Blog

Hoe ver kan die onsuiwerheid van ‘n kerk gaan, en sy tóg ware Kerk van Christus bly? ‘n Kreet uit die hart, in ‘n tyd van die Doleansie.

 22 Sep 2021  Ds Jan Lubbe   Vrye Teuels

Referaat gelewer by die Excelsus Lentekonferensie, Universiteit van Pretoria  |  15 September 2021

Foto: Bavinck Hoogleraar Kampen ca 1883

“Wij staan voor een geheel nieuwe orde van zaken. Er zijn machten opgetreden waartegen het Christendom nog nooit zijn krachten heeft beproefd; verschijnselen, waarvan de kerk nog nimmer zich rekenschap gaf. Daar is de moderne staatsidee met haar volstrekte neutraliteit; de opkomst van de derde en de vierde stand... de zgn. onafhankelijke wetenschap, die het bestaan of de kenbaarheid van God ontkent, de geloofwaardigheid der Schrift op ieder punt bestrijdt...”

Ons staan voor ‘n totaal nuwe lewensorde, aldus die jeugdige rektor van die Theologische School in Kampen, Nederland.

Dit was Dinsdag, 18 Desember 1888. Tyd vir die sluitingsrede van die akademiese jaar en oordrag van die rektoraat. In die kuratorenzaal van die Theologische School in Oudestraat, het die nagenoeg 90 studente en 6 dosente byeengekom, waarskynlik ook die kuratore en ‘n aantal predikante van Christelijk Gereformeerde Kerken uit die omgewing. In die wandelgang verby die studentevereniging se banier gestap: Fides Quaerit Intellectum – geloof soek na begrip – die bekende leuse wat teruglei na Anselmus en Augustinus. Die Theologische School was nou vier-en-dertig jaar oud en van die eerste generasie dosente – vaders van die Afskeiding van 1834 – was die eerbiedwaardige Simon van Velzen en Helenius de Cock nog met hul: Die een, dosent in Kerkgeskiedenis, die ander in Dogmatiek. Van die tweede generasie: Die denker Maarten Noordtzij, dosent in Ou Testament; ‘n skrander Lucas Lindeboom, Nuwe Testament; en die dinamiese Douwe Wielenga, kerkregkundige. Eén hoogleraarstoel was leeg: Dié van hul oudste dosent, almal nog daarvan bewoë: In Junie 1888 is “Vader Brummelkamp” oorlede, “onze hooggeschatte en beminde leraar en broeder, een Christen, altijd en overal, katholiek in opvatting, ruim van hart, nauwgezet in geweten...”.[i]

“Katoliek in opvatting” – met dié gedagte wou die uittredende rektor daardie Dinsdag die jaar afsluit. Vandaar die titel van sy rede: “De Katholiciteit van Christendom en Kerk.”

Dit was immers nie net ‘n veelbewoë jaar in Kampen nie - die hele Nederland was in beroering. Om mee te begin: 1888 was verkiesingsjaar, veertig jaar na die invoering van ‘n liberale grondwet en is die uitbreiding van stemreg weer ‘n stap verder gevoer. Ook onder die studente in Kampen was ‘n bewussyn van wat die politiek van demokrasie beteken, aan’t ontwaak; sóós onder hul dosente: Die rektor was self teenwoordig by ‘n opspraakwekkende ontmoeting ín Kampen met die opkomende leier van die Rooms-Katolieke Party in Nederland, dr Herman Schaepman! En in gereformeerd (of dan Hervormd-Nederland) was ‘n diep skeuring besig om te voltrek: Die Doleansie. Presies twee jaar tevore, in Desember 1886, is ‘n aantal kerkraadslede en predikante deur die Hervormde Kerk uit hul amp gesit; in Januarie 1887 het hul die Nederduitsche Gereformeerde Kerken (Doleerend) gevorm – hul leidsman: Abraham Kuyper.[ii] In Augustus 1888 – drie maande voor hierdie Dinsdag – het die sinode van die Christelijk Gereformeerde Kerken ‘n afvaardiging aangewys om ‘n amptelike gesprek oor kerkvereniging met die dolerendes te begin voer; onder hulle, drie dosente van Kampen. Dié gesprek was voluit aan die gang toe die Theologische School die jaar sou afsluit. En net ‘n maand ná hierdie Dinsdag se sluitingsrede – 18 Januarie 1889 – was die Burgwalkerk volgepak, ook van studente en dosente om te gaan luister na “het machtige en bezielende woord van een pleitbezorger voor de vereniging”, dr Abraham Kuyper...[iii]

Maar eers, terug na Oudestraat, rigting Bovenkerk, in die hart van Kampen: Ons staan voor ‘n totaal nuwe lewensorde.

