Blog

Nadenke oor ‘n Pelgrimstog

 18 Feb 2022  Dr Wessel Wessels   Verbi Divini Minister

Gedurende die eerste twee weke van Desember 2021 was ek, tesame met ses ander pelgrims, op die Pelgrimstog van Hoop: Robertson tot Agulhas. Dit was die eerste keer wat ek so iets aangepak het, met idealistiese uitkomstes wat ek tot my mede-pelgrims verwoord het as verligting, lewens-veranderend, en selfs verlossing. Dit is waarvoor ek gehoop het. Maar dit is nie wat ek gekry het nie. Om dit duidelik te maak; die pelgrimstog wás ‘n ekstatiese ervaring. Maar nie omdat ek verligting ontvang het, of omdat ek as mens verbeter is nie, of enige vorm van diepe geestelike verlossing ervaar het nie. Dit was ekstaties omdat dit uiters moeilik was. Vir dertien dae het ek (en ek vermoed almal van ons!) tot mindere of meerdere mate lyding ervaar. Dag twee het ek sonsteek gehad en alles wat daarmee gepaard gaan. Die volgende dag het ek skaars ‘n aptyt gehad en ‘n beduidende stap deur die berge het vir ons voorgelê. Daarna kon ek skaars slaap, want ‘n hoes kry my beet elke keer as ek gaan lê. Dat my mede-pelgrims my hoesbuie enigsins verdra het, is merkwaardig. En ongeag hierdie buitengewone oomblikke van lyding, was daar daagliks ‘n gemiddeld van 20 km wat ons moes aflê. Vooraf het ek gedink: “Dit is net stap, hoe moeilik kan dit wees?” Ek was verkeerd.

‘n Pelgrimstog is nie ‘n partytjie nie. Dit is lyding. Soveel keer het ek my oë toegemaak, terwyl my enkels brand van verlange na rus, ek myself verbeel ek was op ‘n ander plek saam met iemand meer interessant as my eie gedagtes, op ‘n plek waar ek tuis voel. Nie dat so ‘n ideale tuiste bestaan nie. Maar hier in die reën, op ‘n mistige strand, waar my voete pyn en ek te moeg is om reguit te dink, hier is enige plek meer tuis. Nietemin, ek sou dit weer doen in ‘n oogwink. Want lyding is dalk die mees menslike ervaring.

Dalk is daar selfs iets in my wat soek na lyding, en ook in jou. Daar is waarde daarin om lyding vir jouself aan te trek, op jou voorwaardes. Die lewe soos dit is, is reeds in vele opsigte (selfs in alle opsigte) lyding. Maar baie van daardie lyding is nie op jou eie voorwaardes nie. Om dus te kan kies: Hier gaan ek ly en só gaan ek ly, is kragtig. Jy vind in jou lyding, onder jou voorwaardes, betekenis. Teenoor die onvoorsiene lyding wat op jou pad kom, waartydens jy ten hemele skreeu: “Hoekom ek?”

Maar as jy lyding kies, jouself daarin inleef en jou lyding dra, dan is dit mooi en goed en reg. En in daardie oomblik is jy, wat gewoonlik voel dat die ekonomie en die regering en die virus en wie weet watter ander eksterne kragte nog jou rondgooi - in daardie oomblik is jy die bepalende faktor in jou lewe. Jy, in die volledige opneem van lyding (en dalk is dit die definisie van ‘n verantwoordelike mens) is die held!

Tradisioneel sou pelgrims aan die einde van ‘n pelgrimstog by die graf van ‘n heilige eindig. Of, indien die tog van bonatuurlike tragedie getuig het, sou die einde van die pelgrim se pad sy eie graf wees. Daar is iets simbolies daaraan. Dat ons almal ten diepste bestem is, selfs die heiliges onder ons, vir die graf. En dat die opneem van lyding, die soeke na betekenis te midde van lyding en om ‘n verantwoordeliker mens te word, die mees menslike avontuur op ons tog is na die dood. Toe ek terug is in Bloemfontein, het ek inderdaad myself gevind net soos ek myself hier gelos het. Ek was weereens gekonfronteer met myself en my verstommende tekortkominge. Ek het nie tot verligting gekom oor my toekoms of my hede nie. Ek het nie ‘n diep geestelike verlossing van dankbaarheid beleef nie. Nee, net soos ek gegaan het, so het ek ook teruggekeer.

Maar dalk, net dalk, het hierdie witgeverfde graf vir ‘n oomblik minder graf geword en meer mens.