Blog

Nuwe NetACT-Kurrikulum-ontwikkelaar, Kruger du Preez

 18 Mar 2022  Mariëtte Odendaal   Vennote in Getuienis

As jy tussen 2000 en 2014 in een van HEFSIBA ISC (Instituto Superior Cristão – Instituut vir Christelike Hoër Onderwys) in Vila Ulónguè, Noordwes-Mosambiek se klaskamers sou instap, sou jy die indrukwekkende akademiese direkteur, Kruger du Preez, passievol sien klasgee het in Portugees – ’n taal veel mooier nog as Frans. 

In hierdie tyd het hy nie net instrumenteel bygedra tot die eerste instituut wat universiteitserkenning in Mosambiek gekry het nie, maar hy het ook nuwe kursusse help ontwikkel – alles onontbeerlike ervaringe wat hom sou voorberei vir nog groter werk in Afrika, soos nou vanaf Maart vanjaar. 

Vandag is dié 72-jarige afgetrede predikant, wie se termyn as kontrakleraar van die NG Kerk Gemeente Aanbloem in Bloemfontein so pas tot ’n einde gekom het, sedert 1 Maart in diens van die teologiese opleidingsnetwerk, NetACT (Network for African Congregational Theology). Sy amptelike titel is: Konsultant en gasdosent in kurrikulum-ontwikkeling in die Lusofonia (Portugeessprekende) lande in Sub-Sahara Afrika.

Kruger is ’n Kroonstadter in murg en been. Hy het sy BA aan die Universiteit van Bloemfontein behaal en sy DTh aan die Universiteit van Stellenbosch met prof. Jurgens Hendriks, NetACT se jarelange program-koördineerder, as promotor. Kruger se DTh-proefskrif het gehandel oor kurrikulum-ontwikkeling by teologiese skole verbonde aan NetACT, iets wat hom uitstekend voorberei het vir die rol wat hy nou moet vervul. Buiten hierdie kwalifikasie, kom sy Portugees (wat hy in Portugal en aan UNISA bestudeer het) asook sy honneursgraad in sielkunde aan NWU (Noordwes-Universiteit), hom nou uitstekend te pas.

Vra jy aan Kruger wie sy geestelike rolmodel was en sy beroep dus in ’n groot mate bepaal het, antwoord hy: “My sendeling-rolmodel is Wiliam Carey, die Engelse Baptis wat sy lewe opgeoffer het in Indië vir 41 jaar. Hy was ’n taalkundige, vertaler, sosiale hervormer, besigheidsman, botanis en bekend as die vader van moderne sending. Hy was ook ’n akademiese reus en stigter van twee universiteite.”

Kruger se ryke beroepservaring dek groot areas en verskeie interessante kulturele blootstellings. Sy eerste standplaas was in Rundu in die Kavango, Namibië. Dit was pioniersjare – oorlogsjare. Hy was betrokke by die stigting van EGKA (Evangeliese Gereformeerde Kerk in Afrika) waartydens hy feitlik eiehandig die voorlopige Kerkorde geskryf het. Hy was nie net betrokke by die bou van kleinere kerkies nie, maar ook by die hoofkerk op die sendingstasie, Takwasa, waar hy die hoeksteen gelê het. Die werk onder die Angolese vlugtelinge, veral in die vlugtelingskamp, was ’n groot uitdaging en honderde het hulle aangesluit by hierdie kerk.

Tydens die 14 jaar as leraar van die Portugeessprekende NG Kerk op Vanderbijlpark het Kruger ook gedien as voorsitter van die MEI (Maatskappy vir Europese Immigrasie), asook as stigter en voorsitter van die Gemeenskapskas van die Vaaldriehoek (later was hy ook die voorsitter op nasionale vlak van die Community Chests). Maar nog was dit het einde niet. “My posisie as voorsitter van die Vredeskomitee van die Vaaldriehoek was baie uitdagend in die paar jare voor 1994,” vertel Kruger. “My lewe was dikwels in gevaar – so is daar onder andere op my geskiet in Sebokeng, is ek met klippe bestook in Sharpeville en gevange gehou in Orange Farms.”

