Blog

Hospice Bloemfontein skop 2022 af met ‘n nuwe projek!

 4 Feb 2022  Mev Mariëtte Odendaal   Algemeen

Hanneke Lubbe, medestigter van Hospice Bloemfontein is baie dankbaar oor die IPU (In-Patient Unit), wat ’n ruk gelede by die Siësta Aftree-oord, die oudste aftree-oord in Bloemfontein, in gebruik geneem is.

“Dit is so goed en huislik moontlik ingerig en bied ’n tuiste aan pasiënte en hul families in die laaste fase van terminale siektes,” vertel Hanneke. “Hierdie diens kan egter nie verniet gelewer word nie en daarom was dit ’n groot hupstoot dat ons vanaf verlede jaar ’n Hospice-praktyknommer ontvang het. Dit beteken dat die meeste mediese fondse hierdie opnamekoste in ons IPU dek.  Dit maak dit vir ons moontlik om die kamers se huur te kan betaal, asook om pasiënte wat dit nie self kan bekostig nie grootliks te kan subsidieer.  Ons probeer om uit hierdie inkomste ook die salaris van ’n verpleegsuster te befonds, en soos dit nodig is, ’n bed of versorging in die Lesedi Centre of Hope, ’n Hospice in Turflaagte.”

Dit is natuurlik baie belangrik om op ’n deurlopende basis ’n inkomste vir hierdie onontbeerlike diens te kan genereer en daarom is die idee om ’n winkel op die terrein van die Oorlogsmuseum of Vrouemonument oop te maak, groot nuus. Hanneke vertel: “Dié gedagte het ontstaan nadat ons lank gesoek het na ’n geskikte plek om ’n tweedehandse winkel oop te maak. Nie net het ons na ’n spasie gesoek nie, maar ook na iemand wat dit kon bestuur – uiteraard ’n uitdagende taak.  

“Ons was gelukkig genoeg om ’n paar kleiner projekte saam met Phoebe Pretorius te kon doen en sy het gelukkig besluit om die winkelplanne verder te vat - en sy is nog steeds hiermee besig! Haar motivering om Hospice Bloemfontein te help, kom nadat ons haar pa gehelp het toe hy siek was en gesterf het.  

“Ons is toe met ’n voorlegging na die bestuur van die Oorlogsmuseum, en omdat hulle ook ’n gemeenskapsprojek moet ondersteun en terselfdertyd ook meer mense na die museum kan lok met so ’n winkel, het hulle die hele projek goedgekeur.

“Aanvanklik was die spasie wat vir die winkel gebruik is, twee garages wat as verkoopsruimte ingerig is, maar dit het so vinnig heeltemal te klein geword, dat die museum toe die helfte van die restaurant aan ons afgestaan het en nou besig is om alles verder in te rig!  

“Anton Roodt Argitekte het met die uitleg van die grondplanne gehelp sodat ons die spasie optimaal kan benut; dis veral belangrik dat dit ’n mooi plek word. Bo en behalwe die verkoop van klere, linne, kombuisware, ensovoorts, gaan daar ook ’n klein koffiewinkeltjie wees en ’n mooi leeshoekie waar mense kan sit en ontspan of lees.  Buite onder die veranda gaan daar ook tafeltjies wees en kinders en gesinne kan op die grasperk sit en piekniek hou. Daar word ook verskeie funksies beplan, byvoorbeeld gaskunstenaars wat gaan optree, heerlike opleidingsessies wat in naaldwerk, kuns, ensovoorts, aangebied gaan word. Dit sal ook ’n geskikte ruimte bied om spesiale verjaarsdagpartytjies te hou. Phoebe gaan ’n klein kwekerytjie hê wat nog verder tot die koopervaring sal kan bydra. 

“Die helfte van die wins gaan aan die winkel om die bestuurs- en instandhoudingskoste te help dek.  Die ander deel van die wins sal aan Hospice gegee word.  Daar gaan ook gereeld van die Hospice-projekte plasings gemaak word op die winkel se sosiale media-platforms sodat almal wat skenkings of donasies maak, ’n beeld kan kry van hoe hulle bydraes aangewend word. 

“Daar sal dus baie mense uit hierdie projek baatvind. Natuurlik sal diegene wat al lankal van hul goedere wou ontslae raak, dit nou kan skenk aan ’n organisasie wat die geld goed gaan aanwend. Verder skep die projek ook werk aan ’n paar mense wat by die Hospice-winkel betrokke gaan wees. Buiten dat die museum ook gaan baat by die feit dat dit mense na die museum lok, sal dit besoekers bewus maak van wat alles daar te siene is.  En natuurlik gaan Hospice ook daarby baat; ons het alle ondersteuning nodig wat ons kan kry om ons dienste verder te kan uitbrei,” verduidelik Hanneke.

Mense kan op ’n paar maniere betrokke raak:  Kom koop, skenk goed wat gekoop kan word en kom help uit in die winkel; daar word nog ekstra hande benodig wat kan help uitpak, regskuif en verkoop.

Indien enigiemand betrokke wil raak, kan hulle gerus vir Phoebe Pretorius by 073 1967695 of vir Heleen Bekker by 076 653 0763 skakel.

Mariëtte Odendaal