Blog

My Roepingsverhaal - Hoopbringer

 13 Apr 2021  Ds Johan Labuschagne   Dis ‘n Ring-ding

Toe ek jonk was, was ek oortuig dat ek ‘n vlieënier gaan word.  Om die wêreld te kan sien en verantwoordelik te wees vir soveel ander mense se lewens.  Volgens Hettie Brits se boek, “Kweek kinders met karakter”,  floreer ek op verantwoordelikheid. 

Toe ek ouer word het dit geskuif van vlieg na bou, ‘n siviele ingenieur.  Die brûe bou was weereens ‘n trekpleister om mense se lewens beter te kan maak.  Weer die verantwoordelikheid vir ander mense se lewens.  

Op die Sondag van 16 September 2001, sit ek saam met my ouers in NG Gemeente Langenhovenpark, die eerste Sondag na die Twin Towers se aanval in Amerika, en die erediens was daardie Sondag gelei deur prof Fanie Snyman.

Hy lees toe net twee teksverse.  Ek kan nie onthou watter teks nie, maar hy het daardie Sondag gepreek vir elkeen wat bang en bekommerd was oor die toekoms.  Ek was maar 13 jaar oud op daardie stadium, maar selfs ek kon die benoudheid en vrees aanvoel van my ouers en die ander gemeentelede.

Prof Snyman het my daardie oggend aangeraak deur almal in die erediens weer moed, hoop en krag te gee vir die week wat voorlê.  Daardie Sondagmiddag het ek vir my ouers gesê, dis wat ek wil doen.  Hoop gee waar daar geen hoop was nie.

Dit was dus my roepingsondag, 16 September 2001.  Weer het die verantwoordelikheid vir ander mense se lewens na vore gekom.  

Ek het my vrou, Anné Labuschagne (Venter) ontmoet in die NG Gemeente Langenhovenpark en ons was vanaf 2004 in ‘n vaste verhouding gewees tot tans.  Ons is getroud 19 Oktober 2013, nadat ons beide ons studies aan die UV klaargemaak het.  Anné is tans ‘n fisioterapeut by Anné Venter Fisioterapeute.

Ons albei is gebore, geskool en het studeer in Bloemfontein en daarom het ons gedink dat dit tyd was om buite die grense van Bloemfontein te beweeg.  Dit was wel nie die Here se plan vir ons gewees nie.  Ek het my gemeentejaar by NG Gemeente Bainsvlei gedoen en Anné het by fisioterapeute in die stad gewerk. 

Na my gemeentejaar het NG Gemeente Waterbron my gevra om by die gemeente uit te help vir ‘n maand of drie, terwyl hulle besig was om te beroep.  Hulle het my toe beroep in 2013.  Ek was vir 7 jaar die leraar by NG Gemeente Waterbron en is toe beroep in Oktober 2019 na NG Gemeente Universitas-Rif, waar ek tans nog leraar is.

Daar was een Sondagoggend in 2015 waar ek, soos enige ander leraar, opgestaan het om die dinge reg te kry vir die erediens wat gaan volg.  Ek het vir my so ‘n roetine aangeleer waar ek elke Sondagoggend 06:00 opstaan en my preek deurgaan en rustig word voor ek vertrek na die Kerkgebou.

Tydens die 06:00 oggendsessie van voorbereiding het die wete my baie skielik en baie fisies oorval dat dit my lewe gaan wees vir die res van my bedieningsjare.  Dat ons as gesin nooit net sommer op die ingewing van die oomblik kan besluit om die naweek weg te gaan nie.  Dit gaan elke Sondag se storie wees van vroeg opstaan en met redelike spanning vir die erediens wat kom.

Die wete het my daardie oggend baie hard en baie duidelik getref, soveel so dat ek nie kans gesien het vir die erediens nie.  Op daardie oomblik het ek gewonder wat het my besiel om hierdie beroep te kies en onmiddellik het ek aan my roepingsondag gedink en aan prof Fanie Snyman wat hoop vir ons almal gegee het, die oomblik toe ons hooploos was.

Dit was my redding, al ‘n paar keer, wanneer ek myself vra: “Hoekom het jy hierdie beroep gekies, Johan?”  Hierdie beroep is vir my gekies, glo ek met my hele hart, deur die Here en daarom weet ek dat Hy my ook sal lei en toerus.

Ons is ook baie geseënd met twee seuns.  NJ Labuschagne (Nicolaas Johannes) is gebore 2 Oktober 2018 en sy boetie Hanco Labuschagne (Johannes Cornelius) is gebore 4 Januarie 2021.

Die Here se plan met ons lewens was nog altyd ‘n plan wat so uitgewerk het dat dit ons wildste drome oortref het.  Waar ons besluit het dat ons buite Bloemfontein gaan beweeg, het die Here vinnig ‘n stokkie daarvoor gesteek en ons weer teruggebring Bloemfontein toe.

Dit het duidelik geword dat die Here ons nog in Bloemfontein nodig het, vir wát, weet ons self nie.  Ons het wel een ding baie vinnig en baie goed geleer:  Dat ons lewens vir ons uitgelê is volgens die Here se wil en dat ons nie in die pad daarvan kan staan nie, al het ons probeer.

Ons as gesin is baie gelukkig tans in Bloemfontein met ons ouers wat ook hier woonagtig is.  Ons is ook baie gelukkig by NG Gemeente Universitas-Rif.

Nuutste Artikels