Blog

Ons moderator, Jan Lubbe

 8 Apr 2022  Mariëtte Odendaal   Leer ken die Moderamen

As jy in die vroeë sewentigerjare op die Moffat Sendingstasie by Kuruman sou rondstap, sou jy dalk ’n klein seuntjie onder die doringbome daar sien speel het – in sy eie wêreld onder die reuse-skadu’s en totaal onbewus van watter draaie sy toekomspad nog sou loop.


Kalm. Billik. Gebalanseerd.

Dis die indruk wat ds Jan Lubbe as nuutverkose voorsitter van die NG Kerk Vrystaat se moderamen tydens hul 54ste, driedaagse sinodesitting in Bloemfontein geskep het. Uitdagende sake is bespreek, uiteenlopende standpunte is aangehoor en plek-plek moes daar vinnig op die voete gedink en besliste besluite geneem word.

In ’n see van by die 300 sinodale verteenwoordigers in die Skougronde se groot Protea Saal was dit byna ’n onbegonne taak om koers te hou, maar die wa is (vir eers) deur die drif getrek.

En as jy tydens die sinodesitting ’n aardse nederigheid in Jan opgemerk het, is jy nie ver verkeerd nie. Hy is in September 1964 in Kuruman, op die rand van die Kgalagadi, gebore – die jaar toe dit in Desember gesneeu het; voorwaar ’n jaar wat om verskeie redes onthou sal word!

Jan se ouers was beide onderwysers; sy pa in landbou en sy ma in musiek. “My pa het ook rugby afgerig, en saam het hulle die skoolkoor van Hoërskool Kalahari tot groot hoogtes gevoer - sy as begeleier, hy as dirigent,” vertel Jan. ”Hulle was twee besondere mense. Vanaf 1982 (my matriekjaar) het my pa voltyds geboer en 'n groot sukses daarvan gemaak. Hy is in 2004 oorlede; my ma woon tans hier om die draai in Serenitas Aftree-oord, Bloemfontein.”

Daar is gewoonlik sterk rolmodelle wat ’n kind se morele kompas en integriteit in sy vormingsjare help ontwikkel. As mens vir Jan vra oor wie in hierdie opsig die invloedrykste rol gespeel het, antwoord hy: “Sekerlik my ouers, om mee te begin; my pa se eenvoudige, praktiese geloofsoortuiging (hy was ook Bybelkunde-onderwyser) en my ma, wat die orrelis was, se fyn aanvoeling vir kerkmusiek en liturgie. Ons het elke Sondag as gesin kerk toe gegaan. Dis waarskynlik waar alles begin het.

“Buiten my ouers het my oupa en ouma aan moederskant ook ’n groot invloed op my geestelike vorming as kind gehad. Hulle het reg oorkant die kerk in Postmasburg gewoon en ek onthou hoe ’n koesterende ervaring dit vir my as jong seuntjie was as die kerkklok snags al om die uur geslaan het,” vertel Jan. “My pa se ma weer, het Sondagoggende vroeg al Halleluja-liedere op haar traporrel gespeel en ons wakker gesing.”

Dan was daar plekke van geskiedkundige betekenis wat op die jong Jan ’n blywende indruk gemaak het. Hy vertel van een so ’n plek: “Ons het ’n klipgooi van die Moffat Sendingstasie in Kuruman gewoon. Daar het ek vir ure op my eie onder die bome gaan speel en was in verwondering oor die eenvoudige klip- en rietdakkerk. Die stilte en kontemplatiewe, historiese verankering op daardie sendingstasie het my geestelik diep gevorm ...” 

Jan vertel verder: “Hierdie rietdakkerk was die eerste kerkgebou noord van die Gariep en ingewy in November 1838; 'n maand vóór die Gelofte en die Slag van Bloedrivier plaasgevind het. Jare later het ek eers besef hoe breed die pad van die Christendom in Suider-Afrika regtig verloop het. Dit was ook van hierdie sendingstasie af dat daar in die tyd van Reverend Butler en dr. Steve de Gruchy skerp protes en weerstand teen die apartheidsbedeling gelewer is.”

As jy vir Jan vra hoe dit gebeur het dat hy besluit het om teologie te gaan studeer, vertel hy: “My roepingsverhaal gaan sekerlik terug na my vroeë kinderjare; na die geestelike grondslag in my ouerhuis. Daar is 'n datum in my Standerd 6-jaar (Graad 6), naamlik 9 Mei 1978, wat uitstaan. Dit was tydens 'n Pinksterdiens in die Moedergemeente op Kuruman dat ds. Attie van der Colff Romeine 8:31 gelees het: ‘Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees?’ (1953-vertaling). In Standerd 9 (Graad 11) is ek weer hierdeur aangespreek. Daar was aanmoediging deur 'n onderwyser of twee, maar ook een wat my uitgelag het en só waarskynlik gehelp het dat ek vandag steeds realisties oor my eie menswees is en self-krities probeer bly!”

