Blog

LECTIO DIVINA Clarens 2–4 Mei: Die wydsheid van God

 18 May 2021  Magdaleen du Toit   Bedieningsbegeleiding

Lectio divina is ’n geloofsgewoonte (losweg vertaal as: om met geheiligde oë, ‘God se oë’, te lees) en is ’n tradisie uit die vroeë kerk. Dit het ontstaan omdat die monnike in die destydse kloosters meestal ongeletterd was. Die gebruik was dan dat die daaglikse Skriflesing waargeneem word deur een van die enkele geletterdes onder hulle geledere. Die monnike het bymekaargekom en die voorleser het die gedeelte vir die dag voorgelees. En weer gelees en weer en weer gelees. Terwyl die Skrifdeel herhaal word, haal elke toehoorder uit die gelese gedeelte die spesifieke woord, vers of gedagte wat hom op daardie oomblik die diepste tref, staan op en gaan stil uit na sy sel om daardie ‘goudklont’ te oordink – God se woord vir hom vir daardie dag.

Die tema van die Clarens-retreat vir ringsvertenwoordigers vanoor die hele Vrystaat was Oop Ruimtes. Ons het in die Lectio Divina-uur gekyk na die tema van noutes en ruimtes.

Psalm 4:2: Toe ek in die noute was, het u vir my ruimte gemaak.

Psalm 118: 5:

Uit die benoudheid het ek die HERE aangeroep, die HERE het my verhoor in die ruimte. (1933/1953-vertaling).

In my angs het ek geroep: “HERE!” Hy het my geantwoord; die HERE het vir my ruimte gemaak. (2020-vertaling).

Pushed to the wall, I called to GOD; from the wide open spaces, He answered. (The Message).

“I called to the Lord from my narrow prison and he answered me in the freedom of space.” (Victor Frankl in sy boek Man’s search for meaning na aanleiding van sy aanhouding in ’n Nazi-konsentrasiekamp).

From the narrow place I called out to God; He answered me from the wideness of God (… die wydsheid van God) – Jacqueline Osherow, Joodse akademikus en digter.

Ek het aan God as ‘ruimte’ gedink terwyl ek ’n paar weke gelede vroegoggend op ’n balkon in die KZN-Middellande gesit het met ’n diep vallei wat onder my wegval tot by die berge op die verste einder. In die wye ruimte onder my het swaeltjies gedartel en geduik en ek het my verkyk aan die vryheid en vreugde van hulle vlug. Op die stoep onder my was hulle moddernes, ’n eng donker ruimte.

Kyk na die foto’s: die wye Vrystaatse landskap naby Verkykerskop, en die swaeltjie op die lemmetjiesdraad. In albei is daar ’n suggestie van sowel inperking as vryheid. Dink daaroor na. Watter noutes ervaar jy: In jou daaglikse omgewing? In jou gedagtes, jou idees, jou beskouings? In beperkings wat op jou gelê word? God bied speelruimte, die eindelose moontlikheid om kreatief ’n ruim wêreld te skep.

God praat ook met ons deur ons sintuie, deur ons ervarings van elke dag, deur ons emosies. “God comes to us disguised as our lives,” sê Paula D’arcy, skrywer en retreatleier. “… Hy weet nie van afsondering nie, sit nie / skilderagtig geraam in die hemel nie, hy is oral ...” sê TT Cloete in sy vers Alomteenwoordigheid. Hoe lees ons ons lewens met geheiligde oë? Hoe antwoord ons op God se stem in ons daaglikse ervarings?

Daar was ’n tyd in my eie lewe toe ek met ’n probleem geworstel het en soveel tollende gedagtes in my binnewêreld gehad het dat ek omtrent afgesny was van my buitewêreld. Toe ry ek op ’n dag deur die Vrystaatse landskap en dis skielik asof my oë wakker word: ek raak bewus van die pragtige grasveld reg rondom my. Dit lyk soos die pels van ’n groot dier en ek dink: Net ’n baie groot hand sal hierdie pels kan streel – God se hand. En toe dink ek ’n haikoe uit (dis ’n driereëlige vers met ’n vaste lettergreeppatroon: vyf in die eerste reël, sewe in die tweede reël, vyf in die derde reël – so min of meer):

Pels van blonde gras

God streel met ’n hand daaroor: 

Aarde, maar dis sag!

Hierdie eenvoudige versies het vir my ’n manier geword om aandag te gee en te reageer op my wêreld, om God se teenwoordigheid in my wêreld af te lees en dit vir my toe te eien. Tydens ’n vroegoggendstap in die Baleleberge lê miswolke oor alles, totdat die son skielik deurbreek:

Die mis lig en God

se verblindende oog tuur oor 

nuutgebore wêreld

Op ’n oggend vang my oog in die kombuis die skottelgoed in die droograk ná ’n eenvoudige ete die vorige aand. Dit word ’n nagmaal-metafoor – ’n bevestiging dat die mees alledaagse ervaring ’n sakramentele karakter kan aanneem:

Sakrament

Bord, beker, wynglas:

My skottelgoed getuig van 

’n nagmaal-lewe

Kyk na die foto. Wat merk jy nog behalwe die skottelgoed?

Die teenwoordiges is ook genooi om ’n paar minute lank buite rond te stap en die omgewing te ‘lees’: die makro-wêreld met blou lug, berge, kranse, bome in herfsgewaad; en die mikro-wêreld: saadjies, disselpluime, insekte, piepklein blommetjies in die gras ...

Elkeen het iets van hul wandeltog saamgebring:

Hoe praat God met jou in jou eie lewe? Wat merk jy as jy met aandag kyk om die merke van God se teenwoordigheid in jou eie lewe raak te lees?

Foto's verskaf deur Magdaleen du Toit