Blog

Ontmoet Hanneke Lubbe van Hospice Bloemfontein

 22 Oct 2021  Mev Mariëtte Odendaal   Algemeen

Hoe gemaak as jy ’n geliefde het wat einde-van-lewe-versorging benodig en jy weet nie waar om vir raad en hulp te gaan aanklop nie?  As jy gelukkig is, is daar ’n Hospice naby jou.  Deesdae is Bloemfontein ook een van dié gelukkige plekke wat hierdie onontbeerlike diens kan lewer, danksy Hanneke Lubbe, stigterslid en bestuurder van Hospice Bloemfontein.

Maar wie is Hanneke en hoe het dit gebeur dat sy by Hospice beland het?

Hanneke is gebore as die jongste en enigste dogter van vyf kinders op ’n plaas in die Rouxville-distrik.  Haar ma, Grietje-Mor Bender, was ’n Sub A-onderwyseres voor haar troue en haar pa, Hendrik Smith, ’n boer.  Hy wou eintlik teologie gaan studeer en was al op pad na Stellenbosch, toe hy moes terugdraai plaas toe omdat sy broer wat sou boer aan polio oorlede is.  

Sy vyf kinders het uiteenlopende beroepe gevolg – twee van sy seuns het in die tale beland; een ’n skrywer en die ander een ’n joernalis, en die ander twee seuns in die landbou.  Sy dogter, Hanneke, het ’n berader geword wat tans met haar MPhil in Palliatiewe Sorg aan die Universiteit van Kaapstad besig is.  Haar pad het egter eers baie wye draaie geloop voordat sy hierin begin belangstel het.

Na skool het Hanneke radiografie aan die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer, maar ná ’n jaar se werk by Rosepark Hospitaal, het sy alles verkoop en daarmee ’n vliegtuigkaartjie na Engeland gekoop.  Daar het sy enige werk wat sy kon kry, gedoen – as au pair, as werker op ’n perdeplaas, as kelner. “Hiermee het ek genoeg geld verdien om al my studieskuld te kon afbetaal én boonop nog deur Europa te kon reis”, vertel Hanneke.

“Die aanvanklike jaar het toe nog ’n jaar geword en toe nóg een.  Terwyl ek in Londen gewoon en gewerk het, ontmoet ek toe my eerste man, ’n Duitser.  Na ons troue het ons na Hamburg verhuis waar ons vir 13 jaar gewoon het.”

Hanneke vertel verder: “In dié tyd (1999) het ek verder deur UNISA studeer, dié keer in sielkunde.  In 2003 is ons seun, Henri, gebore en drie jaar later ons dogter, Greta.  Toe Greta vier maande oud was, is Henri met kanker gediagnoseer.  Ons wêreld het in ’n oogwink onherroeplik handomkeer verander.   Die pad van sy behandeling was ’n intense en vinnige pad.  Sedert die diagnose totdat hy gesterf het, het net vier maande geduur.  Élke dag en élke oomblik van daardie pad is vir ewig in my geheue vasgelê – dit het my lewe vir ewig verander”.

Henri is in die pediatriese onkologieafdeling van die Universität Klinikum Eppendorf (UKE) in Hamburg behandel.  Dit is waar die meeste van die kinders in Noord-Duitsland, asook kinders uit ander Oos-Europese lande, soos Pole, behandel word. 

“Die wagkamer van die dagkliniek waar kinders net vir ’n opvolgondersoek kom, was gewoonlik baie vol en ’n mens moes soms lank saam met jou kind wag voordat dit jou beurt was,” vertel Hanneke. “Daar was ’n speelhoekie en boeke en sommige kinders het entoesiasties gespeel of deur ’n boek geblaai – nes in ’n gewone wagkamer.  Dis waar almal moes wag nadat hulle by ontvangs aangemeld het – almal, behalwe dié kinders wat nie meer gesond gaan word nie, wat net palliatief behandel word.  Hierdie kinders en hul ouers kon direk deurgaan sonder om te wag en is dan deur die personeel begelei.  Vanuit die wagkamer kon ’n mens diegene sien wat reguit deurstap.  Dit het dan gewoonlik vir ’n oomblik stil geword.  Almal het dit waarmee hulle besig was dan eers gelos en na dié mense wat direk deurloop, gestaar.  Dit was asof dié wat nog op behandeling wag en nog vol hoop was, simbolies opgestaan het vir dié sonder hoop wat nou moes deurstap.  Dit was soos ’n soort erkenning met deernis, maar ook angs dat dit hul pad vorentoe mag wees.”  

Hanneke vertel verder: “Ek onthou die dag toe ons direk kon deurstap.  Ek was intens bewus van die oë wat ons volg, die stilte van daardie oomblik.  Dit was ’n bevestiging van die pad vorentoe en ook ’n keerpunt, nie net vir Henri nie, maar ook vir my persoonlike pad vorentoe.  Dit was die begin van my ervaring van palliatiewe sorg.  ’n Baie moeilike tyd van voorbereiding en afskeid neem, selfs ná my seun se dood, het voorgelê.” 

