Blog

Hoe lyk jou stap Oominie/Tanimie?

 19 May 2021  Ds Rikus Hattingh   Algemeen

‘n Paar jaar gelede het ek in Bethlehem bedien. Een van my verantwoordelikhede was die kinderbediening. Dit was altyd vir my verskriklik lekker om met die “kids” te kon werk. Natuurlik het hulle by hulle ouers gehoor van ‘n “groot” woord met die naam “Dominee”. Vir hulle was ek egter net ‘n oom wat saam met hulle gejol het. Daarom het hulle deurmekaar geraak met “Oom” en “Dominee” toe word ek sommer “Oominie”. Hoekom deel ek dit met julle? Want nou, meer as ooit in my lewe, besef ek hoe belangrik dit is dat ek en jy ons “talk” moet “walk”.  Vir daardie kinders moes ek ‘n voorbeeld wees van Jesus. Ek wat praat oor Jesus, moes Hom demonstreer.

Die vraag in my hart is: Leef ek en jy dit wat ons week in en week uit van die kansel af verkondig? Ek moet egter my hart vashou vandag. As ek sien hoe ons mekaar byt en verskeur op sosiale media, in die briewe wat ons skryf in die koerant, hoe ons oor mekaar praat, breek my hart in duisend stukke. Wat het verkeerd geloop? Het ons vergeet ons “talk” en “walk” moet dieselfde wees? Ek en jy verteenwoordig Jesus.

Ek het dit goedgedink om iets met julle te deel wat my weer laat dink het oor die manier hoe ek elke dag loop.

As jy iemand goed leer ken, sal jy daardie persoon later aan sy/haar stap leer ken. Elke mens het ‘n unieke manier van stap. Party mense het swak plekke in hulle loop. Hulle sukkel dalk met ‘n enkel of ‘n knie. ‘n Seer rug kan ook die manier hoe ons loop, beïnvloed.

Die wêreld kyk egter ook hoe ons “geestelik” loop. “Walk” ons ons “talk”. Die Engelse het ‘n mooi manier om te praat oor hoe ons “geestelik” moet loop: “Walking is character in motion”. Daarom moet ons versigtig wees hoe ons loop. 95% van alle kommunikasie, sê die slim mense vir ons, is nie-verbaal. Mense gebruik m.a.w. jou lyftaal as ‘n kaart om jou gedagtes te lees.

Ons het hierdie week Pinkster gevier. Tydens Pinkster bewys ons dankbaarheid teenoor God vir die uitstorting van Sy Gees. Hoe wys ons vir die Here dat ons dankbaar is vir dit wat Hy in ons lewe gedoen het en nog steeds doen? Ons lewe ‘n lewe van dankbaarheid. Ek wil graag vier Bybelse terme gebruik wat ons kan aanleer om saam met die Here te loop en uit ons “loop/stap” ‘n lewe van dankbaarheid te lewe.

Die eerste manier van “stap” wat ek met jou wil deel is die “Doxa-stap”. Doxa beteken dat ek aan God lof wil bring. As ek ‘n lewe van dankbaarheid lewe, dan doen ek die “Doxa”-stap – ek bring aan God al die lof wat Hom toekom. Johannes 5 gaan ons help om die Doxa-stap beter te verstaan. (18) In hierdie gedeelte noem Jesus vir God Sy Vader en stel Hy Homself ook gelyk aan God. (19,20) Hy sê ook dat Hy niks uit Sy eie kan doen nie, Hy doen net wat Hy by sy Vader sien. Hy sien Sy pa in aksie en Hy doen wat God doen. God is sy Pa en Hy is lief vir Hom. Daar is hierdie familieband – “like Father like son”. (21) Sy Pa gee lewe… Ons is deel van hierdie familie.  Die woord wat gebruik word is die woord “sperma” – Ons het God se DNA. Jesus kom aarde toe om vir ons te wys hoe ons moet loop. Johannes 1:14: Jesus het mens geword en loop tussen die mense. Hy kom leer ons die “Doxa”-stap – om aan God die eer te gee. Ons sien Jesus se “Doxa” waar lig en duisternis mekaar ontmoet. Jesus loop die “Doxa”-stap om ons deel van sy familie te maak. 

Charis (genade) stap.  In die Bybelse tyd het mense mekaar met ‘n oop hand gegroet – “Shalom”. Die Griekse woord “charei” beteken ook om met ‘n oop hand te groet. Toe Jesus aarde toe gekom het, het hy die “Charis”-stap kom doen. Uit dankbaarheid stap ons ook die “charis”-stap.