Jan begin sy BA (met Teologie) in 1983 aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) as deel van die eerste nuwe ses jaar-kurrikulum groep. In 1986 behaal hy sy BA Honneurs (Wysbegeerte) en in 1987 sy MA met 'n skripsie oor “Ideologie en/in die Kerk in Suid-Afrika”. In 1988 sit hy sy teologie-studies voort en word in 1990 as proponent gelegitimeer. In hierdie jare onderskei hy homself as studenteleier en is onder andere voorsitter van die Studenteraad in 1988/9. 

“Een van my geestelike vaders – vandag nog (en nou ook as lidmaat in ons gemeente) – was prof. Kobus Smit, die filosoof,” vertel Jan. “Hy het 'n reuse-rol gespeel in my teologiese- en politieke bewuswording; in my menswees. Hy was die enigste dosent aan die UV wat in 1982 die ‘Ope Brief’ onderteken het; 'n pleidooi dat die kerklike regverdiging van apartheid laat vaar moes word.”

Ná voltooiing van sy formele studies, het Jan met navorsing in kerkgeskiedenis voortgegaan – eers by die UV en daarna aan die Universiteit van Stellenbosch (US). By Stellenbosch was hy ook junior lektor by die Fakulteit Teologie se Departement Ekklesiologie (1992-1993, 1995-1996). “Dit was terloops ook dáár dat 'n jong student, Carin van Schalkwyk, in een van my klasse gesit het,” vertel Jan.

In 1993/4 is Jan en sy gesin (hy is in 1990 met Liezl Ackerman, ’n student in sielkunde, getroud) vir 'n jaar Nederland toe waar hy aan die Theologische Universiteit in Apeldoorn (Christelijk-Gereformeerde Kerk) studeer het, asook aan die Vrije Universiteit in Amsterdam.

Hulle keer daarna terug na Suid-Afrika en in Julie 1997 word hy as leraar van die NG Kerk Berg-en-Dal in Bloemfontein bevestig. Vanjaar dien hy al 25 jaar in dié gemeente. “Dít is my geloofsgemeenskap van wie ek veel kon leer. Hier kon ek in tye van donkerte én lig ontdek God is by ons. Ek is aan hulle, en aan God, vir dié voorreg, baie dank verskuldig,” vertel Jan. 

’n Mens leer natuurlik baie oor mens- en predikantwees in so ’n uitdagende beroep. Dalk het hy raad vir voornemende of dienende predikante? “Ons roeping en opdrag is uiteindelik net één,” sê Jan: “Om deur ons bediening gewone mense te help om iets van God se teenwoordigheid te kan beleef; om sy Woord te mag hoor, te lees en te ontdek; om die weg na die koninkryk van Christus te vind; om vir hulself, hul medemens en God se skepping lief te mag wees en met dankbaarheid te kan leef. As 'n mens só lank in 'n gemeente is, word jou eie lewensweg en manier van menswees uiteindelik ook jou bediening. Pas dit daarom mooi op, leef met wysheid en deernis. Wees veral lief vir die kerk in die kleine wat God rondom jou gegee het – jou gesin, jou huismense. Vra dikwels vergifnis en wees ook gou om self te vergewe. En bly hoop.”  

Om predikant te wees, verg baie wysheid en insig; ’n mens moet maar dikwels gaan kers opsteek by ander se werk. Vra jy vir Jan wie se werke hom help om nuwe insigte en menings te help vorm, antwoord hy: “Uit die aard van my doktorale studies in die kerkgeskiedenis oor Abraham Kuyper (en Herman Bavinck) was ek in my jonger jare geweldig beïndruk deur Kuyper se helder insigte en onderskeidinge in die teologie- en die kerklike lewe; selfs sy algemene lewensbeskouing. Hy was van die eerstes om oor pluraliteit/diversiteit in die samelewing te skryf. In dieselfde opsig was proff. Willie Jonker en Jaap Durand se destydse reeks in die dogmatiek vir my bevrydend uit alles wat strak en eng was. Dit was daarom ook ’n geweldige voorreg om in latere jare prof. Durand persoonlik te leer ken en in 2019 betrokke te kon wees by die herstel van sy bevoegdheid as predikant van die NG Kerk wat hom in die 1980’s onregmatig ontneem is weens sy kritiek teen die apartheidsteologie van die NG Kerk.

