Blog

Noem my sommer net Willem

 3 Dec 2020  Ds Willem Smit   Dis ‘n Ring-ding

My naam is Willem Andreas Smit, maar noem my sommer net Willem. Ek is gebore in 1989 in Pretoria, waar ek die eerste 30 jaar van my lewe deurgebring het. Ek het nou nie die tradisionele pad tot die bediening in die NG Kerk gevolg nie.

In 2008 begin my Teologiese opleiding aan Lewende Woord se Bybel Kollege. In 2009 sit ek my studies voort by die South African Theological Seminary en behaal my BTh-graad in 2014. In 2010 het ek begin betrokke raak by NG Gemeente Silvertonkruin waar ek verskeie rolle beklee het. Dit is in dié gemeente waar ek my vrou, Christi-Mari ontmoet het. Wel dalk het sy my eerder ontmoet, want sy kom van Moorreesburg af en met ‘n wye draai (via Stellenbosch, Vredenburg, Londen, Ficksburg) het sy in Pretoria op geëindig. Vir Silvertonkruin het sy met ‘n Google-soektog gevind en vir my in die gemeente... die res is geskiedenis. Mag ek hier noem, my vrou is ‘n begaafde musikant en het al verskeie geestelike liedere geskryf.

In 2016 begin ek dan met verdere studies aan die Universiteit van Pretoria, “om ‘n regte Dominee te word”. In Maart 2017 trou ek en my vrou en later die jaar slaag ek my MDiv met lof. In 2018 doen ek my praktiese jaar by Pretoria-Faerie Glen en slaag ook my Nagraadse Diploma met lof en word dan gelegitimeer aan die einde van die jaar. In die proses om aansoek te doen vir poste was daar ‘n gemeente wat vir my uitgestaan het. Ek het vir my vrou gesê “my van roep my”. So doen ons aansoek by die Smithfield-gemeente wat ook dan my eerste beroep is as ‘n “regte Dominee”.

Die bediening en die passie om vir die Here te werk het my al op vreemde en interessante plekke uitgebring (kroegbediening, verskeie uitreikaksies na Mosambiek en Stilbaai, ‘n gemeente bedien in Hillbrow, Children of God Meetings begin in ‘n supermark, ens.). Hierdie jaar was dan geen uitsondering nie. Ek bevind myself op Sondag 23 Februarie 2020 om 10:00 die oggend waar ek ‘n erediens lei op die MSC Opera op die waters êrens tussen die Portugese Eilande en Durban. Ek glo kerk is daar waar die gemeenskap van gelowiges is, ongeag die menslike grense wat skeiding bring en hoe het Covid-19 nie dit vir ons kom leer nie. Die kerk is in jou sitkamer, studeerkamer, kantoor, in Australië, in Duitsland, in Engeland waar die gemeenskap van gelowiges is.