Blog

Islam in ons midde

 15 Apr 2021  Dr Nico Mostert   Vennote in Getuienis

Die afgelope week is daar in my “inbox” twee ontstellende e-posse. Een van kollega prof Sunday Agang uit die noorde van Nigerië en een van kollegas uit Mosambiek. Sunday vra voorbidding omdat die Boko Haram Christen-gemeenskappe teiken met ‘n eskalasie in geweld en plundering. In Mosambiek het die aanvalle in Palma tot gevolg dat mense vlug na naburige dorpies. In beide gevalle is die gemeenskaplike faktor: ekstremistiese of militante Islam.

In kort: Islam se geskiedenis begin in ± 618 nC in die Midde-Ooste by ‘n plek met die naam Medina. Volgens oorlewering was die gebied waar Mohammed woonagtig was, ‘n diverse gemeenskap wat bestaan het uit vroeë Christelike groepe, oud-Joodse groepe en nomadiese woestynbewoners (wat in groot onderlangse konflik gewikkel was). Die invloed van hierdie Christelike en Joodse gemeenskappe is te bespeur in die inhoud van die Koran wat deur Mohammed as openbaring van Allah nagelaat is aan sy volgelinge. Die teenwoordigheid van Abraham en Moses en ander profete, en selfs ook Jesus wat as ‘n profeet voorgehou word, is duidelik sigbaar in die Koran.

Een van die groot drywers vir Mohammed was die vereniging van die vegtende woestyngroepe. Sy ideaal was een Moslemgemeenskap (caliphaat) in Arabië met een heerser of caliph. Uit die aard van die saak het hierdie “vereniging” gepaard gegaan met gewelddadige onderwerping aan die nuwe geloof en staat wat Mohammed verkondig het. 

Ná sy dood het die stryd begin oor ‘n opvolger. Moes dit ‘n familielid wees of een van sy volgelinge?  Uit hierdie bitter stryd het die twee groeperinge, Shia en Sunni, ontstaan wat tot vandag toe nog Islam verdeel. 85% van die 1.6 biljoen Moslems is Sunni en die res is Shia. Hierdie stryd speel steeds af binne die Moslemgemeenskappe en streke (veral in die Midde- Ooste) en in baie gevalle, gewelddadig.

Die samesmelting van twee skeibare verskynsels, lidmaatskap van Muhammed se gemeenskap en geloof in Islam - die alledaagse en geestelike - sou een van die mees kenmerkende kenmerke van Islam word. Om ‘n Moslem te word en te wees, is altyd meer as om net bloot te glo. Oor die algemeen volg Moslems altyd ortopraksie (korrektheid van die praktyk) bo ortodoksie (korrektheid van die leerstelling). Moslemwees beteken nog altyd dat jy jou tot 'n stel gedragspatrone moet verbind omdat dit die regte oriëntasie teenoor God weerspieël. As daar keuses in Islam gemaak moet word, word dit nie gestel in terme van bv. godsdiens en politiek, of kerk en staat nie, maar tussen die regte of verkeerde manier om in die wêreld te leef. In die  klassieke Islamitiese of Arabiese tale is geen ekwivalente vir die woorde godsdiens en politiek ontwikkel nie, alles word gesien as ‘n eenheid of ‘n wyse van leef. Dus is iemand wat nie deel van die Moslemgemeenskap is nie, ook nie deel van die geloof nie of dan ‘n ongelowige of “infedel” (kafr in Arabies). Die uitbreiding van Islam is dus nie net geloof nie, maar ook territoriaal of staatkundig omdat die geloof en staat nie geskei word nie en daar maar net een onderskeid is: gelowig of ongelowig, deel van die gemeenskap of nie deel nie.

Islam staan op vyf pilare of vyf modi wat elke getroue Moslem moet doen. Dit is: Die Hajj  (‘n pelgrimstog na Mekka), die Shahadah (belydenis van die geloof), die Salah (daaglikse gebed), die Zakat (gee van almoese) en die Sawm (die vas wat saam met die heilige maand van Ramadan loop). Hierdie maand (April) is vanjaar ook die viering van Ramadaan waar vas elke dag van sonsopkoms tot sonsondergang geld. ‘n Getroue of goeie Moslem sal hierdie vyf punte van die geloof navolg en streng daarby hou.

Die ekstremistiese groepe, ook bekend as militante Islam, voeg ook die Jihad of die heilige oorlog by as een van die opsies waardeur ‘n Moslemman die saligheid kan kry en so die ewige vuur kan vryspring. Maar dit is juis een van die spanningspunte in Islam. In Afrika (veral dan sub-Sahara Afrika) speel hierdie stroming van Islam uit in groepe soos Bhoko Haram en Alsjabab. Dit vind plaas veral onder die invloed van Saudi-Arabië wat ‘n sterker affiniteit het tot ‘n meer radikale beskouing van Islam. As jy die staat/kerk-verhouding in Islam verstaan, maak dit sin dat fisiese uitbreiding met geweld, deel vorm van die uitbreiding van die geloof. Waar Christen-gemeenskappe weerstand bied, is die aanslag brutaal en bykans genadeloos, veral as die dryfveer ‘n Jihad is met die versekering van ewige saligheid as jy sterf in die Jihad. Dit is wat in Nigerië gebeur, maar ook in Sudan, Camaroen, Kenia en nou ook in Mosambiek. 

Binne ons eie konteks is Islam ook al hoe meer sigbaar in gemeenskappe. Bykans elke Vrystaatse dorp het ‘n Pakistani-gesin wat ‘n winkel besit. Islam se dawa of “sendingstrategie” is een wat oor geslagte strek. Die gemeenskap word stelselmatig groter en neem so die ekonomie, skool, welsyn en gesondheidsdienste oor. Veral as die staat nie daardie dienste lewer nie. Die konflik in Mosambiek staan in die skadu van ‘n regering wat nie dienste lewer vir sy mense nie en dan word gemoedere opgeblaas deur ekstremiste en so vat ‘n kruitvat vlam. 

Ons beste metode van evangelisasie bly steeds wat bekend staan as “friendship evangelism”. Die kerk se roeping bly steeds om die goeie nuus van Jesus te verkondig tot aan die uithoeke van die aarde, maar ook plaaslik (Jerusalem, Judea en Samaria). Ons het ‘n geleentheid om juis in ons dorpe hierdie goeie nuus te bring aan daardie Pakistanse gesin. Ek is bekommerd dat ons dalk ons sendingroeping nie meer so ernstig beskou nie. 

Hoe raak ons betrokke? Gebed vir die kerke in die lande waar konflik met Islam beleef word. Help waar jy kan as jy dalk gevra word om te help. Knoop ‘n vriendskap aan met jou Moslemwinkelier. Nooi hulle na jou huis en help waar jy kan. Praat oor jou geloof en die verskil wat God maak in jou lewe. Gebruik hierdie maand van Ramadaan juis as tyd om uit te reik na Moslems.