Blog

‘n Verhaal van ons swart gebrande vlaktes in die Vrystaat

 5 Nov 2021  Dr Christo Herbst   Bedieningsbegeleiding

‘n Gewone dag breek aan.  Die wind is vroeg liggies aan die roer en in my gemoed steek daar ‘n waarskuwingsvuurtjie aan.  Ek kyk oor die vlaktes uit waar die skape deur die droë gras probeer lyf kry.  Ek sien hulle selde gaan rus, want die gras se voeding uit die droë kos is maar min.  Ons sal moet begin voer, hoor ek my jongste roep en ek wonder of die Koöperasie my rekening nog ‘n bietjie sal rek.  Daar lê nog ‘n hele paar rande op die boek wat deur die droogte daar opgeskryf is.  Dan, op die verte sien ek die rokie op warrel.  Vanaand sit ons met net wit tande en rooi oë, klere deurtrek van die rook se asem en ‘n hele klomp vee wat swart verbrand op ‘n hoop lê.  Vandag het my plaas in sy geheel afgebrand.  Dit raak my hele wese, want die stukkie grond en sy vee is nie net my besigheid nie, dit is my lewe.  Maar ek besef dat die dag nie net sy tol vir my geëis het nie.  Hier was meer as my distrik se boere wat kom help het.  Hulle weet wat dit beteken om die vuur te trotseer.  Dit is hoekom hulle kom help het en niks ontsien het in die aanpak van hulle taak om te red nie.  Elke bakkie-band en elke vuurspuit is tot die uiterste toe beproef.  Aan die einde van die dag het my gronde in die slag gebly, maar vanuit my buurdistrik het mense vandag hulle bakkies, hulle werkers en hulleself op die spel geplaas.  Ek sien hoe iemand ‘n ander terug huis toe sleep, want die bakkie wou nie teen die aanslae van die dag staande bly nie.  Ek besef, vandag het ek vee verloor, die kos vir my handjie vol oorblywende vee is weg, maar iemand het vandag op ‘n ander manier deel van my verlies geword.  Vanaand sak ek op my knieë neer en dank die Here vir sy genade.