Aan die woord, die rektor en dosent in filosofie, ensiklopedie, dogmatiek en etiek: Herman Bavinck. Vier-en-dertig jaar oud, soos die Theologische School – trouens, hy is gebore op 13 Desember 1854, net ‘n week ná die opening van die skool in Kampen. Sy vader, Jan, was predikant in Hoogeveen en ten nouste betrokke by die teologiese opleiding van die Christelijk Gereformeerde Kerk. Die jonge Herman egter, sou na net ‘n eerste studiejaar in Kampen, sy teologiese studies aan die Rijks-universiteit in Leiden voortsit, waar hy ‘n diepe respek vir die Ou Testamentikus Abraham Kuenen ontwikkel het, vir dié se versigtige, wetenskaplik-kritiese metode. En dit was onder die moderne teoloog, JH Scholten, dat Bavinck in 1880 oor die etiek van Ulrich Zwingli gepromoveer het. Die verwagtinge was hoog: Ná twee jaar as predikant in Franeker, is hy in 1883 na die Theologische School in Kampen beroep en deur die studente met “ongeëvenaarde verering” aangehoor.[iv] Soos dié Dinsdagmiddag in 1888 wéér, toe hy gekies het om sy sluitingsrede oor Artikel IX van ons Christelike geloofsbelydenis te voer, oor die algemeenheid of katolisiteit van die een, heilige Christelike Kerk. Daarmee het hy gedink aan die Kerk as een geheel, in onderskeiding van die verspreide, plaaslike kerkies; aan die Kerk wat alle gelowiges uit alle volke, eeue en oorde insluit; en aan die Kerk waaraan die volle waarheid van Christus toevertrou is om te bely en te bedien. En, het Herman Bavinck ter inleiding bygevoeg:

“Al naar gelang men nu dit universalisme van het Christendom opvat, wordt men ruimer of enger in zijn kerkbegrip. De verhouding waarin wij de genade stellen tot de natuur, de herschepping tot de schepping, bepaalt de ruimte van ons hart of die nauwheid van onze ingewanden op kerklijk gebied. In onze aan dwalingen en scheuringen zo vruchtbare tijd, is die handhaving van het universalisme van het Christendom van de grootste betekenis.” [v]

In die Kuratorenzaal van die Theologische School in Kampen, het kollegas en studente hiervan regop gesit.

In die eerste deel van sy sluitingsrede, het Bavinck op die Skriftuurlike gronde van die katolisiteit van Christendom en Kerk ingegaan. Dit is opmerklik, so stel hy dit, dat wat so verhewe en omvattend begin met ‘n Skeppingsverhaal, oënskynlik in ‘n al kleiner kring uitspeel – Abraham, Isak, Jakob, “één enkel arm en veracht volk”. En tóg was dit duidelik: Die verkiesing van Israel was geen einddoel vir God, maar ‘n toespitsing om duidelik te maak dat enige dualisme opgehef word in die eenheid van ‘n teokrasie – God regeer oral, in alles, oor almal. Die Wet van die Here reël en deurdring alle lewe tot in die kleinste besonderhede, vir priesters en konings, in aanbidding en etiek, in burgerlike samelewing en staatkundige bestel.

“Er is hier innerlijke katholiciteit, een religie die de ganse mens in geheel zijn leven omvat. Zo is Israëls theocratie reeds type van het Godsrijk dat komen zal en al het ware en goede en schone in zich opnemen.... Wet, historie en profetie wijzen elk naar de heerlijke toekomst.” [vi]

En dit sou in vervulling gaan, weereens brééd – God het die wêreld lief en het sy Seun hierheen gestuur – maar tegelyk ook toegespits: die misterie van lyding en ‘n kruis, ‘n koninkryksboodskap soos suurdeeg, soos ‘n mosterdsaadjie. Juis in daardie kruis en opstanding het Christus alle dinge in die hemel en op aarde met God versoen; was dit nie om te veroordeel nie, maar om te behou; was Hy Saligmaker vir ‘n wye wêreld in duisternis en dood vasgevang. Die volstrekte universalisme van die Christelike geloof ken geen grense van geslag of leeftyd, van stand of rang, van nasionaliteit of taal – die Evangelie is die blye boodskap, nie slegs vir die enkeling nie, maar vir die mensdom, vir gesin en samelewing en owerheid, vir kuns en wetenskap, vir die ganse kosmos, vir ‘n sugtende Skepping. En dít was van meet af aan die uitdaging vir die apostels en eerste gemeentes: Hoe word hierdie katolisiteit konkreet en sigbaar, in ‘n konteks van Joodse eksklusiwisme en ‘n Grieks-Romeinse samelewing waarin die onderskeid tussen maghebbers en magteloses, tussen ryk en arm, “beskaafd” en “onbeskaafd” só reëel was? Tóg, stel Bavinck:

