Blog

Laetus Lategan – so helder soos glas

 20 May 2022  Mev Mariëtte Odendaal   Bedieningsbegeleiding

Dis Maart 2022. Die sinodesitting van die NG Kerk Vrystaat se besprekingspunte op die agenda draai effe vas by sommige punte. Daar stap weer iemand vorentoe om ’n mening te gee. Nog een …

Maar hierdie keer is dit totaal anders. Ná die eerste sin sit ek kiertsregop en spits my ore. Elke woord wat by sy mond uitkom, klink soos geartikuleerde note van ’n viool uit ’n stowwerige wakis wat skielik lewe kry – dis so helder soos glas. Hy praat met kennis en gesag, soos iemand wat al die lewe geleef en lewenskrisisse deurdink en -worstel het; wat met diepe insig en deernis anderkant uitgekom het tot hier waar hy nou by die mikrofoon staan en ons aan sy voete kan kom sit en leer. As ons wil …

Dis twee maande later en ek probeer meer uitvind oor wie Laetus Lategan nou eintlik is.

Laetus is ’n gebore Vrystater in murg en been. Hy woon in Bloemfontein en hy noem dit sy ‘poste restante’. “Dis my blyplek en ek hoop dit kan altyd so wees,” sê hy. “Die aangrypende wisselende seisoene van die Vrystaat laat staan my steeds in verwondering.”

So ’n beleë mens moes baie besondere invloede in sy vormingsjare gehad het. Hy vertel: “My ouers het ’n groot invloed op my lewe gehad. Hulle het intens in my belanggestel. My vader is oorlede toe ek nog op skool was – iets wat my op ’n jeugdige ouderdom van verlies geleer het. My moeder weer, het my anders na die lewe laat kyk, soos Some people ask why? I ask why not? Jy hoef nie te dink soos ander mense nie!”

Daar was ’n oom wat verkies het om buite die bestaande raamwerk van sy tyd te leef; iets wat vir die jong Laetus laat besef het dat jy keuses kan maak wat nie noodwendig ander se goedkeuring hoef weg te dra nie. Daar was ook twee tantes – een wat koffie en fyngebak in die fynste porselein kon bedien en die ander een vir wie herkoms belangrik was. “Al hierdie indrukke, en nog meer, het my laat besef dat die lewe veelkantig is,” verduidelik Laetus.

“Ons gemeenteleraar, wat later professor geword het, het ook ’n groot invloed op my toekomsdrome gehad. Hy was dubbel gedoktoreer. As kind het ek nie heeltemal geweet wat dit beteken nie, maar dit het my geïnspireer om ook eendag hoë geleerdheid te bekom.”

Daar was twee toneelstukke in die Bloemfonteinse Stadskouburg wat ’n groot indruk op Laetus se jong gemoed gemaak het: “Ek het toe niks van die boodskap verstaan nie, maar die opvoering was kragdadig. Ek het eers later in my lewe besef wat die boodskap van onderskeidelik Die swerfjare van Poppie Nongena (Elsa Joubert) en Faan se trein (Pieter Fourie) was. En natuurlik die onsterflike: Love means never having to say you’re sorry uit die film, Love Story. Terugskouend besef ek dat jy die lewe deur ander se oë kan sien.”

Laetus voltooi sy skoolloopbaan aan Grey Kollege (van Sub A tot matriek) waar beroemde oud-Greys vir hom ’n aansporing was. “Ek het groot bewondering vir WA de Klerk en Etienne Leroux gehad. Gesprekke met hulle bly my by. ’n Boek van WA de Klerk, As die reier noord vlieg, het my (weereens) laat besef wat in die lewe saak maak. En natuurlik Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins en Magersfontein, O Magersfontein! Ek wonder nog steeds oor Salome Silberstein ...”

Laetus stof sy eertydse predikant uit en doktoreer drié maal aan die Universiteit van die (Oranje) Vrystaat by drie verskillende fakulteite. Eers in filosofie (1992), toe teologie (1995) en daarna in gemeenskapsgesondheid (2021). In antwoord waarom aan een universiteit, antwoord hy: “Wat mense nie besef nie, is dat wetenskap-dissiplines verskil. So ook paradigmas en metodes. Tyd en konteks speel ook ’n rol. As filosofiestudent byvoorbeeld, was ek geskool in Dooyeweerd se wysbegeete van die wetsidee. Johan Heyns se koninkrykteologie het my verbeelding aangegryp. In die Fakulteit Gesondheidswetenskappe waar ek onlangs gedoktoreer het, was ek blootgestel aan data-gedrewe studies. Dit was vir my nuut as student. Een van my nagraadse studies het as titel gehad: Die wese van ’n universiteit. Dit het my loopbaan in hoër onderwys gerig.”