En toe swaai Kruger se veld van bediening in ’n heel ander koers – hy word ’n kinder-evangelis aan Petra Kollege vir Kinderbediening buite Witrivier. “Nie net het ek opleiding in Mosambiek gedoen nie, maar tot in die noorde van Basilië!” vertel Kruger. En dis hoe sy pad dan ook begin loop het tot binne-in Mosambiek. 

Kruger vertel: “Die posisie van akademiese direkteur van HEFSIBA in Noordwes-Mosambiek vir bykans 14 jaar was ’n besondere leerervaring. In dié posisie moes ek ’n voorlegging gaan doen by die Nasionale Raad vir Tersiêre Onderwys in Maputo vir tersiêre status.” Tot vandag is HEFSIBA die enigste erkende teologiese instituut in Mosambiek en mag daar honneursgrade in teologie, sielkunde en ekonomie aangebied word. Kruger was ook nou betrokke by die stigting van satellietkampusse van HEFSIBA in Milange en Mocuba in die Zambesia Provinsie.

Kruger vertel: “In die vyf jaar wat ek dosent in sielkunde was, het honderde studente hul honneursgraad geslaag en kon danksy dit groot salarisverhogings in hul onderskeie beroepe kry. Ek kon my instudeer in veral positiewe sielkunde en narratiewe terapie.”

Ná sy aftrede het Kruger weer as leraar begin betrokke raak en is hy as kontrakleraar van die NG Kerk Gemeente Aandbloem in Bloemfontein aangestel. Hy vertel: “By Aandbloem moes ek skielik nuwe aanpassings maak om onder ouerwordende mense ’n pastor te wees. Dit was vir my duidelik dat daar te min wetenskaplike aandag aan die vergrysing van ons kerk gegee word. Ek het toe die Kommissie vir Betekenisvolle Veroudering in die gemeente gestig asook die Gerontologie Netwerk van die Sinode Vrystaat waarvan ek die eerste sameroeper was.” Voorwaar nie ’n man wat kan stilsit nie! 

Kruger loop al ‘n lang pad met NetACT. “As akademiese direkteur by HEFSIBA het kurrikulum-ontwikkeling ’n integrale deel van my werk gevorm en het ek gevoel dat ek nie genoeg daarvan weet nie. Toe NetACT iemand soek om ’n doktorsgraad daaroor te doen, werkswinkels aan te bied en navorsing by tien teologiese skole te doen, het ek aangemeld en is aanvaar. Dit het my en my vrou, Antoinette, gelei na Malawi, Zambië, Zimbabwe, Angola, Namibië, Kenia en natuurlik Mosambiek.”

Kruger se nuwe pos by NetACT behels kortliks dat hy by HEFSIBA (ICHO) en ITIERA (Instituto Teológico da Igreja Evangélica Reformada em Angola) in Noord-Angola op ’n breë vlak as konsultant sal werk en by kurrikulum-ontwikkeling in die besonder. Kruger verduidelik: “My kurrikulum-model staan op vier pilare. Eerstens staan dit op ’n reformatoriese lewens-en wêreldbeskouing; tweedens is dit ’n kontekstuele kurrikulum wat derdens ’n missionale benadering volg en laastens ’n geïntegreerde kurrikulum (kop, hand en hande) behels. Die einddoel van hierdie inklusiewe model moet wees om intellektuele, emosionele en geestelike volwassenheid by studente en toekomstige predikante te help bevorder.”

Kruger se basis sal in Bloemfontein wees waarvandaan hy gereeld Angola en Mosambiek sal besoek en tydens elke besoek ten minste ’n maand daar deurbring.