“De eenheid en katholiciteit der kerk is een heel het Nieuwe Testament door telkens terugkerende gedachte. Zij vloeit onmiddellijk voort uit de eenheid Gods, uit de eenheid van de Middelaar Gods en der mensen, uit de eenheid van de Geest, uit de eenheid der waarheid, uit de eenheid van het verbond, uit de eenheid der zaligheid. Zij wordt ons... voor ogen geschilderd onder de beelden van wijnstok en kudde, van lichaam en rijk, van bruid en vrouw, van tempel en huis. Jezus heeft om die eenheid gebeden... De katholiciteit der kerk, gelijk de Schriften ze ons tekenen en de eerste gemeenten ze ons tonen, is van aangrijpende schoonheid. Wie in de enge kring van een kerkje of conventikel zich opsluit, kent haar niet en heeft haar kracht en vertroosting nooit ervaren.” [vii]

Geen wonder dat die apostels so ernstig teen alle skeuring gewaarsku en gewerk het nie. Onderlinge twis en verdeeldheid moes vermy word, indien nodig aangespreek word, as dit moet met tugoefening selfs: Kerklike tug mag nooit toegepas word om van iemand ontslae te raak nie, maar is “de ernstige biddende poging der gemeente, het laatste middel haar door de Heer geschonken om ook de hardnekkige zondaar terug te brengen onder de hoede van Jezus.”[viii] Nie net die heiligheid van die kerk moes bewaar word nie, maar ook haar katolisiteit moes behoue bly.

Gewigtige woorde, in Desember 1888. Miskien het rektor Herman Bavinck daarom ‘n moment hier verwyl...

Vervolgens het hy ingegaan op hoe die katolisiteit deur die kerk in haar geskiedenis verstaan is. Of dan, verteken. Want gou al het die Evangelie ‘n nuwe wet geword. Weens haar vervolging is die antitese met die wêreld skerp gevoel; die blik op die Griekse kultuur en wetenskap donker; rykdom en aardse goed met wantroue bejeën. ‘n Neiging tot onttrekking, tot askese het opgekom; wêreldmyding en doodsveragting – martelaarskap – het die kenmerk, ja, selfs die ideaal van egte Christenskap geword. Selfs ná Konstantyn, toe die kerk wél ‘n staanplek in die Romeinse Ryk sou ontvang, het hierdie onderskeid voortgeleef:

“De ‘wereld’ verliest (bij Rome – JL) meer en meer de ethische betekenis die zij heeft in de Schrift... De katholiciteit van het Christelijk beginsel, dat alles reinigt en heiligt, is vervangen door het dualisme dat het bovennatuurlijke altijd naast, of liever trancendent boven het natuurlijke plaatst. Schepping en herschepping blijven twee zelfstandige grootheden tegenover elkaar.”[ix]

Daarom blyk die enige weg te gaan, ‘n kompromis te wees tussen natuurlike en bonatuurlike, tussen God en mens, geloof en wete, kerk en wêreld, siel en liggaam, religie en moraal. Daarom ook dat in die Middeleeue die Christendom opgevat is as dit wat kerklik is, “buiten de kerk is het gebied van het ongewijde”; die kerk moes streef na alle beheer. Oftewel, in die taal van die veertiende eeu: Die staat is die maan, die kerk die son; die staat is menslik, die kerk goddelik; rede en wetenskap is goed, maar in die teologie staan die Skrif op hoër gesag; die huwelik is nie te verwerp nie, maar onthouding is die christelike ideaal; eiendom is veroorloof, maar armoede is verdienstelik... – om Bavinck weer aan te haal: Die kerk “drukt op alles de stempel der minachting, het brandmerk van het profane, van het ongewijde...”[x] Extra ecclesiam nulla salus. Daarom ook die uiteindelike vereenselwiging van kerklike outoriteit en staatsmag met die gevolg dat nie net moord en doodslag te verdoem was nie, maar óók kettery en skeurmakery – die geboortegrond van die Inkwisisie.

