Blog

IN PAS met God in ‘n krisis

 13 Aug 2021  Ds Barnard Steyn   Bedieningsbegeleiding

Die handleiding “IN PAS met die lewende God – Ritmes en gewoontes vir roepingsgetroue gemeentes” is deur Gert Cordier as redakteur saamgestel en word in verskeie Vrystaatse gemeentes benut. Vind meer uit op die webtuiste https://www.inpas.co.za/

Die IN PAS-werkgroep gee riglyne vir predikante en gemeenteleiers na aanleiding van die vraag: “Hoe bly ons in pas met God in ‘n krisis?”

Die derde vlaag van die Covid-19-pandemie het ons harder getref as wat die meeste van ons verwag het. Van oral hoor ons berigte van predikante wat getraumatiseerd is deur die omvang van siekte en dood in die gemeentes. Voeg daarby die skrikwekkende beelde wat vir dae na ons gekom het van die geweld en plundery in KZN en Gauteng, en dit is te verwagte dat gemeentes en predikante oorweldig en verlam voel. 

Die Brenthurst-opname wat in die week van 21 Julie gedoen is, toon dat 37% Suid-Afrikaners bang is oor die toekoms en 21% voel wanhopig. Net 36% is hoopvol oor die toekoms van Suid-Afrika.  

Hoe leef ons in pas met die lewende God in sulke tye? Die IN PAS-werkgroep gee ‘n paar gedagtes hieroor.

1.  Die Bybel leer dat daar ‘n tyd is vir elke ding.  Hierdie is ‘n tyd om die gemeente te versorg. 

Een van die belangrikste beginsels vir leierskap is dat dit onmoontlik is om mense te lei as daar nie vertroue is nie. Vertroue word oor ‘n lang tyd gebou, maar kan in ‘n paar dae afgebreek word. Voeg hierby die ou sêding: People do not care how much you know until they know how much you care. 

‘n Gemeente met ‘n sterk roeping om as God se gestuurdes te leef, kom op plekke en in tye waar daar baie gewondes is. Soms word gesê dat die kerk die enigste leër is wat sy eie gewondes skiet. Moenie dit doen nie. Stop, luister, versorg. 

2.  Daar is altyd ook mense wat vra: “Hoe kan ek help?”

Nie alle mense beleef ‘n krisis op dieselfde manier nie. Sommige mense kom juis dan in beweging en wil ‘n verskil maak. In elke krisis is daar gelowiges wat die vraag vra: Hoe kan ek in hierdie tyd God se liefde aan mense wys? Ons het dit baie duidelik gesien gebeur in die eerste grendeltyd: terwyl baie dominees nog vasgeknoop was in die vraag oor hoe om met die gewone bediening en eredienste van die gemeente voort te gaan, was die groot vraag in die meeste lidmate se harte: “Hoe kan ek ‘n verskil maak in ander se nood?” 

Moenie hierdie energie verlore laat gaan nie. Kry die organiseerders bymekaar en gee vir hulle ruimte en lugtyd in die gemeente. 

3.  Vra Godsvrae. 

God kan geken word. God is aktief betrokke by die kerk en die skepping. Daarom vra ons in geloofsonderskeiding vrae oor WIE God is en WAARMEE God besig is. Godsvrae fokus ons gesprekke op die aktiewe teenwoordigheid van die Drie-enige God in ons midde. 

Wanneer ons gereeld die praktyk beoefen om Godsvrae te vra, help dit ons om nie so maklik vas te val in negatiwiteit of om wanhopig te raak nie. 

Die volgende is voorbeelde van Godsvrae. Vrae kan afgewissel en aangepas word volgens die aard van die byeenkoms: 

  • Wie is God? (Geloofsonderskeiding is om God opnuut te ontdek in die situasie waar die gemeente of gemeenskap nou is.)
  • Wat is God nou besig om te doen? (Hierdie vraag help juis in tye wanneer mense dink dit gaan baie sleg.)
  • Wat is God besig om herhaaldelik vir ons te sê? (Hier kan ons veral ook luister na die getuienisse van mekaar en mense uit die gemeenskap.)
  • Aan wie behoort ons (hierdie gemeente en gemeenskap)? Watter implikasies het die antwoord hierop? (Dit help om te onthou dat die kerk en die wêreld nie aan mense behoort nie, maar aan God en dat Christus die Hoof is van die kerk.)
  • Wat is God se wil vir die gemeente en gemeenskap? (Dit is altyd groter en anders as wat ons dink.)

4.  Moenie deel wees van polarisasie nie.  

Hierdie tyd is ‘n tyd van geweldige polarisasie. Dit is so maklik om deel te word van gesprekke wat gelaai is met vooroordele, veral ten opsigte van ras. Die Brenthurst-opname wys dat die swartmense méér as wit, bruin of Indiërs vrees of wanhoop oor die toekoms van die land. 

41% van Suid-Afrikaners sê dat hulle direk geaffekteer is deur die onrus. Die algemeenste negatiewe effek was voedseltekorte en verlies aan werk. Indiërs en swartmense is die ergste getref; swartmense twee maal soveel as witmense. 

Hierdie syfers weerspieël waarskynlik maar die algemene patrone in die land oor wie aan geweld, honger en trauma blootgestel word. Om hierdie gebeure bloot deur die bril van ras te verstaan, pleeg ‘n onreg teenoor die mense wat die swaarste getref word. 

5.  Bou en versterk die netwerke. 

Elke krisis gee die geleentheid dat gelowiges oor ras-, taal- en kerkgrense nader aan mekaar kan kom. Diens verenig ons. Ons het seker almal die videoclips daarvan gesien in die opruimingswerk ná die onluste. Ons uitdagings is dat daar iets blywend daaruit sal voortvloei. 

In ‘n paneelbespreking in die Kerkbode sê die historikus Lindie Koorts (UV) dat die rede waarom die onrus so vinnig in KZN en Gauteng kon versprei, was omdat daar dormante netwerke van insurreksie bestaan wat weer opgeroep is. Sy wys uit dat daar ook spontane netwerke ontstaan het van goeie mense wat betrokke raak by herstel en opbou. 

Die vraag is: Waarom funksioneer die netwerke wat wil opbou en versoen nie altyd nie, waarom net ná krisisse? Hierin lê dalk van die belangrikste werk wat gelowiges kan doen in hierdie tyd. Maak en behou kontak met medegelowiges. Ons is die meerderheid in hierdie land. Saam is ons beter. 

6.  Vat ‘n pas wat jy en die gemeente kan volhou. 

Verlede jaar het sommige kundiges al gewaarsku dat hierdie pandemie nie gou verby gaan wees nie. Ons sien nou dat hulle reg was. Maar ons het nie regtig geweet hoe uitgewas die meeste van ons teen hierdie tyd gaan voel nie! 

Wyse leiers gryp geleenthede aan, maar laai nie te veel hooi op hul eie of die gemeente se vurke nie. Die belangrikste is om aan te hou om die vraag te vra: “Waarvoor roep God my en die gemeente in hierdie tyd?” 

Maak seker julle aksies in krisistye laat julle in die regte rigting bly beweeg. Gee klein treetjies, maar hou aan. 

Ons roeping in die wêreld hou nie op wanneer ons bang of wanhopig voel nie. Soos Mordegai vir Ester gesê het: “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy nie die koningin nie, maar ‘n predikant geword het!”

Nuutste Artikels