Blog

"Jy inspireer met jou krag en moed, jy is volkome vrou"

 6 May 2022  Ds Anneri Viljoen-Potgieter   'n Laaste Gedagte

As leraar was ek nog altyd ongemaklik om dae soos ‘Moedersdag’ en ‘Vadersdag’ in die gemeente te vier. Ek het geen probleem met wat hierdie dae bevestig nie, maar wel met wie uitgesluit word op vieringe soos dié. Waarom moet moeders in die gemeente en eredienste staan as dit soveel seer veroorsaak en soveel vroue dan uitsluit? Lê dit nie juis in ons as kerk se identiteit om empaties te wees, te verwelkom, in te sluit en te omhels nie?

Wat van die vrou wat nie kinders kan baar nie? Wat van die vrou wat al vir die hoeveelste In-Vitro behandeling gegaan het, en telkens misluk? Die vrou wat ‘n miskraam gehad het? Wat van die ma wat haar kind moes begrawe? Die ma wat haar kind moes laat aanneem het…? Wat van die vrou wie ‘n gekompliseerde verhouding met haar kind het en bid dat hy soos die verlore seun in Lukas 15 weer sal huis toe kom? Wat van die vrouens wat ‘n ander vrou se kind liefhet soos haar eie, maar steeds binne ‘n baie komplekse gesinsdinamika van ‘n saamgestelde gesin sit? Wat van die brawe vrou wat ‘n kind aangeneem het? Wat maak ons met die kinders in ons Jeugsorgsentrums wat op hierdie dag in die erediens sit?

Moet hulle dan bly sit in die erediens terwyl die res staan en terwyl ons vir hulle ‘n lied sing, hulle uitsonder en die seer van ander vroue wat uitgesluit is, onderstreep? Moet hulle agter bly wanneer ons Moedersdag vier? Of is dit nie ook júís hulle wat gevier moet word nie? Ons moet hulle óók vier! Vir hul dapperheid om elke oggend op te staan en ander mamma's te vier ten spyte van hul eie seer. Om met ‘n glimlag op hul gesig te sit by babatees of as hul vriende se kinders mylpale vier, want hulle stel ander se geluk bo hul eie seer. Ons moet hul vier as mede-susters wat vir ma’s bid, voordat sy nog met haar eie seer by die Here kom sit het. Ons moet hulle koester, want ons staan op heilige grond wanneer ons hul hartseer betree. Soos Eli toe hy Hannah hoor bid het in die tempel, maar eers gedink het dat sy dronk is. Ons moet die vrouens (en mans!) wat moederfigure inneem, vier vir hul onbaatsugtige liefde – die Here het ’n wonderlike manier om dit wat nie ons bloed is nie, familie van ons te maak. Ons moet elke liewe vrou omhels – met haar hele hart en menswees, omdat God hul elkeen geroep het om te sing van die Lig in ‘n donker wêreld. ‘n Voorbeeld te wees vir die volgende generasie vroue! En sing, sing hierdie vroue! Vir die vroue om haar, die kerk van môre – vir die Here! Ten spyte van hul seer.

Op Moedersdag vier ek jul elkeen. Jy inspireer met jou krag en moed, jy is volkome vrou, en ek sal saam met jou sit wanneer jy uitgesluit word en almal rondom jou staan.


Foto deur Tertius Botha: Ds Anneri Viljoen-Potgieter, Bloemfontein Sinodesitting 2022.