Met hul terugvra na die bronne het die 16e eeuse Reformasie eens en vir altyd hiermee gebreek, stel Bavinck. Beginnende by die eerste artikel van die Apostolicum: God as Skepper. En nog meer selfs as vir Luther en Zwingli, so by Calvyn. Vir die Hervormer van Genéve was die herskepping in Christus, nie soos vir Rome ‘n aanvulling van buite of van bo af vir ‘n gebroke skepping nie; dit was ook nie net ‘n godsdienstige hervorming wat skepping en wêreld van die kerk bevry, maar dit dan naas die geestelike realm aan sigself oorlaat nie (Luther); dit is ook nie ‘n eskatologiese nuutskepping iewers elders soos vir die Anabaptiste nie. Nee, die koms van Christus was die blye boodskap van herskepping aan alle skepsels, gans die aarde – hierin kom die Evangelie tot volle reg, tot waaragtige katolisiteit. Tot volheid van die lewe: Die integrasie van verstand, gemoed en wil; hoof, hart en hand; nie ‘n mistiek naas die daaglikse lewe nie. Die kosbare skat van die koninkryk moes al bewarend, soos suurdeeg, die wêreld ingedra word. Vir Calvyn was die Skrif daarom ook nie net bron van heilswaarheid nie,  maar “norma van geheel het leven.” En die kerk nie ‘n onfeilbare bó-menslike instituut nie, maar ekklesia, vergadering van Christen-gelowiges, lewend in die mistieke eenheid met Christus, “één kerk”, katoliek, uitgebreid oor alle wêrelddele...[xi]

En dit is dan hier – en sy hoorders sou hul asem daarby kon intrek – dat Herman Bavinck die moeilike en “hoogs belangrijke” vraag – sý woorde – gestel het:

“Hoe ver kan de onzuiverheid van een kerk gaan, dat ze toch nog een ware kerk van Christus blijft? Hoe is het mogelijk de katholiciteit der kerk te bewaren en tevens het volstrekt karakter der waarheid te handhaven?”[xii]

Nee, hy het dit nie meteens geantwoord. ‘n Klinkklare antwoord is op protestantse standpunt tewens ook nie moontlik, het hy bygevoeg. Geen Protestant sou ooit weer “de zaligheid aan zijn kerk durven binden.” In sy eie woorde:

“Rome kon elk een ketter noemen die van de leer der kerk afwijkt, en roomse godgeleerden kunnen beweren, dat met elke ketterij de habitus fidei verloren gaat. Het protestantisme kon dit niet meer. Er is onderscheid tussen twijfeling, dwaling en ketterij. Ketterij wordt nu alleen hardnekkige dwaling in de fundamentele artikelen en daarmee dus zelf een zwevend begrip. En ook dan zelfs is ze met waarachtig geloof en wedergeboorte niet onbestaanbaar. Ook gelovigen kunnen in ketterij vervallen, er in blijven, ja misschien wel in sterven (haal Bavinck Voetius aan – JL). De Christennaam mag ook aan ketters niet worden ontzegd, zolang wij onder hen nog de doop erkennen.”[xiii]

Hoewel Lutherse én Gereformeerde kerke beweer het dat húl “ware en zuivere kerken” is, het hul tog “ruim van hart, andere kerken naast zich als kerken van Christus erkend”; selfs ook in die Rooms Katolieke Kerk vestigia ecclesiae Christi bly raaksien, merktekens van die Kerk van Christus. Spesifiek – nota bene, want Bavinck praat in die tyd van die Doleansie – by die doopvont! In die gees van Augustinus van ouds, het Hervormers die doop in Ortodokse én Roomse geledere, van Anabaptiste én Remonstrante, blý erken as die begin van ‘n weg na lewe in die ware Kerk, in die ware belydenis; ‘n weg wat steeds vérder gaan. Natuurlik het dit nog nie die gewetensvryheid en gelyke regte vir alle oortuigings soos in die Nederland van 1888 beteken nie – ook in protestantse lande is één belydenis weer verhef tot godsdiens van die staat. Maar, sluit Bavinck sy oorsig van die kerkgeskiedenis af, was die Reformasie in beginsel teen alle geweld van gewetensdwang gekant;

“op dit gebied is God alleen soeverein en geen mens. Niemand kan zalig worden door een godsdienst, die hij vals acht... Een inquisitie is op protestants standpunt een onmogelijkheid.”[xiv]

Weereens, studente en dosente in die Kuratorenzaal van die Theologische School in Kampen sou hul asem hierby ophou, die gesigte aandagtig luisterend, het een dit later beskryf.[xv]

Want hiermee het die jonge rektor Bavinck nou oorgegaan na die vraag: Wat is die implikasies van De Katholiciteit van Christendom en Kerk “voor het heden”, vir óns wat “voor een geheel nieuwe orde van zaken” staan, in kerk en samelewing, in wetenskap en industrie, in gesin en skool?