“Wat my vakgebied, kerkgeskiedenis, betref, is daar die tradisie en benadering van prof. Eddie Brown en sy student, Dolf Britz (my mentor in hierdie vak) wat my oë vir die verlede van ons land en kerk oopgemaak het. Ek leer steeds van hom; nie net uit sy ensiklopediese kennis en historiese perspektiewe nie, maar ook van sy verstaan van teologie en die kerk – byvoorbeeld, ’n stelling van Dolf: ‘Christus is oneindig barmhartiger as wat die kerk heilig is’. Dínk daaroor, vir hierdie tyd in ons kerk ...

“Wanneer ’n mens kerkgeskiedenis lees, lees jy verkieslik oorspronklike bronne en kom in aanraking met ons voorgangers deur die eeue heen. By soveel van hulle ontdek jy lig en waarheid. Die deurwinterde insigte van wat dit is om as mens met God te leef soos verwoord deur Augustinus, Gregorius die Grote, Hildegard von Bingen, Franciscus van Assisi, St Johannes van die Kruis, Luther en Calvyn, die essensiële Barth, Dietrich Bonhoeffer en my Nederlandse mentor, George Harinck. Nóg ‘n aanhaling as voorbeeld: Harinck se inleiding-sin van sy intreerede oor die Verklaring van Barmen (1934) wat lui, ‘'n Volmaakte kerk vind jy in die belydenis, nie in die geskiedenis nie ...’ Vir ons om nóú oor na te dink, nie waar nie? En dan is daar die impak van onvergeetlike historiese films ...

“In my gemeentelike bediening die afgelope twee dekades, het ek meer en meer inspirasie by skrywers oor persoonlike spiritualiteit gekry, soos Philip Yancey, Richard Foster, Henri Nouwen en Eugene Peterson – al hul werke. Die uitsonderlike fyn aanvoeling vir iets diepers en meer. Michael Spencer (The Internet Monk) se boekie Mere Christianity (2010) het 'n onuitwisbare indruk op my gemaak; totaal onortodoks!”

As nuwe moderator van die Sinode Vrystaat was dit natuurlik ’n enorme uitdaging om soveel uiteenlopende menings in die afgelope sinodale vergadering vlot en regverdig te moes bestuur. Op die vraag oor hoe hy dit reggekry het, antwoord Jan: “Dit was daardie Dinsdagoggend beslis 'n ‘enorme uitdaging’, ja. Die sakelys was gelade, die atmosfeer vol spanning en die aanloop tot die sinodesitting allesbehalwe ideaal. Carin (van Schalkwyk) wat al sieker geword het, Bertus (Celliers) wat al meer moes beredder. Die vergadering wat toe vir my Psalm 134 sing, en die derde reël, ‘U wat beveel en dit geskied’, sal ek nooit weer só kan hoor nie. Ek moes my toe berus in wat gebeur.  

“Ongeveer 'n maand vóór die sinodesitting, het ek in my stiltetyd gelees wat Richard Rohr in sy boekie ‘What the mystics know’ skryf: I am always part of the problem. I can never really stand apart, above or beyond human sinfulness. I am part of the tragic sense of life and there is no perfect orthodoxy on which to stand. There seems to be a breach in almost every wall. We long for great-souled people who can hold the chaos together within themselves - and give us the courage to do the same. We dare to long for God ...’

“Ons lewe in uitdagende tye, ook as kerk, en so was dit ook in die vergadering. Ek was daarop ingestel om kalm te bly, te luister, te probeer verstaan. Daar was momente wat maar liewer ongesê kon bly (en seergemaak het). maar daar was vir my ook aangrypende oomblikke: Iemand wat spontaan Dona Nobis Pacem begin sing toe ons aan die Oekraïne dink en die vergadering wat so onbegeleid inval en saamsing; van die Skriflesings, die ‘liturgie van 'n vergadering’ … Dit alles het 'n belangrike stemming help skep waarin ons na God se stem wou soek en luister.

“Dankie aan die span wat die Onse Vader so vir ons ingedeel het. En dr. Charles Mitchell wat my telkens daaraan herinner het dat ons vir 'n ete moet bid, en ná elke verslag! Die kleurryke verslae van Begeleidingsbediening, Vennote en ENGO … Sjoe, dit was inspirerend. En dit was goed om Dawie Botes en Leon Foot weerskante van my te hê, een links, een regs. Dit was ook wonderlik toe 'n jong vrouedominee soos Adrie Potgieter-Els aangewys is om deel van ons span te wees.” 