So, hoe het hy dan in teologie en filosofie geïnteresseerd geraak? Laetus vertel: “Ek was ’n ingeskrewe BA Teologie-student met filosofie, eers as byvak en later as hoofvak. Tydens my inskrywing as eerstejaarstudent het ’n professor gesê die vak, wysbegeerte, help met die dogmatiek. Ek het niks verstaan wat hy wou sê nie. Ek begryp dit nou.”

Die filosofie-professore het vir hom ’n nuwe wêreld help ontsluit. “Ek het dalk alles vergeet wat ek by hulle geleer het, behalwe: Verlossing is nie die wegbeweeg uit die wêreld nie, maar juis die beweeg na die wêreld,” vertel Laetus. “Ek dink die bedoeling was dat jy moet glo in ’n konkrete wêreld, ongeag wat die omstandighede mag wees. Ook dat die lewe uit beide vreugde én teleurstelling bestaan. Hoe ouer ek word, hoe meer berus ek by laasgenoemde. Ek verstaan Psalm 16 teen die agtergrond hiervan.”  

As ek hom meer uitvra oor sy loopbaan, antwoord hy as volg: “Ek het doelbewus ’n akademiese loopbaan gekies. Ek wou die wêreld van idees verken. Ek glo steeds jy kan die wêreld met idees verander. Ek verkies die positiewe kant van idees, naamlik die droom van ’n beter wêreld. My lewensmotto is Môre is ek ’n nuwe mens. Idees in die negatiewe sin word ideologieë; dit verblind ons om net een doel na te jaag. Ek sal maar ’n slegte soldaat wees – en ek verkondig dit trots!”

Laetus het sy loopbaan as navorser in hoër onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat begin. “Danksy die kennis van hoër onderwyssisteme, beleide en praktyke is ek aangestel as uitvoerende assistent van die rektor van die voormalige Technikon Vrystaat,” vertel Laetus. “Die opdrag aan my was om te help om dit in ’n universiteit te ontwikkel. Dit het later gelei tot my betrokkenheid by die ontwikkeling en bestuur van navorsing. Sisteme is gevestig, beleide geskryf, werkswinkels gehou, befondsing verkry en dies meer. Oor ’n tydperk van 20 jaar het ek verskeie rolle gehad as dekaan en senior direkteur vir navorsingsontwikkeling en nagraadse studies. Nou doen ek net navorsing oor nagraadse studente. As ek terugkyk, is ek trots om die Sentrale Universiteit vir Tegnologie se navorsingsuitsette en impak te sien. Die beloning was meer as waarop ek gehoop het: Ek het nie net by ‘n universiteit gewerk nie, ek het een help bou. Ek was ook bevoorregd om drie verskillende professorate te kon beklee. Dit het gehelp om nie eensydig na sake te kyk nie.”  

Tydens die sinodesitting was ek gefassineerd oor hoe helder hy moeilike kwessies kon verwoord. Ek vra dat hy net kortliks weer moet verduidelik, soos tydens die sinodesitting, hoe ons as Christene die waarde wat die wetenskap vir ons het, moet verstaan? Hy antwoord: “Die wetenskap is die bril waardeur ons die wonder, diepgang en diversiteit van die skepping moet raaksien. Ons vergeet egter dat geloof ’n vaste vertroue is op dit wat jy nie kan sien nie, maar waarvan jy oortuig is en jou hoop op vestig. Geloof sien die onsienlike. Wetenskap is die lewering van bewyse. Dit sien die sienlike. Dit vra ‘Hoekom’? Ongelukkig maak ons van die Bybel wat dit nie is nie. Dit is nie ’n kodering van wáárom en hóékom nie. In Psalm 139 dig die psalmis oor die skepping van die mens. God was daar. Die skrywer ken nie sonartegnologie nie. Sonartegnologie sê nie dat daar nie ’n God is nie; dit verduidelik beeldeliks menslike ontwikkeling.”

Ek vra hom meer uit oor waarom mense sukkel om singewende standpunte te snap. Hoe word mense se menings gevorm en watter faktore bepaal watter denkrigtings jy vorm? Hoe gevaarlik is dit in ‘n tyd van mediaplatforms wat ook ’n groot invloed op ons menings het?

Laetus antwoord as volg daarop: “Die wetenskap het my geleer om verdraagsaam te wees. So ook my ervaring as navorsingsbestuurder. Jy moet na ander luister en ten minste oorweeg wat hulle sê. Ek het vroeg in my lewe besluit: Dink wat jy sê; sê nie wat jy dink nie. Kwessies soos Skrifgesag en selfdegeslagverhoudings wat by die sinodesitting bespreek is, is nie wiskundige sake nie. Die lewe is nie ’n optelsom nie. Hierdie kwessies is verweef met persoonlike oortuiging. My indruk is dat mense dikwels klaar besluit het wat die antwoord moet wees. Om ons standpunte geloofwaardig te maak, haak ons ’n Bybelvers of teorie aan. Dit is dan die ‘gesag’, maar begryp ons altyd wat die werklike betekenis of die bedoeling van die ‘gesag’ is wat ons aanbied?