Die geskiedenis van sowel die Rooms Katolieke- en Protestantse kerke na die 16e eeu, het nie aan die verwagtinge beantwoord nie; onherstelbare verliese aan beide kante van die verdelingslyn. Rome en die Jesuïetisme het woorde van één betekenis geword; meer en meer verbonde aan een plek en persoon: ubi papa, ibi eccleisia – sê Bavinck, sonder om die Vatikaanse Konsilie van 1870, kort tevore, te noem. Veel meer uitgebreid wou hy op die teleurstelling in Protestantse geledere ingaan: In die Middeleeue al was dit duidelik dat die Christendom maar ‘n dun vernis was oor die natuurlike volkslewe; ná die Hervorming is nog minder daarin geslaag om die samelewing te kersten. Die dualisme het bly voortbestaan en toe in die 18e en 19e eeue vanuit burgerlike kringe, filosofie en natuurwetenskap groot geestesveranderinge oor Europa spoel, het die Reformasie teruggetrek in die eienaardige stroming van die Piëtisme:

“Het was diezelfde richting welke in de oude christelijke kerk door montanisme, novatianisme en donatisme werd vertegenewoordigd; in de middeleeuwen onder vele sekten en monnikeorden voortleefde, tijdens de Hervorming het radikaalst in de wederdopers optrad en in de 17e tot de 19e eeuw zich ... in independentisme en baptisme, in kwakerdom en herrnhuttisme, in piëtisme en methodisme, in reveil en darbisme (vertoont)... een wereldschuwheid.”[xvi]

Bavinck stel dit dat hy vir geen oomblik die gawes ontken wat God in figure soos Spener en Francke, Von Zinzendorf, Wesley en Moody aan die kerk gegee het nie, maar dat hul bedieninge tog mank gaan aan ‘n asketisme wat geneig is tot óf ‘n onttrekking uit óf ‘n aanval op die wêreld, “een redden en uitrukken van enkelen uit de boze wereld”, in plaas van ‘n diepgaande begrip vir die katolisiteit van die boodskap van die Evangelie en daarom reformasie van die ganse lewe. ‘n Stryd is gevoer teen enkele sondes waarby dikwels die wortel van die kwaad – en daarmee ook die omvang en radikaliteit van gebrokenheid – nie aangespreek is nie. ‘n Verwerping van die ongelowige resultate van die wetenskap, sonder om die wetenskap vanuit eie beginsel te reformeer.

“Tevreden als men zelf in eigen huis God mocht dienen of op de bekering van zielen mocht uitgaan, liet men land en volk, staat en maatschappij, kunst en wetenschap aan eigen lot over... een miskenning dat God de wereld liefgehad heeft.”[xvii]

Miskenning van die apostolisiteit van die Evanglie.

En dan noodwendig, ook ‘n miskenning van die apostolisiteit van die Kerk, die liggaam van Christus. In plaas van wyd en ruim daaroor te dink en in plaas van om fyner te onderskei tussen ware en valse kerk, word met één woord alle ander kerke vals verklaar en “de scheiding zelf verheven tot een artikel des geloofs.” Die swaartepunt van wie ons is, word uit die doop na ons aanneming verlê; na wat ék glo! En wat is die vrug daarvan? Nie kerkherstel nie, maar versplintering – kerk ná kerk word nuut gestig. ‘n Argeloosheid oor die eenheid van die liggaam van Christus, ‘n verbreking van die gemeenskap van gelowiges, ‘n geestelike hoogmoed in eie kring. En, “de wereld gelegenheid biedt tot smaad en spot” van die kerk. Bavinck kon dit nie duideliker stel:

“Er ligt ook in het protestants beginsel naast een kerkhervormend een kerkontbindend element. De éne Chrstelijke kerk is uitééngevallen in een ontelbaar aantal van kerkjes en sekten, van verenigingen en genootschappen.”[xviii]

Maar... Is dit dalk tóg ook aan die ander kant, ‘n teken van die rykdom en veelvormigheid van die Christelike geloof in hierdie eeu? Dat, wat Rome onder ‘n uitwendige eenheid byeengehou het, onder die protestantse beginsel vrygelaat is om naas elkaar te ontwikkel? Is dit dalk die seëning van die Reformasie dat sy geen valse, onware eenheid ten alle koste wou afdwing, maar dit wat inwendig nie saam hoort ook uitwendig uiteen laat gaan het? Lê daarin die lewenskrag van die “vrije kerken” van die 19e eeu?