Wat maak ons nuwe moderator opgewonde of bekommerd oor ons volgende geslag predikante? Hierop antwoord Jan: “Ek het in 1999 lid van die NG Kerk Vrystaat se Kuratorium geword en is sedert 2006 tydelik-deeltydse dosent aan die UV. Daar is al meer as twee generasies teologie-studente voor my verby. Dit is ’n groot voorreg om te sien hoe mooi iemand ontwikkel; om vars, nuwe entoesiasme by van die jonger kollegas op te merk. Ek wonder soms wel oor of hulle genoeg blootstelling aan die breër samelewing gekry het (of kry) en wat dit vandag verg om leiers in 'n nuwe konteks te wees. Mens ís bekommerd oor die getalle van gemeentes en van teologie-kandidate wat afneem.

“Die roeping moet egter in 'n gemeente gebore word. Hoe gaan dit dus met ons prediking en pastoraat? Dit is dáár waar jongmense sien wat dit is om 'n dominee te wees. Hoe gaan dit in ons kategese? Leer hulle die taal van geloof en teologie daar ken? En wat van die ontsaglike stryd wat ons teen bitterheid en woede voer? Henri Nouwen het in 1981 al hieroor geskryf en resentment as een van die grootste struikelblokke in ons geestelike groei beskryf. Hoe draai ons weg daarvan in die rigting van ’n nuwe roeping wat God vir ons hier het?”

Jan se droom vir die kerk in die Vrystaat (en ook vir Suid-Afrika) is dat elke kerkgebou in elke Vrystaatse dorp vir die honger mense van ons streek, vir diegene wat siek, bang of alleen is, ’n plek van hoop en heling sal wees. “My wens is dat ons ons geboue goed in stand sal hou, dat ons ons tuine mooi en waterwys sal versorg, dat ons Sondae die deure uitnodigend en wyd sal oopmaak, dat die Woordverkondiging van goeie voorbereiding en diepte sal spreek, dat ons aanbidding en sang God welgevallig mag wees – sodat mense by die kerk sal wíl wees omdat hulle glo dat God op 'n spesiale manier dáár is. Dit moet plekke van sy teenwoordigheid, liefde en genade wees. My bede is dat ons op hierdie manier die fakkel van lig en geloof wat aan óns toevertrou is, aan 'n volgende generasie sal kan aangee. God gaan mos nie weg nie; dit is sý landstreek hierdie ...”

Maar hoe gaan ons daarby uitkom? “Begin by die eredienste; dís waar (die) Reformasie begin (het),” verduidelik Jan. “Lees en studeer met ywer as jong teoloë. En kerkvergaderings moet hulself minder ernstig opneem. Bedoelende: Doen jul werk so goed as wat julle as kerkrade, ringe en kommissies kan, maar onthou God is groter, sy genade breër en sy leiding meer kreatief en bevrydend as wat ons mag dink.”

Teologie en geskiedenis is Jan se passie, “daarom lees ek baie en reis graag na die plekke waar dit alles gebeur het.” Hy is ook lief vir die stiltes en ooptes van ons natuur in Suid-Afrika. “Die tuin om ons huis, my honde en Timoteus, ons een kat (hy is 'n karakter), gee my baie plesier. Ek luister graag musiek en speel bietjie kitaar, klavier en orrel – soms tussen afsprake by die kerk, alleen in die groot gebou.”

Jan het ’n seun en ’n dogter uit sy eerste huwelik. Foster (30) is 'n ingenieur wat in Leuven (België) en die Wes-Kaap werk, en Hannelore (27) is 'n mediese verteenwoordiger in die Kaap. Beide was in Hoërskool Sentraal, Bloemfontein op skool en het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer waar beide ook in die Universiteitskoor gesing het.

Jan is in 2016 met Hanneke, oorspronklik Smith, van die plaas Mispa in die Rouxville-distrik, getroud. Sy het twaalf jaar in Duitsland gewoon waar haar seuntjie, Henri, gebore is, maar vroeg in sy lewe met kanker gediagnoseer en daar oorlede is. Hanneke en Greta, haar dogter, het toe na Kaapstad teruggekeer en in 2015 na Bloemfontein verhuis. Sy is die stigter en bestuurder van die Hospice in Bloemfontein. 


En so bid ons dat dié kind wat destyds onder die skadu’s van die groot doringbome op die Moffat Sendingstasie gespeel het, steeds in verwondering mag bly staan oor God se sorg.

Foto deur Tertius Botha: Ds Jan Lubbe, Bloemfontein Sinodesitting 2022.