Blog

Om Verkeerd te Preek

 8 Apr 2022  Dr Wessel Wessels   Verbi Divini Minister

Ek doseer ’n klas in prediking vir studente wat ’n diploma doen in Teologie. Meeste van hierdie studente sal voortgaan om ’n ander vakgebied te kies as graadkursus: Joernalistiek en Regte is veral populêr. Maar, vir nou, is hulle teoloë vir wie ek leer om op ’n baie basiese manier iets te sê oor wie God is, en wie ons is, en hoe die Bybel met ons lewens en konteks verband kan hou. Ons doen teoretiese werk oor prediking en ons skryf preke saam in die klas. Daar was ’n oomblik onlangs, terwyl ons die kuns van prediking probeer aanpak, dat die volgende woorde voorgestel is as ’n gedeelte van die preek – na gelang van Psalm 23:1 en 4.

You are my Shepherd, O Lord.

You comfort me.

Like a mother comforts her child.

When the lightning strikes nearby,

and the wind swallows the trees.

You hold me in your arms.

And my fear suddenly disappears.

Maar, daar was ’n ongemak onder sommige studente. ’n Ongemak oor die gebruik van ’n metafoor: “Soos ’n moeder haar kind vertroos”. Hierdie is ’n ongemak waarvan ons almal goed bewus is. Die logika is as volg; God is nie ’n moeder nie, maar ’n vader. Tereg, die metafoor van vader (en daarby welwillende vader) word gereeld in die Bybel vir God gebruik. Maar beteken dit dat slegs die mees gewilde metafore vir God gebruik kan en mag word? Of nog meer, beteken dit dat God se volledige wese vasgevang word in die mees gewilde Bybelse metafore?

Prediking is ten diepste ’n kuns van taal, vertaling en verbeelding deur taal. Die kuns om te verwoord wat onmoontlik is om te verwoord vir mense wat onmoontlik kan verstaan, dit wat onverstaanbaar is. En dit alles moet gedoen word deur nog ’n mens wat net so min verstaan of kan verwoord. Daarom, in die onvolmaaktheid van ons taal word metafore gebruik om te verwoord wat onmoontlik is om te verwoord.

Maar selfs die beste metafore is ’n inherente teenstrydigheid. Dit verlig en dit verdoesel. Dit maak oop en dit versluier. Dit bring verstaan en dit verwar. En hierdie is veral die geval wanneer dit by identiteit kom. Wie kan die identiteit van ’n mens vasvat in een woord? Wie kan hul eie identiteit verwoord in een gedagte? En wie kan God in volledigheid vasvat?

Sekerlik kan jy jouself tot ’n mate beskryf en verwoord. Dalk kan jy selfs sover gaan as om voor te stel dat jy jouself uitermatig goed ken. Dit is totdat jy jouself vind op ’n oomblik, op ’n plek en in ’n situasie waar jy nog nooit was nie. Wie weet hoe ek sal optree in die donkerte van die skaduwee van die dood? Wie weet wie ek sal wees in die vreugde van die ontvangs van my grootste drome?

Want ons, jy en ek, is nie net wie ons vandag is nie, maar ook wie ons sal wees in die toekoms en wie ons was in die verlede. Ons, wat bloot mense is, ons is komplekse wesens wat nie vasgevang kan word in eenvoudige, een-dimensionele metafore nie. En selfs met ’n meervoudigheid van metafore, is geen individu se wese volledig vasgevat nie.

En dan is daar God. Die Een wie se naam geopenbaar is as “Ek Is Wie Ek Is”. Toe ek ’n student was, het ’n Rabbi vir my verduidelik dat hierdie woorde in Eksodus 3:14, volgens die Hebreeus, beide die verlede, hede, en toekoms insluit. Iets soos: Ek is wie Ek was, Ek is wie Ek is, en Ek is wie Ek sal wees. Oor hierdie Ek Is moet predikante iets sê. Oor hierdie Ek Is moet die predikant woorde en sinne konstrueer wat mense help in die ambivalensie en morsigheid van die daaglikse lewe.

Om te preek is dus om verkeerd te praat, om onvolledige woorde te gebruik en om te poog om te beskryf, met woorde wat uit die mond uitval, die Ek Is. Maar om te preek benodig ook die bewussyn dat ons woorde nie absoluut en volmaak is nie. Die bewustelike prediker weet dat alles wat gesê word en alles wat verbeel word maar net voorlopig, tydelik, en onbestendig is.

Laat die prediking daarom, met huiwering en moed, verbeel en speel met taal, sodat ons ook die ideaal van die grootheid van die Ek Is vir ’n oomblik kan raaksien, uit die hoek van ons oog, sodat ons juis ongemaklik gelaat kan word.