Want ja, het Herman Bavinck sy sluitingsrede en oordrag van die rektoraat geëindig: Soos wat die één heilige algemene Christelike kerk meer of minder in verskillende kerke sigbaar word, so ook die één algemene Christelike waarheid in verskillende geloofsbelydenisse in meer of minder suiwere uitdrukking. Daar bestaan geen ideale Christendom bókant ons geloofsverdeeldheid nie, maar alleen ín dit. Elke kerkgroep of sekte wat hulself en húl kring as die enigste kerk van Christus sien, as alleen in besit van die waarheid, kwyn en sterf soos ‘n tak wat van die boom afgeskeur is. Die een, heilige algemene Kerk van Christus, voorwerp van ons geloof, word éérs geopenbaar wanneer die liggaam van Christus tot volle wasdom kom, deur eeue heen. En ook dán eers sal die gemeente kom tot die eenheid van geloof en volle kennis van die Seun van God, soos wat ons geken is.[xix]

“Ik heb gezegd.”

Die uur het gekom.

Hoe is hierdie pleidooi – hierdie kreet uit die hart[xx] – van die jeugdige, maar tóe al hooggeagte rektor Herman Bavinck ontvang?

Binne vier dae ná die sluiting van die Theologische School het Bavinck dit aan sy studente- en lewenslange vriend, Christiaan Snouck Hurgronje (1857-1936) gestuur. Snouck Hurgronje het in 1880 ook aan die Universiteit van Leiden gepromoveer in Nabye Oosterse studies, was vlot in Arabies en is in 1885 as een van die eerste Westerse navorsers tot die Hajj in Mekka toegelaat. Bavinck skryf aan sy vriend: Onthou dat my rede veral bedoel was as ...

“... eenige medicijn voor de separatistische en sectarische neigingen, die soms in onze kerk zich vertoonen. Er is zooveel enghartigheid, zooveel bekrompenheid onder ons, en ’t ergste is dat dat nog voor vroomheid geldt. Ik weet wel, het ideaal waar ik naar streef is hier onbereikbaar, maar mensch te zijn in den vollen natuurlijken zin van dat woord en dan als mensch in alles een kind van God – dat lijkt mij ’t schoonst van alles. Daar streef ik naar...” [xxi]

Die reaksie van sy vriend Snouck het verlore gegaan, maar uit ‘n volgende brief van Bavinck is af te lei dat sy sluitingsrede met groot aanprysing deur Snouck gelees is.[xxii] Uit Amerika het daar ook hartlike waardering gekom, uit die Christelijk Gereformeerde Kerke daar, van ‘n ander studentevriend, Henry Dosker (1855-1926):

“De oratie heb ik, met de grootste belangstelling gelezen... Was het niet uw ideaal, geboren uit uw hartshonger; uw besef van wat de Kerk, het Christendom wezen moest, wag gij schetstet? Ik beluisterde er het heimwee in van een hart, dat ik zoo wel verstaan kan; een zuchten naar datgene, wat waarschijnlijk zal blijven behoren tot die ‘pia vota’ (vrome wense – JL). Het stuk zelf is mij een troost geweest en een denkenstof.” [xxiii]

Dit was Maart 1889. Bavinck sou in die samesprekinge oor kerkvereniging ‘n leidende rol bly speel en drie jaar later – in 1892 – is Afskeiding en Doleansie in die Gereformeerde Kerken in Nederland verenig, Kampen en die Vrije Universiteit aan mekaar verbind.[xxiv] Tien jaar later het Herman Bavinck Abraham Kuyper as professor in dogmatiek aan die VU opgevolg. Hy het steeds ruimer bly dink: Wat almal wat binne die Christendom opgevoed is, ja, selfs alle mense, verenig en verbind, is die ewige behoefte van die menslike hart. Die mensdom mag voortgaan op haar weg, maar menswees bly dieselfde, sy hart is slegs deur God te voldoen (1912)...

Waarom dan is daar in die Kerkbode in Suid-Afrika in 1910, na Bavinck – en Kuyper – as “eng”, verwys?[xxv] Het Johannes du Plessis, redakteur van die Kerkbode, Bavinck se rede oor die Katholiciteit van Christendom en Kerk geken, gelees? Of was dit juis omdat hyself van ‘n ander – ja, énger – kerkbegrip as Bavinck oortuig was?[xxvi] ‘n Kerkbegrip wat in die 1920’s, toe ‘n oudstudent van Bavinck, die jeugdige BB Keet in Stellenbosch as dosent in kerkreg en dogmatiek aangestel is, téén hierdie invloed uit gereformeerd-Nederland beswaar sou aanteken?[xxvii] Terwyl daar in die NG Kerk in die Kaap, Vrystaat en Transvaal, groeiende waardering vir Bavinck gekom het: Ná sy heengaan op 29 Julie 1921 – vanjaar, ‘n eeu gelede – verskyn daar in September ‘n aangrypende huldeblyk in De Kerkbode. Hy word gehuldig:

“Bavinck was geen strijder, hij was irenies van aard.”