Palliatiewe sorg volg ’n holistiese benadering wat nie net op die fisiese behandeling van die pasiënt fokus nie, maar op al die aspekte van menswees.  Dit sluit die fisiese -, psigo-sosiale - en ook die spirituele aspekte in en poog om die lewenskwaliteit van elke pasiënt so goed moontlik, tot aan die einde, na te streef.  So ’n palliatiewe span bestaan gewoonlik (afhangend van wie beskikbaar of betrokke is) uit ’n dokter, opgeleide susters, ’n maatskaplike werker, beraders of sielkundiges, ’n arbeidsterapeut, en ook ’n groep opgeleide vrywilligers wat families bystaan en die pad enduit saam met hulle loop.  “Die fokus is altyd die pasiënt en sy of haar familie of geliefdes.  Die palliatiewe span werk saam om hul doelwitte en wense moontlik te maak.  Hulle poog om lyding te verlig, hetsy fisies, emosioneel, of spiritueel en altyd binne hulle sosiale konteks,” verduidelik Hanneke.

“Ongelukkig het dít wat met soveel pare ná so ’n vreeslike en onvoorspelbare verlies gebeur, ons ook te beurt geval.  Ek en my man is geskei en moes elkeen met ons eie gebrokenheid ons pad in die lewe weer terugvind,” vertel Hanneke.  “Omtrent ’n jaar ná die dood van my seun, het ek en my dogter, toe twee jaar oud, alleen na Suid-Afrika teruggekeer.”  

Hanneke het toe in die Kaap by die South African College of Applied Psychology (SACAP) ’n nagraadse diploma in berading gedoen.  Op hierdie manier kon sy haar verlies en hartseer verwerk.  Sy kon haar seer geleidelik in iets sinvols transformeer, veral met behulp van die praktiese werk wat sy by The Compassionate Friends, Rooi Kruis Hospitaal en St. Luke’s Hospice gedoen het.  “Ek het baie oor verlies en trauma geleer en kon sodoende ander help wat deur soortgelyke ervarings moes gaan,” vertel Hanneke.  “Dit was veral deur die werk by St. Luke’s Hospice, as deel van die spirituele groep, waar ek van ander geleer het.  Ek het geleer hoe om fyn te luister, sonder oordeel, om sodoende werklik te kan ondersteun.  Dit was ook my eerste werklike ervaring met Hospice-werk.”  

Hospice verskaf einde-van-lewe-versorging.  Dit word met waardigheid en deernis deur 'n groep professionele en opgeleide werkers gedoen.   Hospices het nie altyd binne-pasiënteenhede of 'n gebou waar hulle mense kan opneem nie, die meerderheid van pasiënte word palliatief aan huis versorg.  Enige addisionele ondersteuning of behandeling word dan na behoefte beplan en ’n dokter en verpleegsuster besoek die pasiënt soos benodig.  

“Ná my ma se dood in 2015 het ek en my dogter na Bloemfontein verhuis, waar my pa en drie van my vier broers bly.  Ek is ook intussen getroud met ds Jan Lubbe.  Ek het hom langs my ma se siekbed ontmoet, my ouers was in sy gemeente.  

“Ek het vinnig besef dat daar nie ’n Hospice in Bloemfontein is wat spesifiek na pasiënte met nie-oordraagbare siektes omsien nie.  In 2017 het ek en die bekende palliatiewe suster, Joan Marston, ’n Hospice in Bloemfontein gestig.

“Sowat twee maande gelede het ons ook ons eerste binne-pasiënte eenheid geopen met twee kamers waar ons pasiënte kan opneem,” vertel Hanneke opgewonde.  “Binnekort maak ons ook ’n derde kamer beskikbaar.”

Dié opnames duur gewoonlik vir ’n periode van so twee weke en is hoofsaaklik geoormerk vir komplekse pyn- en simptoombeheer, opname van pasiënte sodat familielede 'n ruskans kan hê, of aktiewe einde-van-lewe-versorging.  Die meerderheid van Hospice Bloemfontein-pasiënte word wel aan huis versorg en word deur hul aangestelde - of een van die vier vrywillige verpleegsusters in hul span ondersteun. Wanneer nodig, word die pasiënte deur die Hospice-dokter, Dr. Dalene van Jaarsveld en Hanneke (as berader) besoek.  Pasiënte wat na hulle verwys word, het of eind-stadium kanker, orgaanversaking of motor-neuronsiekte.   As Hospice-span onderskraag hulle die pasiënt en sy of haar gesin of familie en help hulle om dié swaar pad ondersteunend te loop, ook ná die dood van die pasiënt.  

So, wat kan ons as gemeenskap doen om ons naaste Hospice by te staan?  “Sonder die hulp en ondersteuning van die gemeenskap is ons werk byna onmoontlik,” verduidelik Hanneke. “Dis veral nou tydens die pandemie baie moeilik om fondsinsamelingsprojekte te loods.  Daar is baie uitgawes, soos die salarisse van personeel, die huur van Hospice-kamers, gesinne wat gehelp moet word met kos of mediese toerusting, ensovoorts.  Al kan jy net help met die skenking van doeke, kos of brandstofgeld aan die susters wat pasiënte besoek, sal dit baie help.   Daar is ook tweedehandse Hospice-winkels waar jou aankope van groot hulp kan wees.  Jy kan selfs kursusse doen as jy gesinne wil ondersteun.”

Mag ons harte diep geraak word deur die onontbeerlike werk wat landswyd deur ons Hospices gedoen word en mag ons moeite doen om te kyk waar ons kan help ondersteun.

Kontak Hanneke Lubbe by info@hanneke.co.za vir meer inligting.

Hanneke met Henri (foto: verskaf)