Blog

Ontmoet Missie Japan se Elmar en Nadine du Rand

 22 Sep 2021  Mev MariĆ«tte Odendaal   Vennote in Getuienis

As jy weer in jou Mitsubishi- of Toyota-voertuig klim, kan jy gerus net ’n oomblik stilsit en daaraan dink dat dié bakkie of motor sy oorsprong daar ver in Japan gehad het – daar waar jy ook deel van ’n geloofsfamilie is en waar die jong Elmar en Nadine du Rand een van ons Missie Japan-sendelinge is.

Maar wie is die Du Rand’s en hoe het hulle in Japan, van alle plekke, beland?

Nadine is van Noordwes – gebore en getoë in Rustenburg waarvandaan haar ouers na Brits getrek het toe sy sestien jaar oud was. Elmar is weer ’n Namibiër, gebore in Windhoek en weens sy pa se beroep, moes hulle baie rondtrek in Suid-Afrika.

Nadine vertel: “My sendingroeping het al voor my geboorte begin. My ma het aan die Here belowe om my in sy weë groot te maak en eendag terug te gee in sy diens. Ek het grootgeword met ouers en grootouers wat die liefde van Jesus opreg uitgebeeld het. Toe ek veertien was, het ek tydens ’n jeugkamp op Winkelspruit my lewe aan die Here gegee.

“Nadat ons in Brits gaan woon het, was ons so gelukkig om deel van 'n gemeente te kon word wat baie sending-georiënteerd was. Dié gemeente het verskeie sendelinge ondersteun en was ook by sendingwerk in van ons buurlande betrokke. Gevolglik het ek gereeld op uitreike na Mosambiek en Swaziland gegaan en later ervaar dat die Here my roep; ek het ’n passie ontwikkel vir mense wat nog nie die evangelie gehoor het nie.”

Nadine vertel verder: “Gedurende my matriekjaar was ek soekend na die wil van die Here vir my toekoms. Gedurende 'n sendingkonferensie het Operasie Mobilisasie (OM) ons gemeente besoek en ons van die Logos Hope sendingskip vertel. Dié skip reis van land tot land met die doel om die evangelie van Jesus te verkondig.

Die Here het my toe gelei om OM se sendingopleiding, MDT (Missions Discipleship Training) in Pretoria te gaan doen, waarna ek toe vir twee jaar sendingwerk op die skip gaan doen het. Terwyl ek aan boord van die skip was, het ek Japan in 2015 besoek. Tydens my besoek aan Nagasaki en Kanasawa het ek ervaar dat die Here my werklik 'n hart en 'n passie vir die Japannese volk gegee het. Ek het teruggekeer na Suid-Afrika en daarna by die Evangeliese Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika se kweekskool gaan studeer – waar ek toe vir Elmar ontmoet het!”

Elmar se storie het effe anders verloop. Hy vertel: “Na skool het ek gaan werk vir ’n ingenieursmaatskappy terwyl ek meganiese ontwerp studeer het. My werk het my vir twee jaar na die Kongo (DRC) gestuur waar ek baie tyd gehad het om te dink oor wat ek met my lewe wou doen.

Aanvanklik het ek van groot rykdom gedroom, maar daar, in die middel van Sandton, het ek besef dat, al het ek al die rykdom in die wêreld, ek nie waarlik gelukkig sou kon wees nie. Die Here het duidelik met my gepraat en my tot voltydse diens geroep.

Nadat ek vyf jaar vir die maatskappy gewerk het, het ek my werk bedank en by die Glenvar Bybelskool in Kaapstad vir ’n 2-jaar sendingopleiding ingeskryf.  Hierna het ek vir ’n jaar sendingwerk in Suid-Afrika, Botswana en Namibië gaan doen en toe by die Evangeliese Gereformeerde Kerk se kweekskool as teologiestudent ingeskryf. Daar ontmoet ek toe vir Nadine in Januarie 2016; ons is aan die einde van die jaar getroud.”

Nadat Elmar en Nadine getroud is, het hulle tot die Here gebid om leiding: Moes hulle ’n predikants- of sendelingpaar word? Die Here het hulle op ’n besondere manier gelei om na Japan te gaan waarna hulle in 2017 Japan vir ’n visie-uitreik besoek het. Tydens hierdie besoek het hulle kennis gemaak met Missie Japan en ook vir Stéphan van der Watt (ook van Missie Japan-sending) ontmoet. Na ’n keurings- en voorbereidingsproses is hulle in 2019 na Japan gestuur.

As jy hulle vra wat hulle as die grootste kruis-kulturele uitdagings beskou, antwoord hulle: “Dis verseker die Japanese taal. Minder as 2% van die bevolking kan Engels praat. Dit beteken dat, indien jy nie Japanees magtig is nie, jy sukkel om te kommunikeer en deel te word van die samelewing. Dis veral ’n uitdaging omdat ons juis verhoudings wil bou en ons sendingroeping wil uitleef. Nadat ons ons 2-jaar taalstudie voltooi het, kan ons nou al ’n goeie gesprek voer, maar afhangend van die onderwerp, voel ons nog steeds soos kinders wanneer dit kom by kommunikasie!”

Hierdie uitdagings kry hulle egter nie onder nie - daar is ook groot vreugdes in hulle werk. Hulle vertel: “Ons geniet dit baie om met mense te werk. In Japan is daar 'n behoefte aan warmte, liefde en aanvaarding, want die Japannese kultuur is 'n geïsoleerde en private kultuur. Ons kom vanuit 'n land soos Suid-Afrika, waar ons grootgemaak is met liefde, aanvaarding en vriendelikheid. Ons glo dis dan juis liefde, aanvaarding en vriendelikheid wat die Here wil hê ons teenoor die Japannese moet betoon. Ons geniet ook die Japannese kos, soos sushi, wat effe anders is as dit wat ons in Suid-Afrika kry. Ons geniet ook die natuur in Japan, veral die wandelroetes; 70% van Japan se oppervlakte bestaan uit berge.” Nadine hou ook baie van hardloop, lees, politieke nuus en kitaar speel. Elmar hou weer van buitelug-aktiwiteite, om nuwe vriende te ontdek en motorfiets te ry.

Die Du Rand’s se droom vir die kerk in Japan is dat dit moet groei. “Ons begeer om te sien dat die kerk ’n plek sal wees waar Japannese in hul eie taal die evangelie kan hoor en waar hulle gelei kan word om dissipels van Jesus te word. Ons begeer ook om te sien dat die kerk in Japan ’n visie na buite sal kry en dat Japannese Christene ook ’n sendinghart vir hul eie volksgenote sal hê.”

Japan is glad nie 'n maklike sendingveld nie. Die boodskap wat die Here op die Du Rand’s se harte gelê het om vir ons hier in Suid-Afrika tydens hul besoek te bring, is: “Vra mense om te bid vir die sendingveld in Japan”.

En as jy weer in jou Mitsubishi (in Japannees: drie blaartjies) of Toyota klim, bid asseblief vir die werk wat daar gedoen moet word, asook vir die geestelike en fisiese welstand van ons sendelinge in Japan.

Nuutste Artikels