Blog

Levitikus 19:33-34, Gemeentes se roeping

 1 Jul 2021  Dr Nico Mostert   Vennote in Getuienis

So ‘n tyd gelede is ons hier in Bloemfontein geruk met die beelde van brandende bande en betogers in die strate wat die hele stad tot stilstand geruk het. Die rede hiervoor was dat die gebrek aan dienslewering vanaf die Mangaung munisipaliteit, daartoe gelei het dat die gemeenskap van Bloemfontein se geduld kookpunt bereik het. Geweld en vernietiging was die wyse of metodiek waarop die frustrasies ten toon gestel is. Woedende groepe wat deur die strate beweeg het, was die beelde op ons skerms en voorblaaie. Dit is nie net dienslewering wat aanleiding gee tot dit nie, dit is ook die geweldige hoë vlakke van werkloosheid in arm gemeenskappe wat ‘n aandeel het. 

As ‘n inwoner van die stad deel ek die frustrasie rondom dienslewering, veral te meer nog as ‘n belastingbetaler wat moet opdok vir dienste wat nie gelewer word nie. Ek het baie simpatie met die saak, maar beslis nie met die metodiek nie. Dit is juis in hierdie metodiek van afbrand en vernietig dat mense, en veral een groep, ingesleep word met ‘n vernietigende effek. Hierdie groep is die buitelanders, of “African expats” soos hulle ook bekend staan. Tydens die onrus is baie van hulle se besighede vernietig, hulle winkels geplunder en daar is van hulle dood. Stil- stil het dit gebeur onder die dekmantel van die dienslewering-betogings. 

Daar is onder ons as mense altyd die soeke na ‘n skuldige. Buitelanders kry maklik die skuld vir werksverliese en belastingontduiking. Gesels jy met hulle en kyk jy na ekonomiese data, kom jy agter dat die teendeel in baie gevalle waar is. Hulle verskaf werk, neem mense in diens, maak winkels oop waar geen winkels is nie op versoek van gemeenskappe en investeer hulle eie kapitaal. Hulle wil belasting betaal maar kan nie ‘n bankrekening oopmaak nie, want binnelandse sake-personeel wil nie hulle verblyfdokumente prosesseer sonder ‘n “bribe” nie. Sonder ‘n bankrekening kan jy nie vir SARS betaal nie. Dis ‘n bose kringloop!

Die SA Raad van Kerke in die Vrystaat het ‘n tyd gelede uitgereik na hierdie gemeenskap in ons midde. By die AGS Jubelate-gemeente in Hilton is daar ‘n gemeente van oor die 700 Ethiopiërs met ‘n pastoor wat deur die AGS opgelei en georden is. Daar is mense van Ghana, Congo, Somalië, Zimbabwe en vele meer Afrika-lande. Elkeen met sy/haar eie verhaal oor hoekom hulle hier is. Daar is verhale van mense wat hulle families 15 en 20 jaar laas gesien het. Van medelandgenote wat gesterf het hier en nie begrawe kan word nie, want hulle het geen wettige status in die land nie. Ons kon maar net luister, soms ons koppe in skaamte laat sak en saam met mekaar bid. 

Dan kom die teks in Levitikus 19:33-34 my mens op wat soos volg lees:” 33 “Wanneer daar ’n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. 34 Julle moet hom soos ’n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God[1]”. Sjoe, ons optrede teenoor vreemdelinge getuig in baie gevalle glad nie van dit wat die teks vra nie. Ek dink sommer aan Jesus wat reeds op ‘n vroeë ouderdom ‘n vlugteling was in Egipte toe die babaseuns doodgemaak is in sy eie land. In hierdie einste Jesus se kruisdood word ons broers en susters van mekaar al kom ek van Suid Afrika en jy uit Ghana. Ek moet liefhê soos ek myself liefhet, sê Levitikus. Dit was nog voor Jesus dit gesê het! Die liefdesgebod stop nie by landgenote nie, dit gaan oor die grense. 

Elke dorp in die Vrystaat waar daar ‘n gemeente is, het self ‘n kwota buitelanders. Hulle is ‘n klein groep wat baie blootgestel is aan korrupsie, misdaad en geweld. Zenophobie is die haat van die een wat anders is as ek. Ons as gemeentes se roeping is juis om uit te reik, te help waar ons kan, Jesus se goeie nuus te deel en dalk nog ‘n broer of suster uit ‘n ander land te ontdek. Dit is maklik om saam te skree en nog baie makliker om te maak of ek nie sien nie. Ek dink nie dit is wat Levitikus in gedagte gehad nie. Ons as gemeentes kan juis plekke en mense van veiligheid word. Soms kan ons nie veel doen nie, maar ons kan luister, raad gee en saam bid. Dit gaan egter vra dat ons sensitief sal wees vir almal in ons dorp se behoeftes, ook hulle wat anders is as ons.

(Foto verskaf)

Nuutste Artikels