“Ek sien dikwels dat mense eenkantig na ’n saak kyk sonder om ander moontlikhede te oorweeg. Mense volg ook die massa se siening. Daar is veiligheid in getalle. Gelukkig het Galileo dit nie gedoen nie. Ons moet ook nie die ou strategie vergeet van ‘verdeel en heers’ nie. My standpunt is steeds: Al het ek ’n siening, dwing ek dit nie aan ander op nie. Ons verguis mekaar dikwels in die naam van dit wat ons glo. Hierdie is allermins die evangeliese weg.”

As jy Laetus vra hoe hy in gerontologie (bejaardheidswetenskap) beland het, antwoord hy as volg: “Ek was van jongs af blootgestel aan ouerwordende gemeenskappe. My moeder, wat ’n geregistreerde verpleegster was, was van die eerste mense wat hierdie vakgebied bestudeer het. Ek het dikwels gesien hoe ouer mense as rede vir hulle kinders se besluite voorgehou word, maar die uitkoms van die besluit het geen betekenis vir die ouers nie. Mense dink ook dat as jy oud is, jy nie meer weet en verstaan nie; iemand moet vir jou dink en besluite neem. Dit is ook so dat geriatriese gemeenskappe aan die agterste speen suig as dit by versorging kom. Daar is ook min gesprek oor die versorging van geriatriese mense. Ek is byvoorbeeld nie bewus van ’n nasionale strategie en beleid van die Departement Gesondheid as dit kom by die versorging van ouer mense nie. My studie wou ’n bydrae tot hierdie gemeenskappe lewer.  

“Ek ken baie ouer mense wat nog net so aktief – fisiek en intellektueel – is as baie jonger mense. Hul veerkragtigheid val my op. Wat my interesseer, is die ‘opruim’ van die lewe. Hoe sluit jy ’n lewe af? Of hoe maak jy vrede met verspeelde somers? Of teleurstellings? Hoe sing jy Nader my God by U? Prediker 12 is ongeëwenaard.”

Laetus vind by die volgende skrywers inspirasie oor hoe om sin uit die lewe te help maak: “My Belgiese mentor, prof Roger Burggraeve, se gedagtes vind ek altyd nuut en oorspronklik. Roger, internasionaal-erkende Levinas-navorser, het die konsep van groei-etiek ontwikkel. Geen situasie is volmaak nie. Jy neem besluite met die inligting en omstandighede wat nou tot jou beskikking is, maar jy volstaan dan nie daarmee nie; jy streef na wat die ideaal is. Ook die begrip, ‘gekkenwerk’. Ons doen goed aan ander sonder dat daar ’n rede hoef te wees om dit te doen.”

Marieta van der Vyver se boeke is ook op Laetus se leeslys. “Daarin is self-insig en haar verhale het, volgens my mening, altyd ’n positiewe uitkoms.”

Laetus is ook lief vir digbundels. Hy lees graag Hennie Aucamp se kwatryn, Leë huis.

Seën die dinge wat jou huis verlaat / Ek wens ook die ontvangers daarvan geluk; /

Dit was nooit besit nie. Net geleen: / Laat kragtiger skouers nou daaronder buk.

Uys Krige se ‘Ken jy die see?’ is ook ’n gunsteling, veral die refrein: Ken jy die see, Meneer, ken jy die see? / Hy lyk nou soos jou voorstoep blinkgeskuur / en kalm soos min dinge hier benee, / maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur. / Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

“En moenie musiek-lirieke vergeet nie,” sê Laetus. “Daar is lewenswaarhede in, soos Koos du Plessis dit so aangrypend verwoord: Want oor die rand van die glas lyk dit als nommerpas. / En van die vurige hofmaak hoor ons later in die hofsaak.

Wanneer daar tyd is, snuffel Laetus graag rond in pandjieswinkels. Hy is lief vir ’n winskopie, bestudeer graag advertensies en is gaande oor “koop een, kry twee gratis”! Sy jaarlikse onderneming is dan gewoonlik: Hierdie jaar ruim ek my werkwêreld op – net om volgende jaar weer van vooraf te begin!

Laetus is getroud met Hanlie Nel, “hoof-uitvoerende beampte van die Lategan Stigting – dis meer verbeeldingryk as die titel, tuisteskepper!” Hulle is op ’n skrikkeldag getroud. “Ons lewens is verweef met gedeelde ervarings en selfs opponerende sienswyses,” vertel Laetus. “Claudia Breij se lied, Mag ik dan bij jou, sê iets van ons verhouding. Mag ik dan bij jou schuilen / Als het nergens anders kan? / En als ik moet huilen / Droog jij m’n tranen dan? / Want als ik bij jou mag / Mag jij altijd bij mij.

Foto deur Tertius Botha: Prof Laetus Lategan

Nuutste Artikels