Dis ’n groot voorreg om op 72-jarige ouderdom in só ’n besondere pos aangestel te word – ’n aanduiding van die behoefte aan ’n mens se spesialiteitskennis en kundigheid. Die nuwe uitdaging hou sekerlik groot opwinding in? Kruger antwoord: “Ná sewe jaar se bediening onder Afrikaanssprekendes sien ek baie daarna uit om in die mooi taal, Portugees, weer klasse aan leergierige studente aan te bied wat nie die akademiese agtergrond het wat baie van ons studente in Suid-Afrika het nie.”

Daar is natuurlik ook vele uitdagings: “By HEFSIBA is daar op die oomblik redelik konflik,” vertel Kruger. “Ek sou graag wou meehelp om dit op te los en die standaard van hierdie teologiese skool en dié van die Fakulteit Sielkunde help verhoog. Daar sal meer dosente moet inskryf om hulle meesters- en doktorsgrade te doen; verkieslik in Suid-Afrika.  Daar is ook geen dosente in sielkunde met meestersgrade nie en ek sou graag die proses wil fasiliteer.

“By ITIERA droom hulle daarvan om spoedig 500 kerkleiers as predikante op te lei – wat ’n uitdaging om daarvan deel te kan wees! Ek wil ook graag hierdie teologiese skool se standaard laat verhoog en begin met afstandsonderrig.”

Nog (meer praktiese) uitdagings is om ’n visum vir Angola te kry; dit kan soms ’n uitdaging wees, asook die ‘red tape’ by die doeaneposte by Luanda en Tête in Mosambiek.

“Ek sou graag ’n boek in eenvoudige taal wou skryf oor sinvolle kurrikulering en didaktiek en dit beskikbaar stel aan die Engelse- en ook die Portugese akademiese wêreld.”

Vra jy aan Kruger hoe sy pos die ekumeniese gereformeerde bande tussen veral ons susterskerke en ook breër gaan baat, antwoord hy as volg: “NetACT het hulself uitstekend geposisioneer om as netwerk tussen sovele kerke te dien.  Hulle help met tegnologiese uitdagings, maar publiseer ook van tyd tot tyd baie goeie, gekontekstualiseerde materiaal van baie hoë gehalte. Ek is veral entoesiasties oor hulle jongste publikasie, African Public Theology, wat aktuele onderwerpe behandel soos ons verhouding met die staat, polisie, weermag, grondsake, gender-kwessies, armoede, opvoeding, gemeenskapsontwikkeling, gesondheidsake, menseregtekwessies, vlugtelinge, die media, intergeneratiewe sake, ensovoorts. Die boek is verlede jaar gepubliseer en is in die proses om vertaal te word. Ek sou graag hierdie boek wou aanbied. Hierdie boek moet sekerlik op ’n breër vlak, veral ook deur ons susterkerke, gelees en beredeneer word.”

Die meer spesifieke uitdagings ten opsigte van die teologiese skole en die twee Portugeessprekende Afrikalande, Angola en Mosambiek, beskryf Kruger as volg: “Finansiële volhoubaarheid van teologiese skole het kritieke afmetings aangeneem, veral met die onttrekking van veral dosente van die Weste. By HEFSIBA het die fakulteite van ekonomie en sielkunde, waar aandklasse deur werkende mense bygewoon word, baie gehelp om die Fakulteit Teologie aan die gang te hou. Dit is egter nie volhoubaar nie en hierdie fakulteite se getalle het baie afgeneem.

In Angola is teologie in die verlede nie deur die staat as ’n volwaardige wetenskap erken nie. Volgens my inligting word dit nou erken, maar net as dit deel vorm van ’n universiteit. Gevolglik kan studente wat byvoorbeeld by ITIERA in Angola klaarmaak, geen erkenning of akkreditasie ontvang nie. Daarom is dit baie belangrik dat hulle ten minste geakkrediteer sal word deur ‘n liggaam soos ACTEA (Accrediting Council for Theological Education in Africa) of dalk selfs deur HEFSIBA.

