Blog

“ ... Hoop rym met huil- en heilsgeskiedenis ...”

 2 Jul 2021  Dr Martin Laubscher   Verbi Divini Minister

Heil en huil klink dieselfde, maar die spelling (én betekenis) is verskillend. Só ook sou ons maklik geskiedenis as geskeidenes kon lees en spel, maar dan is dit sonder enige hoop. Laat ons die geskiedenis nie verwar met geskeidenes nie, want daar is hoop! Trouens, hoop wil nie net rym met die geskiedenis nie, maar ook met die geskiedenis as ʼn huil- en heilgeskiedenis.  

Agter hierdie insigte lê onder meer die bekende woorde van Psalm 130:1-2, wat lui: 

“Uit die dieptes roep ek U aan, o Here! Here, hoor tog my stem; laat u ore luister na die stem van my smekinge” (1933 AV).

Aan die woord is nie ʼn doemprofeet (of selfs doom-profeet!) nie, maar ʼn besonderse profetiese woord van God. Psalm 130 is die “medisyne vir ons siel” (Athanasius) waarmee ons teen die grein van die huidige trajek, die ritme van die oorverdowende refrein, en die gees van die daaglikse nuus en gebeure, kan begin beweeg. Psalm 130, soos alreeds hoorbaar in sy eerste stansa, daag die helse “krisis” en doodse “stilte” uit. 

Reeds net in hierdie eerste twee verse van hierdie kort pelgrimslied is daar vir ons besonderse betekenis. Hemel en hel verskil tog soos dag en nag van mekaar, maar is dit nie tog merkwaardig hoe naby die hemel nog steeds vir hulle is wie in hel verkeer nie? Uit die oorweldigende dieptes roep ek die hemelse God aan! Waar daar niemand is by wie ek hier kan aanklop vir hulp nie, roep ek na die oor van God om my te hoor! Bokant hierdie hel hang ʼn nabye hemel wat aangespreek kan word! 

Ons is nie stemloos nie, en die krisis kan ons nie stilmaak nie. Midde-in dit alles het ons ʼn stem, want ons weet ons het ʼn oor – in die hemel! – wie hoor! Ons kan hieroor praat. Skreeu as dit moet, of selfs net fluister en prewel as dit moet, want hoe dit ook al sy, God hoor ons smeekgebede! 

Om die radikale en diepgaande aard van hierdie insig nog duideliker te maak, is dit belangrik om te hoor wie is hier aan die woord. Wie is hierdie persoon wat só bid, só praat, só skreeu, só prewel, só roep na God? Wie kan tog só met God praat? 

Enersyds is dit die persoon in nood en krisis (en natuurlik uiters beduidend en betekenisvol in sigself), en andersyds, tog nog soveel te meer in die ontdekking van dit, is die helse kreet/prewel na die hemel van ʼn naamlose gelowige. Die adreslose, gesiglose, ja “stemlose” gelowige se kreet weergalm in hierdie twee verse! Die persoon wat hier praat, en mag praat, is nie net die persoon in krisis nie, maar selfs die persoon sonder gesig, naam, stem, en adres. Vanuit die mees onwaarskynlike plek en tyd, kom daar lewegewende woorde na vore. Vanuit die chaos kom woorde en stemme na vore wat ons aangryp! Dié “stemlose” (nou slegs in aanhalingstekens) het ʼn plek in die kanon, en gee aan ons God se woorde. En vervolgens skuif die “krisis” ook, want die ontkenning van die groter teologiese werklikheid in die daaropvolgende verse van die psalm, is nou eintlik die krisis van alle krisisse. Anders gestel: Die werklikheid van die “krisis” in verse 1-2 is eg, maar daar is ʼn groter en dieper teologiese werklikheid wat daarna in die psalm uitspeel (en die miskenning daarvan, veronderstel die eintlike krisis).

Vervolgens kan en wil ons die voller werklikheid in die gesig staar. Net so opvallend as wat die hoorafstand tussen hemel en hel in die inleidende woorde van hierdie psalm vir ons is, net so herinner ons onsself aan die nabyheid van ʼn hellevaart en hemelvaart met Christus in die Credo. Dit is twee onderskeie artikels, maar hul is onlosmaaklik aan mekaar verbonde; rug aan rug, teen mekaar. Dit is een beweging in Christus, en daar kan nie sprake wees van kennis van die een sonder kennis van die ander nie. 

God is vertroud met beide hierdie werklikhede, en vervolgens ook enige aanspraak van ʼn Bybelse spiritualiteit. Spiritualiteit wat dit nie het om beide die af- en die opbewegings nie, kan dit self maar tereg afvra of dit nog enigsins as ʼn spiritualiteit in beweging gesien kan word. Wie dit beswaarlik nie het om wat ook daaronder aangaan nie, kan kwalik praat en weet van wat daar bo aan die gang is! Dié psalm ken “the dark nights of the soul”, ken krisis, ken duisternis – en so ook (en dalk selfs daarom!) die ervaring van ʼn nuwe dag wat breek, en ʼn son van geregtigheid wat ons bestraal. Bybelse spiritualiteit wil ons in beweging bring met God, die geloofsgemeenskap, en die nood van die wêreld, en omgekeerd. Bybelse spiritualiteit, anders as die spiritualiteit van byvoorbeeld die oppervlakkige verbruikerskultuur, of toksiese manlikheid en patriargie, of van die verblindende nasionaal-demokratiese revolusie, ken van berg-en-dal ervarings, en natuurlik ook van dal-en-berg ervaringe. 

Bybelse spiritualiteit, waarvolgens ons weet ons leef met ʼn oop en ontblote hart voor God, praat vervolgens graag oor die geskiedenis, nie in neutrale of gestroopte of selfs verwyderde terme nie (en met ander woorde nie van die geskiedenis as geskeidenes nie), maar van die geskiedenis as tegelykertyd ʼn huilgeskiedenis sowel as heilgeskiedenis. Heil en huil klink tereg baie dieselfde, maar jy spel dit uiteraard verskillend – en ken natuurlik ook die verskil in terme van nuanse, orde, en waar die eintlike werklikheid leef. Dit is uiteenlopend in betekenis, en tog het die heil dit voorwaar om die huil, sodat hoop kan rym met die geskiedenis.

God ken ons. God beken ons. God is met ons en ons omstandighede goed bekend. Enige kennis van God kan ons weet, laat ons toe om te beken voor God, en om beken te word deur God. En dit wil uiteraard bekend word. Kortom, daar is hoop! Hoop rym met ons kennis van huil- en heilgeskiedenis.

Nuutste Artikels