Blog

Kontemplatiewe kuns: Woordelose gebed

 27 Aug 2021  Me Magdaleen du Toit   Spiritualiteit Netwerk

“Wat is kontemplantiewe kuns?” vra iemand. Dis makliker om dit te ervaar as om dit te verduidelik. Kom ek vertel ’n storie teen die agtergrond van die onlangse plundering en geweld in KZN. Ek is deel van ’n Zoom-groep wat kunsklasse neem by Hermine Spies-Coleman, ’n kunstenares met ’n ateljee in die KZN-Middellande naby Howick. Ons vergader op Maandag-oggende op Zoom en plaas dan verder deur die week foto’s van ons werk op ’n whatsApp-groep waar ons ook wedersyds kan kommentaar lewer.

Op Maandagaand 12 Julie, skuins voor 22:00, kom ’n whatsApp-boodskap van Hermine dat die bloekomplantasie aangrensend aan hulle huis en kunsateljee in ligte laaie staan. Iemand is opgemerk wat deur die bos gehardloop en die brand gestig het. Hermine laat weet Sappi het kom help, die brand is geblus, maar die vlamme het weer orent gevlieg toe die brandblusspanne vertrek, en die proses moes herhaal word.

Die volgende oggend: Hermine laat weet: “We are fine. Lots of smoke in the Midlands as the wind is not moving. I found myself completely at a loss for what to do … ended up sharpening pencils.” Welly, ‘n groeplid op ‘n hoewe naby Pietermaritzburg, laat weet: “Rioters all around ...” Ons is almal verslae, en die verslaentheid en hooploosheid neem net toe soos die dae aanstap en die ongelooflike beelde van verwoesting en verskrikking op die mediaskerms mekaar opvolg. Niemand het die energie om aan ’n kunsprojek te werk nie. 

Hermine laat weet: “We are all disheartened, sad and demotivated. I thought: Shall we cancel this week’s Zoom? But then I got a clear directive: this week’s Zoom will be the most important Zoom of all. See you on Monday.” Dit herinner aan die woorde van die skryfster Toni Morisson in ‘n moeilike tyd: This is precisely the time when artists go to work. There is no time for despair, no place for self-pity, no need for silence, no room for fear. We speak, we write, we do language. That is how civilizations heal.

Wat is die sleutel? Die antwoord is eenvoudig: Kreatiewe werk kweek ’n kreatiewe houding, en kreatiwiteit is nodig om te kan herskep, heel te maak, nuwe oplossings te bedink.

Ek werk intuïtief, my werk word ‘n “woedende landskap”.

 

Woedende Landskap

Welly skryf: Thought about sparrows this morning, how they go about their lives and fill the air with their music. They’re each significant. Then looked outside the window and noticed these. Found my symbol. 

Foto van twee mossies

Sy maak ’n skildery van die twee mossies teen die agtergrond van ’n vuurgloed:

Skildery van mossies

Dit laat my dink aan die refrein uit die aangrypende “Hot Gates” van Laurika Rauch: I can see a fiery, fiery glow / even as the sun is sinking low …

Hermine moedig ons aan om wedersyds verder aan mekaar se kunswerke te werk om te sien hoe idees verder uitgebrei en ontwikkel kan word. Welly vra my om die mossie-skildery verder te neem. Ek sal probeer, sê ek, maar ek trap op heilige grond. Die uitdrukking van emosie in Welly se werk is so sterk en suiwer dat ek amper nie daaraan wil raak nie. Ek gaan sit toe liewer en dink aan my eie ervarings met voëls in die onlangse verlede om ‘n idee te kry vir ‘n kunswerk. Daar was twee ervarings wat besonder betekenisvol was:

Die eerste keer was toe ek vroeër vanjaar by Hermine in die Middellande tuisgegaan het. Die huis sit teen ’n hoogte bokant ’n diep, wye vallei. Ek het op die balkon gesit wat oor die vallei uitkyk en opgemerk hoe ‘n handvol swaeltjies onder my in die wye ruimte duik en sweef. Ek het gedink aan hulle donker modderhuisie in die hoek van die stoep onder my, maar hulle het vir hulle die vryheid en vreugde van die eindelose ruimte toe-geëien.

Psalm 4:2: Toe ek in die noute was, het u vir my ruimte gemaak.

Psalm 118:5: Uit die benoudheid het ek die Here aangeroep, die Here het my verhoor in die ruimte.

(Hierdie swaeltjies het die metafoor geword vir die tema “Oop ruimtes” vir ‘n oggendwyding tydens die Clarens-retreat vir ringsvoorsitters.)

My ander voëltjie-ontmoeting was ’n paar weke gelede toe ek na Pretoria op pad was en laataand by die Grasmere 1Stop op die parkeerterrein stilgehou het. ’n Roering in die bome bokant my het my aandag getrek. Blare? Nee, dit was honderde voëltjies wat hulle vir die nag tuisgemaak het op elke winterkaal takkie van die bome bokant die motors. Verstommend, so ’n gemeenskap van voëltjies, veilig en warm bymekaar. Ek het my vergaap! 

Fotos van voëltjies in bome

Vir my kunswerk wou ek iets maak wat die vrye vlug van die swaels uitbeeld, maar ook die nabyheid en gemeenskap van die parkeerterrein-voëltjies. Ek het met die foto van Welly se mossies rondgespeel op die Snapseed-App op my foon en die kleure verander, dit uitgedruk en die voëltjies uitgeknip, vluglyne geteken en die voëls wat vry vlieg ingeverf, maar ook voëltjies ingeplak wat veilig in ’n gemeenskap saamgebondel is. Uiteindelik het dit so gelyk:

Finale voëlskildery

Die gevolg van hierdie proses? Troos, inspirasie, hoop, moed ... bewuswording. Bewustheid dat daar woordeloos met ons gepraat word, deur vuur heen, maar veral deur alledaagse belewenisse te midde van die krisis. Klein simbole wat oor ons pad kom, maar wat ’n veel wyer betekenis inhou as die onmiddellike krisis. Die gedeelde skeppingsproses het die belewenis vir ons versterk, ons dieper bewus gemaak van elke element van die ervaring. Ons kon mekaar se arms omhoog hou. 

Welly het die laaste woord:

When peaceful sounds

of bustling birds

fill the air around me

and the quietness 

of the stretched-out land 

fills my mind and heart 

gunshots and smoke

of nearby rioting and burning

foster fear and isolation 

in barricaded existence

When finally the dust has settled

and the experience still lingers

we feel strangely more at home

connected to those around 

and willing to explore

Magdaleen du Toit is lid van die Spiritualiteit Netwerk van die Vrystaatse sinode. Sy is opgelei as gebeds- en spirituele begeleier en bied werkswinkels en retreats met kreatiwiteit en kontemplatiewe kuns as temas aan. Kontak haar by 083 226 9732.

Woorde en beelde gebruik met toestemming van Hermine Spies-Coleman en Welly den Hollander.

Nuutste Artikels