By ITIERA in Angola laat die geboue nog veel te wense oor, maar daar is NetACT besig met groot planne. Die gedagte is ook dat studente, danksy die landerye, van kos voorsien sal kan word en dat ’n koffieplantasie ook fondse sal inbring. Dit is belangrik dat dié projek goed van die grond sal afkom.

Die biblioteke van beide hierdie inrigtings voldoen nie aan die internasionale vereistes nie. Daar sal dringend aandag daaraan gegee moet word, asook aan ’n aanlyn-biblioteek. 

Akademiese administrasie is ook onontbeerlik vir goeie funksionering. My vrou, Antoinette, het in die verlede orals opleiding daarin gegee.”

Vra jy aan Kruger of residensiële opleiding nog haalbaar is, antwoord hy as volg: “Daar is baie voordele verbonde aan residensiële onderrig. By HEFSIBA is daar studentehuise waar die student met sy hele gesin vir die aantal jare wat hy studeer, kan bly. Sy vrou kry dan ook goeie onderrig en die gesin kan by mekaar bly.

Dit is egter nie altyd finansieel haalbaar nie en afstandsonderrig en aanlyn-opleiding moet al hoe meer aandag kry, ook onder leiding van plaaslike predikante.”

Opleiding moet natuurlik kontekstueel aangepas word. In Suid-Afrika is daar byvoorbeeld al sterk kritiek gelewer teen gekoloniseerde teologie en is daar gevra waar ons teologie in Afrika gemaak word? Dis iets waaraan NetACT by uitstek kan meewerk. Kruger verduidelik: “Die feit is dat daar nie genoeg boeke is wat geskryf is vir die Afrika-konteks nie. NetACT voorsien egter reeds in ’n belangrike behoefte deur hul gepubliseerde boeke en artikels (Books & Articles – NetACT). Die kurrikula van beide hierdie inrigtings kom feitlik direk van teologiese skole van Suid-Afrika by name van die Fakulteit Teologie van die NWU.”

Dit is van groot belang dat teologiese opleiding volhoubaar gemaak moet word sodat kerke dit self kan bekostig. Kruger deel sy gedagtes hieroor met ons as volg: “Deur afstandsonderrig en aanlynlesings kan ons ver kom. Waar daar nie Zoom-byeenkomste gehou kan word nie, kan daar selfs WhatsApp Chat gebruik word om met studente wat in verafgeleë gebiede woon, te kommunikeer.  Data bly egter ’n probleem en daar sal vindingryk daaroor gedink moet word.  Sommige teologiese skole het byvoorbeeld tydelike residensiële klasse vir ’n maand. Hulle studente gaan dan vir plant- en oestyd terug na hul lande en keer later weer terug vir opleiding.” Hier is dus ’n goeie voorbeeld van hoe om opleiding by die konteks en kultuur van die land aan te pas.

Uitdagende take soos hierdie rus natuurlik baie swaar op die skouers van die mense verantwoordelik vir die uitkomste. So ook met Kruger. Hy beplan om ’n databasis van belanghebbendes en belangstellendes op te stel. Daar bestaan reeds so ’n ondersteunende groepie by die NG Gemeente Aandbloem nadat Kruger as ouderling met opdrag sending in Angola en Mosambiek aangestel is. 

Sluit gerus by hierdie groep aan indien jy op hoogte wil bly van Kruger se werk en wil voorbidding doen vir spesifieke sake.

Kontak Kruger du Preez by krugerdup@gmail.com vir meer inligting.

Foto verskaf: Dr Kruger du Preez by dr Nico Mostert, uitvoerende direkteur van NetACT, tydens Du Preez se afskeidsdiens as kontrakleraar by die NG Kerk Gemeente Aandbloem in Bloemfontein