandag ons kanon, sonder dat hy self ooit in-persoon by sy hoorders kon uitkom.

In kort, niemand kan ontken dat tegnologie, die web, en digitale era ontsettend baie geleenthede aan ons bied nie.  Talle bedieninge kon aangaan en verskeie nuwes selfs na vore tree.  In dié opsig is daar eintlik geen terugkeer na gister nie.  Dit is soos Stephan Joubert op die jongste voorblad van Kerkbode dit stel, “die digitale bediening is nie pause nie ... dis nuut begin”.  Enige “tien punt plan vir gemeentes post-Covid-19” sal uiteraard hiermee moet rekening hou.  Daar is inderdaad vaardighede en insigte wat ons die laaste jaar of wat opnuut moes leer en ontdek (en beslis wil verder neem), maar terugskouend dalk ook aspekte wat ons liefs so vinnig as moontlik wil afleer en afsweer.  Kom ons bly dink, praat en deel oor hoe ons op allerlei maniere en platforms die kreatiewe spanninge aan hierdie lesse tydens die pandemie kan ontgin.  Enersyds weet ek dat waarop dit waarskynlik ten diepste neerkom, is dat ons inderdaad die web (en in-persoon eredienste) moet ontgin en gebruik vir dít waarvoor dit gebruik kan word – en tog is ek andersyds nog allermins seker oor wat dit werklik beteken en inhou vir die onmiddellike toekoms.  Byvoorbeeld, die eerste van Joubert se “tien ‘digitale gebooie’” lui met ʼn veelseggende “ek dupliseer kerkwees in fisiese spasies nie net so op digitale platforms nie”.  Dit is ʼn wyse riglyn waarmee ons almal kan akkoord gaan en tog vra dit verdere uitleg, interpretasie en wysheid en daarvoor benodig ons uiteraard egte navolging en dissipelskap om die gesprek saam verder met mekaar te voer (al dieper in die digitale era in).

Martin Laubscher  |  12 Oktober 2021  |  Vrypos