Blog

Ondervoorsitter van ons moderatuur, Dawie Botes

 22 Apr 2022  Mariëtte Odendaal   Leer ken die Moderamen

Dr Dawie Botes is tydens die onlangse sinodesitting van die NG Kerk Sinode van die Vrystaat as ondervoorsitter van die moderatuur verkies. Hy was vir baie jare die eksterne kerklike moderator van ekklesiologie aan die UV (Universiteit van die Vrystaat) saam met ds Jan Lubbe (ons nuwe voorsitter van die moderamen) en prof Piet Strauss. Hy dien ook op die dagbestuur van die kuratorium by die Fakulteit Teologie van die UV en het vir ’n paar jaar op die kerkorde-kommissie van die Sinode van die Vrystaat gedien.

Maar wie is hierdie predikant wat so passievol is oor rugby en die aktuele politieke sake van die dag?

Dawie Botes is ’n Vrystater in murg en been. Hy is op 22 Februarie 1968 as die jongste van vier kinders op Kroonstad gebore en het op Odendaalsrus grootgeword. 

“Ons familie is vandag nog baie geheg en na aan mekaar,” vertel Dawie. “Ons ken nie konflik en onmin nie. My pa was ’n predikant en is in 2000 oorlede. My ma word vanjaar 95 en woon steeds in haar eie woonstel. Sy is helder van verstand, hardwerkend en vol liefde en gebede vir haar kinders.

“My kinderjare was wonderlik,” sê Dawie. “Ons buurt se kinders het die strate tot laatnag vol gespeel. Op Sondae was ons almal kerk toe en in die kategeseklas daarna. Gedurende die week was ons by kerkjeug-aksies betrokke.”

As kind is daar baie mense wat ’n invloed op jou geestelike lewe het. In Dawie se geval was dit veral sy ouers wat ’n groot invloed op sy vormingsjare gehad het. Hy vertel: “My ma het vir my kategese gegee en later was ek in my pa se belydenisklas. Albei my ooms, ds Weitz Botes en ds TP Smith, was ook predikante en het ’n groot invloed op my geestelike lewe gehad.

“Toe ons klein was, het ons as gesin om ons tafel gekniel en saam gebid en gesing wanneer my pa klaar vir ons Bybel gelees het. Ek onthou dat as ek saans vir my pa-hulle gaan nagsê het, ek hom dikwels op sy knieë gesien het, besig om te bid langs sy bed. My ouers was voorbeelde in hul gebede en liefde vir die Here.”

Dawie voltooi Standerd 5 (Graad 7) aan die Laerskool Odensia en matriek (Graad 12) aan die Hoërskool Wessel Maree. “Soms het ek sommer met die fiets skool toe gery net omdat dit vir my lekker was,” vertel Dawie. “Ek koester net goeie herinneringe aan my skooljare. Dit was so heerlik sorgvry.” Een van die hoogtepunte tydens sy skooljare was dat hy in die 1985 in die Vrystaatse Jeugkoor gesing het.

Dawie se roeping om predikant te word, het hy alreeds tydens sy pa se eredienste ontvang. “Wanneer die gemeente gesing en my pa met die deskant inval het, het ek ’n verdere roeping beleef – om ’n getuie vir die Here te wees. As kind onthou ek hoe ek eendag vir iemand wat op die sypaadjie gesit het, van Jesus vertel het en vir hom gevra het of sy saak met die Here reg is. Dit was net iets wat ek nie vir myself kon hou nie.”

Ná skool het Dawie sy twee jaar-diensplig aan die SA Weermag voltooi waarna hy in 1991 ’n kwalifikasie in personeelbestuur behaal het. Daarna gaan studeer hy teologie aan die UV. Hy geniet sy studentelewe terdeë. Hy speel rugby en muurbal vir sy koshuis, Huis Kiepersol, dien op hul huiskomitee, is redakteur van hul koshuisblad en sing in 1993 in die universiteitskoor.

Nadat hy sy BTh in 1997 voltooi het, het hy in 2001 ’n MTh oor die lewe en werk van sy oupa, ds WJ Botes (1880 - 1928) wat ’n sendeling in Njassaland (Malawi) was, verwerf. Sy DTh voltooi hy in 2012 met die onderwerp, Die NG Kerk as profeet teenoor die Suid-Afrikaanse regering (1962-2002), ’n kerkhistoriese perspektief.

“Hierdie doktorale studie en my belangstelling in die politiek was die rede waarom ek en ds Jeremia Olifant van die NGKA in 2017 na Kaapstad gevlieg en by die parlement se hekke gaan bid het teen plaasmoorde,” vertel Dawie. Hy dien in 1994 as lid op die Studenteraad van die UV met Dialoog as portefeulje. Dit het onder andere behels dat hy met die politieke leiers van daardie tyd moes skakel.