Vir baie – in die Kaap, in Amerika en in Nederland – was Herman Bavinck inderdaad teologies, maar ook in sy persoonlike lewe en bediening, ‘n vergestalting van die apostolisiteit van Christendom en Kerk. En juis toe die Tweede Vatikaanse Konsilie in 1963 in Rome byeengekom en die deur ook na prof GC Berkouwer, latere opvolger van Bavinck aan die VU oopgemaak het, het kollega Hendrikus Berkhof uit Leiden die rede van 1888 aangehaal en bestempel as “een werkelijke vernieuwing der katholiciteitsidee, opvallend in haar mildheid, wijdheid en moderniteit”.[xxviii] (1962). Ook in ekumeniese geledere is na Bavinck se Kampen-voordrag verwys as ‘n merkwaardige illustrasie van hoe tradisie en vernuwing hand aan hand kan loop. In Oktober 1968 is De Katholiciteit van Christendom en Kerk daarom herdruk en in Den Haag deur dr George Puchinger uitgegee.

Niemand minder as (weereens!) ‘n jeugdige dosent in Kampen, dié keer in die “ambtelijke vakken” – die Suid-Afrikaner Willie Jonker – het ‘n resensie van Bavinck se rede in Gereformeerd Weekblad in Nederland gepubliseer. Bevestiging van die aktualiteit van Bavinck se gedagtes vir ons tyd, het Jonker dit gestel. Die kompleksiteit van ons vrae en die uitdagings op maatskaplike-, politieke- en wetenskaplike gebied mag die Christelike kerk nie in haarself laat terugtrek nie. Aan die ander kant, vertolk Jonker die standpunt van Bacvinck só: “Een dergelijk ingaan in de wereld (heeft) alleen maar zin als de kerk werkelijk kerk blijft.” Dié stelling weer, moet verstaan word teen die agtergrond van ontwikkelinge in die teologie van die GKN gedurende die sestigerjare van die twintigste eeu. Twee jaar later sou Jonker na Suid-Afrika terugkeer. Tot die einde van sy lewe egter, sou Jonker hiervan oortuig bly: Die Relevansie van die Kerk (1987) in ‘n gesekulariseerde samelewing, hang ten nouste saam met die bewaring van haar gereformeerde karakter en haar profetiese roeping in die hedendaagse konteks; “...dit sal tragies wees as die kerk haar in ‘n wêreldvreemde entoesiastiese en individualistiese vroomheid sou terugtrek”, het hy in 1998 verlaas in Selfs die Kerk kan verander – ‘n publikasie wat Jonker geopen het met die bede van Christus in Johannes 17:21, om die eenheid van die kerk.[xxix] Jonker het Bavinck se pleidooi gelees en dít sy eie oortuiging gemaak, hom lewenslank daaraan toegewy, ook in die stryd in sy eie vaderland om ‘n volkskerk ‘n belydeniskerk te laat word.

‘n Laaste oorweging. Die eksemplaar van Puchinger se heruitgawe van De Katholiciteit van Christendom en Kerk in my besit, is in Oktober 1971 aangekoop deur die kerkhistorikus en “kerkvader” van die Hervormde Kerk in Afdeling A van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria, prof SP Engelbrecht. Van die Doleansie wou Engelbrecht in sy vroeë jare niks weet nie; volgens hom het die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika – die Doppers – hul band met die Afskeiding van 1834 verruil vir ‘n strydvaardige Kuyperiaanse teologie en kerkbegrip.[xxx] Reël na reël het die ouer Engelbrecht egter Bavinck se woorde onderstreep, en toe, naby aan die einde, ‘n enkele vraagteken geplaas – daar waar Bavinck geskryf het dat (in teenstelling met volks- of staatskerke) dit die “vrije kerke” is wat die toekomsbelofte dra...[xxxi] Mits. En dalk is dít die “mits” wat óns ook nou moet hoor, óns wat ons opnuut bevind “voor een nieuwe orde van zaken”, óns, vanjaar presies 135 jaar ná die Doleansie, óns in ‘n konteks waarin die woord “doleer” so driftig opklink...

Herman Bavinck se “mits” was dít: Vrye kerke, ja, ...

“... op deze éne voorwaarde slechts, dat zij de katholiciteit bewaren van het Christelijk geloof en van de Christelijke kerk.”

Vir ‘n tweede maal dan, vanmiddag:

“Ik heb gezegd.”

Foto: Katholiciteit van Christendom en Kerk 1888


[i] Beskrywing en tiperings uit die rede van die rektor (hier benede vermeld), asook brief van Henry Dosker (1889), en die gedenkboeke van 1954 (Sola Gratia) en 2004 (Geschiedenis...).