Lukas 9:51 en verder kan ons help om die Charis-stap beter te verstaan. Iets wat ons van Jesus weet, is dat Sy woorde en dade altyd ooreengekom het. In die gedeelte gaan van Jesus se volgelinge vooruit om vir Hom verblyf te reël in ‘n Samaritaanse dorp. Die Samaritane wou hom nie ontvang nie. Dit was nie snaaks nie, want Jesus was ‘n Jood en ons weet Jode en Samaritane het niks van mekaar gehou nie. Dan lees ons dat Johannes en Jakobus (seuns van donder “boanerges”) kwaad word en vra dat Jesus die mense met vuur moet verteer. (hulle onthou van Elia (2 Konings 1) – 50 soldate wat twee maal met vuur verteer is) Jesus is mos die Messias, Hy kan dit doen. Ons dink ook baie soos hierdie twee broers. Vee plat. Maar Jesus wys hulle tereg. Jesus werk met genade. Ek wonder of ons nie ook iets daarvan kan leer nie? Om met genade te werk nie?

Wat gebeur later in Johannes en Jakobus se lewe toe hulle genade begin verstaan? Johannes verander van die seun van Donder na die seun van liefde. Johannes, die een vir wie Jesus baie lief was, die een wat hy vra om na sy ma om te sien. Ons kan nie saam met Jesus stap as ons met verharde harte loop nie. Ons moet met nuwe oë (genade-oë) na die wêreld begin kyk. Kom ons wees dankbaar dat Jesus ons verander en dat hy ons genadig is. Is jy bereid om “genade” te betoon aan iemand wat nie dink soos jy dink nie?

“Doulos”-stap (slaaf van God) In Jesus se tyd was daar ‘n duidelike verskil tussen die manier hoe ‘n ryk mens geloop het en hoe ‘n slaaf geloop het. Servus/currens.

Jesus se loop wys vir ons dat hy ‘n slaaf was. Jesus is altyd haastig, altyd op pad en dis hoe slawe in daardie tyd geleef het. Haastig – doen wat my eienaar wil hê. Markus 10:35-45 help ons om te verstaan wat dit beteken om die “doulos” stap te stap. Uit daarbaarheid is ek ‘n slaaf vir God.

Johannes en Jakobus wil weet of hulle die beste plekke in die hemel kan kry? Jesus vra dan vir hulle ‘n teenvraag? Kan julle my beker drink? Hulle het nie besef wat die vraag beteken nie. Jesus wil vir hulle verduidelik – eers die kruis, dan die kroon. Jy moet die minste (doulos) wees.

Wat Jesus wil kom sê is dat ons “slawe” moet word en ander moet begin dien. Uit dankbaarheid moet ons dien. In die kerk is daar nie titels nie – net mense wat dien. Kan jy die “doulos” loop loop en ander begin dien? Afbuig en mense se voete was. Jesus is die beste voorbeeld wat daar is.

Zoe-stap (beteken lewe) Jesus stap ons in die lewe in – Hy gooi m.a.w. die dood af. Hoe lyk ‘n Zoe-stap? Kom ons kyk na Lukas 24. Die verhaal speel af waar twee mense stap na Emmaus. As ons die prentjie in ons kop kry, is hulle besig om weg te loop van Jerusalem af.  Hulle is besig met ‘n alledaagse ding – hulle loop en in hulle harte is daar hierdie soeke na Jesus. Waar is Hy? Almal het gedink Hy is die nuwe koning wat moet kom. Ewe skielik loop Jesus dan saam met hulle. Hoe lank loop hy saam met hulle? So lank as wat nodig is.

Jesus is “in via” – Oppad met mense. Hy eet saam met mense. Hy meng met hulle wat anders is as Hy. Hy werk met die beginsel van liefde.

“Soos die Vader My gestuur het, stuur ek julle ook.” Ons moet ons “talk” begin “walk”.

Ek wil afsluit. Loop ek en jy nog soos Jesus geloop het? Nie net in jou gemeente nie, maar ook teenoor kollegas en mense wat nie soos jy dink en soos jy is nie? Kan jy nog jou roeping onthou? Kan jy nog onthou hoekom jy die bediening betree het? Hoekom doen jy wat jy doen? Weet jy nog wat is die missie van die kerk? Is dit belangriker om teologies korrek te wees of om mense na Jesus te lei?

Immanuel God met ons.

Baie liefde.

Julle mede-broer in Christus

Rikus Hattingh