Dawie begin sy loopbaan in 1998 as predikant van die NG Gemeente Petrusburg. Daarna dien hy as predikant van die gemeentes Bethlehem-Môrelig (2008), Vrede-Wes (2012) en Welkom-Wes (2017).  “By elke gemeente was daar wonderlike lidmate wat lojaal was en steeds is. In elke ring het ek ook wonderlike kollega’s gehad om mee saam te werk,” vertel Dawie.

Dit is egter nie aldag maklik om die geestelike leiding in gemeentes te neem nie; daar is ook vele uitdagings. As jy vir Dawie vra watter raad hy aan jong predikante kan gee wat nuut in hierdie beroep instap, antwoord hy: “Iets wat ek deur die jare geleer het, is dat ’n mens opreg moet wees en naby aan die Here moet leef. Wat onontbeerlik is vir die bediening, is om in gebed stil te word voor die Here met sy Woord. Daarsonder is jy ’n leë prediker. Daarmee saam moet jy dit wat jy preek, uitleef. Bid baie, lees die Bybel en doen alles opreg tot eer van die Here. Alles gaan om die Here en nie oor jouself nie. Wees elke dag positief in die Here. Hy is die Koning van alle Konings en die Here van alle Here. Ek kan getuig dat wonderwerke vandag nog gebeur; ons moet dit net raaksien. Geniet jou werk as predikant. Dis die lekkerste werk ooit en ek sal dit elke keer weer kies as ek moet.”

As predikant is daar baie mense wat jou geestelik in jou roeping help vorm en laat groei. In Dawie se geval het veral die werk van Calvyn sy verstaan van teologie help vorm. “Dit weerspieël ’n diepe eerbied en ontsag vir die Here en die Woord van God. Calvyn het ’n simbool gebruik van ’n hand met ’n hart in wat eintlik wil sê hiermee offer ek myself voortdurend en opreg op aan die Here. En dit is wat my hart ook sê. Ek moedig ook predikante aan om die versamelde werke van dr Andrew Murray, veral deel vier oor die gebedslewe en die deel oor die band tussen leraar en gemeente te lees. Ek lees ook soms dr A. Kuyper se Uit Het Woord, H. Veldkamp, Menigerlei Genade en die Wekeliksche leerredenen van Kampen in Nederlands.

“Eietydse teoloë wat ’n indruk op my gemaak het, is onder andere Johan Heyns, Willie Jonker, Piet Strauss, Stefan Joubert en P.C. Potgieter. Die meeste van my professore waarby ek klas gehad het, het ook ’n groot invloed op my geestelike denke gehad, soos prof Dolf Britz wat my MTh-studieleier was en prof Hoffie Hofmeyr onder wie se leiding ek my doktorale studie gedoen het.

“Die afgelope jare lees ek ook veral oor Billy Graham, die groot geestelike leier van Amerika wat so passievol was in sy bediening en wêreldwyd gepreek het oor Jesus Christus. Ek bewonder veral sy noue bande met die presidente van Amerika vir wie hy geïnspireer het om te bid en om na aan die Here te leef. Hy het selfs in kommunistiese lande gepreek en hul leiers het hom uitgevra oor sy geloof. Sy aanmoediging dat ons ambassadeurs vir Christus moet wees, inspireer my baie.”

Dawie is baie opgewonde oor die volgende geslag predikante en die kerk van die toekoms. Hy sê: “Ons jong predikante maak my baie opgewonde omdat hulle so ’n passie vir die Here Jesus het. Hulle preek lekker prakties en getuig oor hul passie vir Christus.”

Daar is egter ook sake wat vir Dawie bekommerd maak. Hy verduidelik: “Daar is al hoe meer en meer stemme en getuienisse van dosente by fakulteite wat nie meer glo aan die basiese waarhede van die Skrif nie; wat Christus se opstanding en die maagdelike geboorte ontken. Hulle maak die Skrif af as mensewoorde en wat selfs beweer dat Jesus nie die enigste weg is nie.  Dit is onverskoonbaar dat dosente nie aan studente die ware weg leer soos dit in ons belydenisskrifte verwoord is nie en om nie die Woord suiwer aan hulle te leer nie.

“Die korrupsie, swak dienslewering en traak-my-nie-agtige gesindheid van die ANC-regering is vir my totaal onaanvaarbaar. Ek het ook al talle briewe geskryf om my afkeur ten opsigte van hul optrede te lug.”

Dawie se droom vir Suid Afrika en die kerk is dat ons waarlik ’n biddende kerk in Jesus Christus sal wees; dat ons waarlik net voor Hóm sal buig en net sý Woord sal leef; dat ons elke dag aan onsself en eie ek sal sterf.”

Dawie is in 2005 met Animé, wat 15 jaar jonger as hy is, getroud en hulle het twee kinders, Dawie (16) en Liné (14). “My vrou is vir my beeldskoon en ons is baie trots op ons kinders,” sê Dawie. “Oor ons lewe staan geskryf: nét genade.”

Foto deur Tertius Botha: Dr Dawie Botes, Bloemfontein Sinodesitting 2022.