Blog

Klimaatkrisis

 18 Mar 2021  Oorgeneem by: Elise Tempelhoff   Ekologie

18 Januarie 2021

’n Somber toekoms staar die aarde en alle lewe daarop in die gesig omdat mense nie ag slaan op waarskuwings oor biodiversiteitsverlies en die klimaatkrisis nie. Indien mense nie nóú hul gedrag verander nie, hou die toekoms ernstige gevare vir die mensdom in.

Dít is die waarskuwing deur 17 kundiges wat opgeneem is in die vaktydskrif Frontiers in Conservation Science.

Kundiges in onder meer die ekologie, biologie, ingenieurswese, tegnologie, antropologie en energie skryf in die artikel “Underestimating the Challenges of Avoiding a Ghastly Future” mense begryp nie die omvang van die klimaatkrisis en die verlies aan biodiversiteit nie. Die skrywers kom tot die slotsom dat die gebrek aan begrip en kennis van die erns van die si­tuasie moontlik die rede is waarom mense nie hul gedrag verander nie.

In die artikel, wat verlede week verskyn het, pak die skrywers die skuld vir die situasie op mense, wat die oorsaak is van die vinnige verlies aan biodiversiteit. Daarby vernietig die mens die aarde se vermoë om komplekse lewensvorme te onderhou.

Die kundiges, waaronder prof. Paul Ehrlich van die Universiteit van Stanford en mede-outeur van die boek The Population Bomb (1968), sê die planeet is in ’n swakker toestand as wat selfs die meeste wetenskaplikes besef.

Die outeurs verwys ook na die oorbevolking van die aarde en sê dít veroorsaak onder meer gronderosie, biodiversiteitsverlies, hongersnood en burgerlike opstand.

“Die omvang van die ekologiese krisis en die bedreiging vir die voortbestaan van die mensdom en die biosfeer is so omvangryk dat selfs goed ingeligte wetenskaplikes dit nie ten volle begryp nie.”

Hoewel die kundiges benadruk dat hulle nog nie moed oor die toekoms verloor het nie, sê hulle dít wat die menslike beskawing aanmekaar hou, rafel vinniger as ooit uit.

Hulle sê die internasionale gemeenskap is nie gereed vir massas klimaatvlugtelinge, meer pandemies en toekomstige konflikte oor natuurlike hulpbronne (onder meer grond, water en skoon lug) nie.

“Ons waarskuwing is nie daarop gemik om mense moedeloos te maak nie, maar ons probeer wêreldleiers – wat die meeste besluite oor die toekoms van die mensdom neem – wakker skud om op te tree en te voorkom dat die wêreld ’n skrikwekkende toekoms binnegaan.”

Die skrywers sê die oplossings vir dié “enorme probleem” is voor-die-hand-liggend en terselfdertyd verreikend omdat dit onder meer ingrypende veranderinge aan globale kapitalisme, bevolkingsaanwas, onderwys en ongelykheid verg.

Van die aanbevelings wat volgens hulle kan help om die situasie te beredder, is geboortebeperking, ’n omvattende verandering in verbruikerspatrone en die algehele skrapping van die idee dat ekonomiese vooruitgang op ’n planeet met beperkte hulpbronne moontlik is.

Hulle doen ’n dringende beroep op regerings om onmiddellik van fossielbrandstowwe af te sien. Korporasies en nywerhede wat misleidende propaganda verkondig of hulle skuldig maak aan “fopvergroening” (green­washing) moet vervolg word.

“Die skrikwekkende situasie waarin die planeet hom bevind, plaas buitengewone druk op wetenskaplikes om hul boodskap met groter dringendheid aan gewone mense, die sakegemeenskap en politici oor te dra.”

Luidens die verslag kan die vernietiging van die aarde onder meer toegeskryf word aan die gebruik van fossielbrandstowwe vir die opwekking van energie en die vervaardiging van plastiek.

In die verslag word na “politieke impotensie” verwys waar regse leiers, soos dié in Brasilië, Amerika en Australië, omgewingsbewaarders en aktiviste as “die vyand” brandmerk.

Volgens die skrywers bedryf ’n deel van die mensdom ’n piramideskema wat die breë samelewing en toekomstige geslagte van die natuur beroof om te betaal vir materiële gewin op kort termyn.

Ook die Wêreldbank word nie in die verslag gespaar nie. Die skrywers beskuldig dié instelling daarvan dat hy misleidende propaganda gebruik oor onbeperkte ekonomiese groei.

Verlies aan biodiversieit:

  • Sedert landbou 11 000 jaar gelede ontstaan het, het die biomassa van natuurlike plantegroei met die helfte afgeneem, terwyl 70% van die aarde se oppervlakte in dié tyd deur die mens verander is.
  • 700 gewerwelde spesies en 600 plantspesies het die afgelope 500 jaar uitgesterf. Dit kan selfs meer wees omdat baie spesies waarskynlik uitgesterf het sonder dat hulle gedokumenteer is.
  • Die bevolkingsgrootte van gewerwelde spesies het in die afgelope vyf dekades (van 1970 af) met tot 68% afgeneem. Dit beteken dat hul genetiese diversiteit onder groot druk is.
  • Lewende hawe (vir vleisproduksie) maak 59% van die biomassa op aarde uit. Die mens maak 36% daarvan uit en die res, net 5%, bestaan uit wilde diere, plante, voëls en amfibieë.
  • Die status van 40% van alle plantspesies op die planeet is bedreig.
  • Net 15% van alle vleie wat 300 jaar gelede bestaan het, bestaan steeds.
  • Die vloei van 75% van alle riviere op die planeet is verander. Baie daarvan is opgedam en verlê.
  • Meer as twee derdes van die oseaan is reeds deur die mensdom vernietig of verander.
  • Die biomassa van groot roofvisse is net ’n derde van wat dit in die vorige eeu was. Dit beteken die meeste groot roofvisse is reeds uitgevang.

Te veel mense:

  • Die menslike bevolking het sedert 1970 byna verdubbel tot die huidige 7,8 miljard.
  • In Afrika, suid van die Sahara, het vroue gemiddeld vier kinders. Die wêreldgemiddeld is 2,3 kinders per vrou.
  • Die volgehoue bevolkingsgroei in die wêreld veroorsaak groot sosiale en maatskaplike probleme, veral omdat hulpbronne oneweredig versprei is.
  • Sowat 800 miljoen mense wêreldwyd ervaar hongersnood.
  • Meer mense op aarde lei tot die vervaardiging van meer “gevaarlike plastiek”, wat net een keer gebruik word. Die soort plastiek en die vervaardigingsproses vergiftig die aarde.
  • In 1960 het die wêreld se bevolking 73% van die aarde se hulpbronne binne ’n jaar opgebruik. Dié syfer het in 2016 tot 170% opgeskiet. Met Covid-19 en die wêreldwye inperkings het verbruik geval tot 56% van die aarde se vermoë om hulpbronne te hergenereer. 
Oorgeneem by: Elise Tempelhoff
Nuutste Artikels