Blog

Moedersdag: ‘n Bittersoet ervaring

 6 May 2022  Dr Suzanne van der Merwe & Karli Meyer   Verbi Divini Minister

Sondag 8 Mei 2022 vier alle Suid-Afrikaners Moedersdag. Moedersdag is vir die meeste huishoudings 'n heerlike dag, vol opwinding en natuurlik 'n spesiale bederfie vir Mamma. Dit is dikwels 'n dag wanneer die spreekwoordelike gemeste kalf geslag word. Kinders probeer om, indien dit moontlik is, die dag saam met hulle ouers, spesifiek dan hulle Ma deur te bring. Heerlike etes word met sorg voorberei. Eintlik is dit maar die Moeder wat vir almal die ete voorberei. Natuurlik, doen sy dit met liefde, want haar beloning lê in die teenwoordigheid van haar geliefdes.

Die winkelrakke is propvol met allerlei bederfprodukte vir hierdie baie spesiale mens; badseep, lyfrome, sjokolade, juwele, oulike huisware en nog meer. Meeste skoonheidsalonne bied juis ook in hierdie tyd Moedersdag-pakette aan, om die Mamma in jou lewe te bederf. So ook, doen skole en onderwysers moeite om handgemaakte Moedersdag-geskenkies huis toe te stuur, want hoe kan ‘n Mamma-hart dan nie vermurwe nie, met die aanskoue van haar dogter of seun se eie handewerk. Verder kan kinders ook oulike geskenke by die skool koop, spesiaal vir Mamma, en die heel beste is natuurlik om hierdie geskenkie met trots te oorhandig en om te sien hoe Mamma se gesig ophelder. 

Moedersdag word nie net in die sekulêre wêreld gevier nie. Moedersdag word ook gevier in die kerk, veral in die erediens. In meeste gemeentes is daar die gebruik om tydens die erediens ‘n geskenkie in een of ander vorm uit te deel. Hierdie geskenkies word dikwels deur die Sondagskoolkinders gemaak, en dan ook uitgedeel. Soos wat Mammas die kerkgebou binne stap, word hulle begroet met die mooiste kinderglimlaggies en natuurlik die bederfpakkie wat hulle ontvang. ‘n Spesiale ruiker in die liturgiese ruimte is die volgende merker wat daarop dui dat hierdie nie net nog ‘n erediens is nie. Gedurende die liturgie word daar op een of ander wyse erkenning gegee aan die belangrike rol wat Moeders in die samelewing vervul, hetsy dit deur ‘n lied wat gesing word, ‘n seёngebed wat gebid word, kerse wat aangesteek word, of selfs die preek. Na afloop van die erediens word die Moeders uitgenooi om heerlik te kom tee en koffie drink, in meeste gemeentes is dit ‘n instelling dat die mans daardie dag tee skink.  

Moedersdag is inderdaad ‘n onvergeetlike dag vir ‘n Mamma. ‘n Dag van liefde en geluk en heerlike samesyn.

Daar is egter ook ‘n kant van Moedersdag wat so maklik vergeet word. My eerste persoonlike ervaring van hierdie kant van Moedersdag, was juis tydens ‘n erediens in my hoёrskooljare. Op daardie Moedersdag was ek een van die kinders wat ‘n geskenkie by die deure vir die Mammas uitgedeel het. Soos wat ek die geskenkies uitdeel en met my mooiste glimlag die Mammas van die gemeente begroet, word ek hard aan die arm geruk en gesê: “Daardie Tannie vir wie jy pas ‘n geskenkie uitgedeel het, moes nie een gekry het nie, want sy is NIE ‘n Mamma NIE.” In daardie oomblik het ek bewus geword van twee vrae in my binneste: 

  1. Hoe moes ek weet dat daardie vrou nie kinders het/kon kry nie?
  2. Hoekom moet sy uitgesluit word uit hierdie viering, bloot net omdat sy nie biologiese kinders het/kon kry nie?

Dit was my eerste ervaring van kinderloosheid, alhoewel ek geensins die persoonlike omstandighede van die vrou geken het nie. Jare later sou ek my eie pad met infertiliteit loop.     

En dit is die kant van Moedersdag wat geen vrou voor wens nie, dit is die kant van Moedersdag wat jy geen vrou toewens nie. Die punt is, soveel as wat gesinne dit geniet om hierdie dag te vier, is daar ook die ander kant, die mense vir wie hierdie dag juis nie een van blydskap is nie. ‘n Dag wat eerder vermy sou wou word. ‘n Dag wat oneindige seer en verlies meebring. 

Die realiteit is dat daar verskillende Moedersdagervaringe is. Ek noem enkele van hierdie ervaringe:

  • Die Mamma wat ‘n kind verloor het aan die dood. Hierdie jaar op Moedersdag rou en treur ons saam met julle. 
  • Die Mamma wat verliese beleef het deur miskrame, mislukte aannemings en kinders wat weggeloop het. Hierdie jaar op Moedersdag rou en treur ons saam met julle. 
  • Die nog-nie-Mamma wat die moeilike pad van infertiliteit loop, deur al die toetse, prosedures, moeilike besluite, hoop en teleurstelling – ons loop saam met julle hierdie Moedersdag. Vergewe ons ook wanneer ons dwase opmerkings maak wat die pad nog moeiliker maak as wat dit reeds is.
  • Die kinders wat vanjaar julle moeder verloor het. Ons rou saam met julle.
  • Die kinders wat deur julle Moeder mishandel is. Ons bid vir herstel en genesing. 
  • Die Mamma wat ‘n ander Mamma se kindjie groot maak. Ons bid dat U hulle sal help om daardie komplekse verhoudings na die beste van hul vermoë te hanteer.
  • Vir hulle wie se droom van kleinkinders nooit bewaarheid is nie, of wie se kleinkinders oorsee bly – sal U hulle troos.
  • Die Mamma wat haar kind laat plaas vir aanneming. Ons eer hulle selfloosheid en onthou dat hulle daardie kind in hulle hart vashou.

Mag ons juis op Moedersdag met sagtheid en deernis dink aan al die Mamma’s. 

Ons onthou hulle. 

Ons eer hulle. 

Ons deel in hulle vreugdes en pyn.