Blog

'n Bespreking | Margaret Blackie: ROOTED IN LOVE – Integrating Ignatian spirituality into daily life

 18 Feb 2022  Magdaleen du Toit   Mediateek

Wat is Ignatius-spiritualiteit? ’n Spiritualiteit is nie ’n aparte godsdiens of denominasie nie. Ons kan dit eerder beskou as ’n fokus of ’n lens waardeur ons ons geloof beskou of uitleef. Dit sluit sowel ’n ingesteldheid as bepaalde praktyke in wat vorm gee aan die wyse waarop ons God sien, en die wyse waarop ons in verhouding tree met God, met mekaar en met onsself.

Wie is Ignatius? Ignatius van Loyola was ’n jong Spaanse edelman (en pierewaaier!) wat in die Slag van Pamplona (1521) sleg gewond is. Gedurende sy lang tydperk van herstel in die familiekasteel het hy as leesstof romantiese ridderverhale aangevra, maar al wat in die kasteel beskikbaar was, was geskrifte oor die lewe van Christus en die heiliges. Hierdie werke het hom so aangegryp dat hy tot bekering gekom en besluit het om sy lewe aan God te wy. In 1540 het hy die Jesuïete-orde (Societas Jesu) gestig. Die “Geestelike Oefeninge” (1548) wat hy vir sy orde geskryf het, vorm vandag nog die grondslag van Ignatius-spiritualiteit.

Aan die hart daarvan is die geloof dat God teenwoordig is in alle dinge regdeur die ganse skepping, en dat ons, ongeag waar ons ook al is, ’n ontmoeting met God kan hê. God nooi ons uit om in ’n al nouer liefdesverbintenis met Hom te wandel en om sy liefde al dieper en sterker te deel met die wêreld rondom ons. Alles, elke enkele ervaring (sê Ignatius) het die potensiaal om ons lewe in God verder te verdiep en ons tot ’n dieper verhouding met Hom te lei. Die doel van ons lewe is om vir ewig met God te leef – dit is iets wat reeds met ons eerste asemteug begin en nie eers met ons finale asem-uitblaas nie.

Dr Margaret Blackie, mediese chemikus, senior lektor aan die Universiteit Stellenbosch, en spirituele begeleier, in die Ignatius-tradisie opgelei by Loyola Hall in die VK, skryf Rooted in Love as ’n gids in praktiese spiritualiteit vir ons lewe vandag. Van die boek se vertrekpunt sê Margaret Blackie: “Whilst the spirituality is rooted in Catholicism, the ideas are applicable to any Christian. I wrote it with a general Christian audience in mind. It has been read and endorsed by Trevor Hudson – a well-known Methodist minister and author, and Tracy Williamson – a speaker and author who worships in an Evangelical church. I think you will find it both accessible and helpful.”

Sy gee ’n uiteensetting van Ignatius se Spirituele Oefeninge as ’n raamwerk vir spirituele ontwikkeling en groei. “Dit het my ’n taal gegee vir die beskrywing van my innerlike landskap,” sê sy. Dit is gebaseer op die beginsel van “vind God in alle dinge” en is bedoel vir toepassing op die alledaagse lewe, ongeag hoe daardie lewe lyk. Die veronderstelling is nie dat die boek bloot gelees word nie – dis ’n ‘stilhouplek’ vir nadenke, voorraadopname (“Wat presies gaan aan in my lewe?”) en gebed. Vir daardie doel sluit sy vrae vir oordenking in elke hoofstuk in. (Wat is die belangrike dinge in jou interne landskap op die oomblik? Watter uitnodigings is daar? Watter struikelblokke? Wie is die God wat by jou is? Hoe beleef jy God? ensovoorts.)

Die verskillende Ignatius-beginsels en -praktyke help ’n mens om bewustelik en in God se lig na die verskillende aspekte van jou lewe te kyk. Dit moedig jou aan om op te let wat resoneer met die diepste sin van wie jy is, in teenstelling met die dinge wat fragmentasie en verwarring in jou lewe skep. Hierdie proses van “onderskeiding” (discernment) is ’n baie belangrike element in Ignatius-spiritualiteit.

Die skrywer neem ’n mens op ’n pad om na jou geloofsgeskiedenis te kyk. Dis soms moeilik om God te gewaar in die onmiddellikheid van ’n bepaalde oomblik, sê sy; ons moet partykeer eers terugkyk na die hoogte- en laagtepunte en God toelaat om ons te wys waar Hy teenwoordig was. Ek kom God teë in die onthou van my pad. So kan ek begin vertrou dat God my ken en liefhet in elke faset van my lewe.

Sy beskryf die verskillende gebedspraktyke in die Spirituele Oefeninge soos die examen (terugkyk op jou dag), lectio divina (“lees met geheiligde oë”), en skrif-oordenking deur jou verbeelding in te span. Van haar eie gebedslewe as produk van hierdie praktyke sê sy dan: “Through prayer I have learnt about love, forgiveness and healing. I have learnt to sit with my anger, my pain, my disappointment. I have learnt to sit with it until it begins to shift – slowly, slowly it begins to take a new shape. The experience is not forgotten, but the feeling has shifted; something new is emerging. Sometimes it is insight; sometimes compassion; sometimes forgiveness; and eventually (although this can take a good while) joy.”

’n Belangrike element in hierdie geestelike dissipline is “praying for the grace”. Hierdie “grace” beskryf sy as ’n geskenk of genadegawe wat verrassend gegee word wanneer ’n mens met afwagting en in volle oorgawe aan God bid in ’n bepaalde situasie, wetende dat jy dit nie self kan hanteer of oplos nie. Hierdie genadegawe is nie ’n kitsoplossing wat soos ’n towerslag in jou lewe inbreek nie, dis ook nie die antwoord wat jy verwag of eis nie, dit is iets wat op God se tyd en op God se manier aan jou gegee word - geleidelik raak jy bewus van ’n verandering, iets nuuts, ’n oplossing wat jy nie self kon bedink nie. Dit kan slegs gebeur as ’n mens volkome eerlik voor God staan, sonder verwagtings, eise en bestellings, en bewus van God se totaal onvoorwaardelike liefde. “Grace is a remarkable phenomenon,” skryf sy. “In one sense we are held in existence by the grace of God, and so there is no way to escape God’s grace. But our capacity to touch and experience that grace is limited by our desire for control; our desire to dictate the way in which things will turn out, and our lack of freedom – of indifference – regarding the outcome of a particular experience. ... Praying for a particular grace is an act of surrender. It is an acknowledgement of my own limitations, of the unfreedoms I have discovered in myself; and it is a willingness to let God take me where God will. ... Prayer is not an activity so much as it is a way of life.”

Sy sluit af met Ignatius se Suscipe-gebed (suscipe is die Latynse woord vir ‘ontvang’): “Take, Lord, and receive all my liberty, my memory, my understanding and my entire will, all I have and call my own. You have given all to me. To you, Lord, I return it. Everything is yours; do with it what you will. Give me only your love and your grace. That is enough for me.” My genade is vir jou genoeg.