[ii] Sien Bakker, W, De Jong, O, Van’t Spijker, W en Wolthuis, LJ (reds). 1986. De Doleantie van 1886 en haar geschiedenis. Kampen: JH Kok.

[iii] Beskrywing deur Kampen-student Sjabbe Datema, aangehaal in De Graaf en Van Klinken, Geschiedenis... 2004:87.

[iv]  Sien De Graaf en Van Klinken, Geschiedenis... 2004:72, e.v. biografie Hepp.

[v] Bavinck, H. De Katholiciteit van Christendom en Kerk. Kampen: JH Kok, 1968:2. Aanhaling aan die begin van die lesing, oor “een geheel nieuwe orde van zaken”, pp 31-32.

[vi]   Bavinck, 1968:5.

[vii]   Bavinck, 1968:10.

[viii]   Bavinck, 1968:11.

[ix]   Bavinck, 1968:13.

[x]   Bavinck, 1968:15.

[xi]   Bavinck, 1968:21-23.

[xii]   Bavinck, 1968:25.

[xiii]   Bavinck, 1968:27.

[xiv]   Bavinck, 1968:28.

[xv]   Brief van Henry Dosker, 1889.

[xvi]   Bavinck, 1968:31.

[xvii]   Bavinck, 1968:35.

[xviii]   Bavinck, 1968:38.

[xix]   Bavinck, 1968:40.

[xx]   cri de coeur – die tipering van Puchinger in sy voorwoord tot die heruitgawe van De    Katholiciteit... 1968:v.

[xxi]   Bavinck aan Snouck, 22/12/1888, in De Bruin en Harinck, Een Leidse vriendschap... 1999:136.

[xxii]   Bavinck aan Snouck, 29/1/1889, in Een Leidse vriendschap... 1999:137.

[xxiii]   Dosker aan Bavinck, 29/3/1889.

[xxiv]   Sien De Graaf en Van Klinken, Geschiedenis... 2004:84, asook Wolthuis, LJ en Vree, J (reds). 1992. De Vereniging van 1892 en haar geschiedenis. Kampen: JH Kok.

[xxv]   Kerkbode, 17/11/1910.

[xxvi]   Sien hieroor Erasmus, AS. Johannes du Plessis..., 2009:192 e.v.

[xxvii]   Sien De Beer, JC. Prof. BB Keet. Leraar en Hoogleraar in die Ned. Geref. Kerk,    Ongepubliseerde DTh-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, 1992:124 e.v.

[xxviii]   Aangehaal deur Puchinger in sy voorwoord tot die heruitgawe van De Katholiciteit... 1968:v.xi.

[xxix]   Jonker, Selfs die Kerk kan verander... 1998:220.

[xxx]   SP Engelbrecht, Neo-Calvinisme.  Ontwikkeling en afwyking..., 1945:5, 44/45.

[xxxi]   Bavinck, 1968:39.

Bibliografie:

Bavinck, H. 1888/1968. De Katholiciteit van Christendom en Kerk. Rede bij het overdracht van het rectoraat aan de Theologisce School te Kampen op 18 December 1888. Heruitgegee en met inleiding deur drs. G Puchinger, Kampen: JH Kok.

Boerkol, JD (red). 1954. Sola Gratia. Schets van de geschiedenis en de werkzaamheid van de Theologische Hogeschool der Gereformeerde Kerken in Nederland, 1854-1954. Kampen: JH Kok.

De Bruijn, J en Harinck, G (reds). 1999. Een Leidse vriendschap. De Briefwisseling tussen Herman Bavinck en Christiaan Snouck Hurgronje, 1875-1921. Baarn: Ten Have.

De Graaf, B en Van Klinken, G. 2004. Geschiedenis van de Theologische Universiteit in Kampen. Kampen: JH Kok.

De Kerkbode, 8/9/1921. “Prof. Dr. Herman Bavinck overleden.”

Dosker, H. 1889/3/29. Brief aan Herman Bavinck.

Erasmus, AS. 2009. Johannes du Plessis, 1868-1935. Baanbreker, verbreker van die gereformeerde geloof? Bloemfontein: UV Teologiese Studies.

Hepp, V. 1921. Dr. Herman Bavinck. Amsterdam: W. ten Have.

Jonker, WD. 1969. De Katholiciteit van Christendom en Kerk – Boekbespreking, in: Gereformeerd Weekblad, 19/9/1969. Bewaard in die Willie Jonker Digitale Argief.

Jonker, WD. 1998. Selfs die kerk kan verander. Kaapstad: Tafelberg