Blog

"Ons het dit gemaak!"

 30 Nov 2020  Ds De la Harpe le Roux   Erediens Netwerk

As ek ‘n bietjie reflekteer oor dit wat alles die afgelope nege maande spesifiek by Torings van Hoop gebeur het, kom daar ‘n diepe dankbaarheid in my op: Ons het dit gemaak!  Deur God se genade het ons dit gemaak! Ja, daar was tye wat die oorweldigende uitdagings en die geweldige risiko’s wat ons moes trotseer amper te veel was.  Maar die Gees van God het in ons ‘n stamina en ‘n uithou geskep wat definitief nie van onsself af gekom het nie. (Klik hier vir ons nuusbrief met meer detail).

En sonder die ontsettende ondersteuningsbasis wat ons op menige vlakke aan die gang gehou het, sou dit beslis ook nie moontlik gewees het nie.  JY, ja JY, het dit vir ons moontlik gemaak om aan te hou doen dit wat die Here aan ons toevertrou het. En daarom as ons nou vorentoe kyk na Kersfees 2020, het ek die grootste vrymoedigheid om jou te vra om vir nog ‘n rondte saam met ons te stap. Kom en maak Kersfees 2020 saam met ons ‘n viering van dit wat die Here gedoen het, besig is om te doen, en nog gaan doen. Ek nooi jou uit om by ons aan te sluit in durf en daad.  Laat ons diégene wat op die rand van die samelewing vasgevang is in ‘n hopeloosheid en ‘n moedeloosheid herinner dat hulle in Christus ook kan vasstaan en aangaan.

Hiérdié jaar sal ons weens die Covid-grendelstaat nóg ‘n groot Kersdiens, nóg ‘n aansit Kersete kan doen.  Maar dit gaan ons nie keer om Kersfees te vier nie!  Met 100 mense in die kerkgebou, kan ons nog 100 op die grasperk voor die saal akkommodeer. En as dit moet, kan ons nog ‘n 100 aan die ander kant van die kerk laat sit, terwyl ons steeds voldoen aan die Covid-grendel regulasies. Agterna sal die Kersete as ‘n wegneem-ete uitgedeel word soos mense die erediens verlaat.

Hoe kan ek deel wees hiervan”

  • Bied aan om die week voor Kersfees te help met die pak van die kerspakkies of die voorbereiding van Kersdag se ete.
  • Help ons op Kersdag om alles vooraf reg te kry, of betrokke te wees by die opskep en uitdeel van die etes en kerspakkies.
  • Ondersteun ons deur óf fondse, óf dit wat nodig is, by te dra (Klik hier vir 'n lys van Kersmaal bestandele).

Alle Covid-19 protokol (d.i. sanitering, handhaaf van sosiale distansie, en die dra van gesigsmaskers) sal te alle tye geld.

Maar wat ookal jou besluit oor jou betrokkenheid vanjaar, weet net dat alle en enige bydrae en hulp word geweldig waardeer. Ons bedank jou alreeds in die Naam van ons Here Jesus Christus!

Mag jy en joune ‘n baie Geseënde Kersfees en Nuwe Jaar hê!

Van die Torings personeel en Trustees