Blog

Om die Ander van Onsself te word

 30 Jul 2021  Dr Wessel Wessels   Verbi Divini Minister

Die identiteit van die prediker speel ‘n belangrike rol in die opdrag en roeping van die bediening van die Woord. Of dit is in die interpretasie van die Bybel of in die kuns van die verkondiging self, kan geen prediker ontslae raak van hul unieke menslikheid nie. Die persoonlikheid, self-verstaan, en karaktereienskappe van die prediker sal bloot ‘n invloed hê op die prediking. Inteendeel, die verskuiling van die persoon van die prediker doen meer skade as goed. Ons kan uiteraard in sosiale kontekste aanvoel wanneer iemand nie geloofwaardig optree nie, en dit geld ook in die liturgiese begeleiding van die erediens. Daar is ‘n noodsaaklikheid vir egtheid.

Dit gesê, is identiteit ‘n kontensieuse onderwerp in die wêreld vandag. Myns insiens is identiteit meermale teenwoordig in hedendaagse situasies van rusie en geweld. Dit was moontlik in die verlede ook dieselfde. Maar dat dit nou die geval is, is uiteraard ‘n realiteit. Of dit nou handel oor wie deel mag wees van die kerk en wie nie, of wie se skuld dit is dat daar probleme is in ons samelewing en of dit gaan oor identifisering met vorige leiersfigure en hulle saak – ten spyte van wetsoortreding – blyk dit dat verskille in identiteit en die daarstel van teenoorstaande posisies spanning veroorsaak.

Identiteit het in ons tyd die fundamentele Catch-22 geword, die oomblik waarin ons dit onmoontlik vind om die probleem van identiteitsverskille op te los sodat mense saam kan leef. En terselfdertyd het die verstaan van identiteit ‘n merkwaardige impak op die mens, en menslike welsyn. ‘n Verantwoordelike en gesonde identiteit in verhouding met ander is beter as ‘n ongesonde en onverantwoordelike identiteit. Nog meer vreesaanjaend is die persoon wie hulself haat, omdat hulle oortuig is (of dit nou uit eie oortuiging is of die oortuigings van ander) dat hul in wese onwelkom, onnuttig, of boos is. So ‘n persoon sal mettertyd hulself en alles in hul nabye omgewing verwoes. Ek weet dit, want ek was al daar gewees.

Ek lees onlangs ‘n nuwe boek. Eintlik is dit ‘n ou boek, maar dit is nuut vir my. Die boek gaan oor die Tweede Wêreldoorlog. Dit is fiksie, maar dit is werklik. Daar is geweld, en swaarkry, en kinders, tienerseuns wat soldate genoem word, wat mekaar doodskiet. Daar is bomme wat op mooi stede neergegooi word. En daar is baie bose dinge wat plaasvind.

En daar is ‘n Duitse offisier. Hy is van geboorte ‘n Amerikaner en ‘n skrywer van beroep, maar hy word ‘n offisier in die Nazi-regering om propaganda te versprei. Maar eintlik is hy ‘n spioen vir die Amerikaanse regering. Hy is ‘n Nazi-offisier wat die idee van sosiale Darwinistiese oppermag versprei. Maar eintlik is hy ‘n spioen.

Hy kom op ‘n tyd by ‘n kamp van Amerikaanse soldate wat gevange geneem is deur die Duitse weermag. En hy bied aan dat hulle soldate vir Duitsland word en teen die Russe veg. Maar hulle weier en wil nie deel wees van die Duitse weermag nie. En een soldaat staan op en noem hom ‘n slang en ‘n volksverraaier.

Maar eintlik is hy ‘n spioen. En hy skryf propaganda wat rassisties is en inspeel op die identiteitspolitiek van ‘n bose manier van dink. Maar eintlik is hy ‘n spioen. En hy is ‘n volksverraaier. Maar eintlik is hy ‘n spioen.

Ná die oorlog word die volksverraaier nie vervolg nie, want hy was ‘n spioen. En hy gaan woon in New York, maar niemand praat met hom nie, en niemand is vriende met hom nie, en hy is alleen, afgesluit van die mensdom, want hy is ‘n volksverraaier. En die tragiese punt van die storie is dit: Jy word wie jy voorgee om te wees.

En nou vind ek myself by die eintlike Catch-22 van identiteit. Dit is nie dat ons in die samelewing van mekaar verskil nie. Dit is nie dat mense anders lyk en praat en ander gebruike navolg nie. Dit is dat ek van myself verskil. Dat my identiteit in twis is. Dat ek, nes die volksverraaier (of spioen?), vasgevang is in die gefragmenteerde, betwiste, en skynheilige bestaan van die mens. Beide sondaar en heilige, om die Reformasie aan te haal.

In die mikrokosmos van die individu vind ons die realiteit van die groter samelewing. Dat ons teen onsself in rusie is om ‘n geïntegreerde en respekvolle persoonlikheid daar te stel. Om ‘n mens te word wie kan leef en floreer in die samelewing. Om van onsself ‘n mens te maak wat goeie verhoudings kan hê en saam met ander kan werk.

Dit is ‘n identiteit in twis en rusie. Altyd aan die verander en sonder vaste fondasie. Maar dit is ook hier waar die potensiaal van identiteit lê. Om te werk en te bid en te verbeel en te soek na ‘n identiteit wat goed is en die menslike welsyn nastreef. Om te probeer voorgee om iets te wees wat goed is en mooi is, tot jy dit word. Hierin is die idee andersom, jy word soos wat jy optree, soos ‘n toneelopvoering. Jou optrede veroorsaak wie jy is.

Daar is hierdie gebed in Efesiërs 3:14-21. En groot gedeeltes van Efesiërs gaan oor identiteit. Maar hier is nie genoeg plek om daaroor in diepte in te gaan nie. Maar hierdie gebed in Efesiërs 3 is indrukwekkend. Want die gebed is ‘n gebed van smeking tot God, dat die mense van God krag, geloof, en kennis van die liefde sal ontvang. Dit is goed om te bid en te smeek vir dit wie ons nie self kan wees nie. En dan, om deur die genade van God wat ons optredes vooruit gaan, so op te tree dat ons die ander van onsself word.

[1] Postdoktorale Navorsingsgenoot in Homiletiek, Departement van Praktiese en Missionale Teologie, Fakulteit van Teologie en Religie, Universiteit van die Vrystaat. wesselgp@ufs.ac.za

Nuutste Artikels