Blog

Kan stilte óók Gereformeerd wees?

 17 Jun 2021  Dr Suzanne van der Merwe   Erediens Netwerk

In die laaste vier maande het ek op verskeie maniere blootstelling gehad aan stilte. Hetsy ‘n kontemplatiewe styl oggendwyding tydens ‘n sinodale Netwerke wegbreek te Menuha. ‘n Meditatiewe Heilige Week in my plaaslike gemeente ter voorbereiding van die viering van Pase. Of ‘n Retreat Lite te Clarens saam met die ringsverteenwoordigers van die Vrystaat, waar ons die geloofsgewoonte van Lectio divina beoefen het. En ook die bywoning van ‘n skrywersslypskool by die Andrew Murray Sprirtualiteitssentrum in Wellington. Hierdie skrywersslypskool het ‘n groep van om en by 30 jong predikante bymekaar gebring, waar ons moes deel word van die ritme van die Spiritualiteitssentrum. Drie stil kapeldienste per dag; oggend, middag en aand, selfs met ontbyt wat na die kapeldiens in stilte geeët word.

Na aanleiding van hierdie oomblikke van stilte wat deel gevorm het van my lewe en bediening die laaste paar maande het ek die volgende gehoor, gesien en beleef: 

  1. Stilte is vir die oorgrote meerderheid predikante, en ook lidmate ongemaklik. 
  2. Net so ongemaklik as wat stilte kan wees, net so noodsaaklik blyk stilte ook te wees vir predikante en lidmate. 
  3. Die ruimte (“space”) waarbinne hierdie oomblikke van stilte geskep word is van kardinale belang. 
  4. Oomblikke van stilte werk, of dit werk glad nie. 
  5. Die persoon wat hierdie oomblikke van stilte fasiliteer speel ‘n wesenlike rol tot die sukses van hierdie oomblikke. 

So het die idee van stilte in my kop bly maal. 

Ek is immers die predikant van ‘n gemeente, waar ek elke Sondag verantwoordelik is vir die inkleding van die erediens. Vir die oorgrote meerderheid NG lidmate, en selfs predikante, is die fokus van die erediens tog immers die Woordverkondiging. Terwyl ek so tik, hoor ek die stemme van lidmate: “Dominee, die (jou) preek, maak of breek die erediens!” 

‘n Goeie Gereformeerde erediens word dus gebou rondom die preek, die spreek van woorde, en die vorming van klanke in die mond van die predikant. Die gepraat en gepredik tydens die erediens, sluit nou aan by die raserige kultuur waarin ons vandag leef. Moontlik die rede waarom ons gemaklik is om te luister na die woorde en die klanke van die predikant op ‘n Sondagoggend?

Aan die anderkant druis die oomblikke van stilte in die erediens juis in teen die heersende raserige kultuur waaraan ons so gewoond is. In my geestesoog sien ek die ongemak van lidmate tydens oomblikke van stilte. Die dophou van horlosies, die “geshuffle” op die harde kerkbanke wat krakend antwoord gee, die kuggies wat van oraloor af op klink. Stilte is steeds in die Gereformeerde erediens ‘n volksvreemde konsep. Dalk veralgemeen ek so ‘n klein bietjie met hierdie stelling. 

Alhoewel stilte vir die moderne mens moontlike ongemak besorg, het die vroeë kerk juis ruim geleentheid vir stilte in die erediens gebied, veral rondom die lees van die Bybel (sien die Handleiding vir die erediens, bladsy 198). 

Die vraag waarmee ek dus worstel die laaste tyd: Kan stilte óók Gereformeerd wees?      

Ek gaan poog om deur die loop van die jaar hierdie vraag vanuit verskeie hoeke te bekyk. Om sodoende vir predikante ‘n paar hulpmiddels met hierdie artikels beskikbaar te stel, om sinvolle momente van stilte in die erediens te kan skep. 

Dr Suzanne van der Merwe | Bedieningsbegeleiding: Erediensnetwerk

Nuutste Artikels