Blog

'n Stukkie hoop - Anoniem

 16 Feb 2021  Anoniem   Dis ‘n Ring-ding

Ons hoor in die Bybel dat hoop en geloof hand aan hand stap.  Hebreërs 11 vertel dit vir ons in die eerste vers: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

Hoe voel dit om hierdie hoop te kry, of te verloor?

Hoekom het jy regtig ’n dominee geword?  Was dit om ’n vuur-en-vlam prediker te word, of ’n wonderlike gemeentebediening te vestig?  Was dit jou liefde vir die Here se Woord en vir mense?  Miskien selfs ’n roepingsoomblik wat jy weer aan moet terugdink.  Al hierdie vrae en die antwoorde daarop sal sekerlik ons bediening op hierdie stadium beïnvloed.

Dit was in die woonstel langs die treinspoor waar ek haar die eerste keer ontmoet het. Hopeloos en moedeloos.  Hulle woon in ’n klein woonstelletjie, tien mense in totaal en oor die omstandighede daarvan kan mens nie juis iets positief sê nie.  Hulle is bloot eenvoudig van daardie mense vir wie die lewe net aaklig behandel het.  Omstandighede het die mat onder hulle uitgeruk…al ’n paar keer.  Wat sê mens vir so iemand?  ’n Paar maande later op 'n lente-oggend van 2020 neem ek haar vir ’n werksonderhoud. 

Ja, sy het die werk gekry, dit betaal nie veel nie, maar dit is iets.  Iets waarop sy trots kan wees en waarin sy hard kan werk om te verbeter.  Hulle gesin van vier kon onlangs in hul eie woonstelletjie intrek en die enorme frustrasies van “overcrowdedness” soos ’n las van hul skouers afhaal.

Wat het dominees regtig om vir mense te bied? 

’n Kollega het op ’n slag vertel dat ons werk nie in rand en sent gemeet kan word nie.  Maar as ons op reis deur ons dag, met die genade van die Here, vir net een persoon ’n stukkie hoop kon gee, dan was ons werk die moeite werd vir daardie dag!

’n Passie vir mense is om opgewonde te wees as ons sien hoe die Here hulle optel en laat vlieg met arendsvlerke.  Dit is hierdie hoop, wat ek besef nie regtigwaar van ons af kom nie, maar van God af, wat my keer op keer inspireer om weer die paadjie van hoop saam met iemand te stap.

Sekerlik gaan nie almal jou eendag onthou nie, maar iemand vir wie jy die draer van hoop kon wees, sal jou wel onthou!  Vir hulle sal jou werk die moeite werd wees. Miskien is sy ook die dame van die woonstelletjie langs die treinspoor.