Blog

Help lig die arms in Japan

 8 Apr 2022  Mariëtte Odendaal   Vennote in Getuienis

Verbeel jou jy werk daar ver in ’n land waar die taal, kultuur en godsdiens – eintlik alles – nie heeltemal jou eie is nie. Waar jy soms verlang na boerebeskuit, springbokbiltong en Afrikaans. Dan kry jy ’n oproep van iemand uit die Vrystaat en jy kan gaan langbeen sit en net vir ’n oomblik weer connect en jou batterye laai.

Dis presies wat Elsabé du Plessis vir Carina van der Watt van Missie Japan en haar gesin beteken: Om net daardie weeklikse emosionele ondersteuning te gee wat jou arms help oplig wanneer jy dit nodig het. Maar Elsabé is ook op ’n wyer vlak by Missie Japan betrokke en verteenwoordig hierdie bediening ook op haar tuisgemeente se Getuienisbediening.

Maar hoe het sy by Missie Japan betrokke geraak?

Elsabé du Plessis is soos daardie witbrood wat sy beste bate adverteer as “Best of both” – sy is in Bloemfontein gebore, maar het in beide die Vrystaat en Wes-Kaap grootgeword.

Intussen is sy met haar man, Dup, getroud en woon met hul drie kinders al vir die afgelope 28 jaar weer in die Vrystaat;  hierdie keer in Hoopstad, 160 kilometer noord van Bloemfontein.

As kind het Elsabé se ma, Ena Coetsee, ’n groot invloed op haar geloofslewe gehad. Sy vertel: “Met haar sagtheid, geloof in God en geloof in die goeie van elke mens, het dit ’n baie diep indruk op my as kind gemaak. Met die kindness wat sy uitgestraal het, kon ek reeds as klein dogtertjie die begrip ‘naasteliefde’ verstaan omdat sy dit uitgeleef het. Haar ma, my ouma Lena Malan, het by ons gewoon tot ek in die laerskool was.  Ek onthou die klank van haar stem wanneer sy uit die 1953-Bybelvertaling voorgelees en gebid het. Ek was gelukkig om van kleins af by geestelik-sterk vroue soos hulle te kon leer van Jesus.” 

Elsabé se betrokkenheid by Missie Japan het begin toe sy in 1993 lidmaat van die NG Kerk Hoopstad geword en hul gemeente se sterk sendingbetrokkenheid by haar aanklank gevind het. “Dit was veral die ondersteuning aan Tobie en Annalie de Wet as sendelinge in Japan wat my belangstelling geprikkel het,” vertel Elsabé. “Hulle het ons gemeente van tyd tot tyd besoek en Tobie se preke was vir my baie besonders.”

Nadat Elsabé in 2007 versoek is om die e-pos korrespondensie tussen hul gemeente en die sendelinge in Japan by die persoon wat destyds daarvoor verantwoordelik was, oor te neem, het die Du Plessis-gesin vir Tobie en Annalie beter leer ken. “Toe Stephan en Carina van der Watt in 2008 as tweede sendelingspaar na die eiland Shikoku is, het ek geweet God wil my vir Japan gebruik,” vertel Elsabé. Alhoewel sy nie geweet het wat dit alles behels nie, het sy ingestem om op Missie Japan se uitvoerende komitee te dien. Dit het ook beteken dat sy sou dien as Missie Japan se verteenwoordiger op hul gemeente se Getuienisbediening. 

Dit was vir Elsabé een van die grootste hoogtepunte in haar lewe toe hulle Japan in 2010 as gesin kon besoek: “Ons kon Japan met al ons sintuie waarneem en iets van wat die Van der Watt-gesin beleef, ervaar – ’n sterk band het tussen ons gesinne gevorm.”

Elsabé is persoonlik as vriendin en coach by Carina se emosionele ondersteuning betrokke. Sy vertel: “My vriendskap met Carina is ’n heerlike en verrykende ervaring.  Ons lees boeke en bespreek dit dan in ons weeklikse ontmoetings op Zoom.  Partymaal drink ons net saam koffie en gesels oor ons kinders, ons mans, die Here, die kontras tussen die Ooste, die Weste en Afrika en natuurlik oor boeke!  Ek het hier geleer dat vertroue tussen vroue oor die jare verstewig en dat dit uiters kosbaar is; dat diep verhoudinge met ander mense gebou word in ’n ruimte waar afstand, tyd en plek nie tel nie.

“Wanneer die sendelinge ons gemeente besoek, staan ons huis vir hulle oop, ook vir Japannese gaste wat soms saam reis.  Tydens sulke besoeke doen ons dan iets interessants in ons omgewing. Ons sal byvoorbeeld ’n wildsplaas besoek of met die rivier opvaar. Die gaste kuier dan ook gewoonlik saam met die gebedsondersteuners van ons gemeente.

“Tydens Stephan se besoek in Augustus verlede jaar het ons hom op ’n prayerwalk in ’n bos op vriende se plaas geneem. Daar was slegs agt mense teenwoordig wat dit ’n baie besondere en persoonlike ervaring help maak het.”

As jy vir Elsabé vra hoe hierdie betrokkenheid by Missie Japan haar lewe verryk het, antwoord sy: “Terwyl ek nadink oor die antwoord op hierdie vraag, beleef ek ’n vreugde en dankbaarheid wat in my bruis; dankbaar dat Hy my deel gemaak het van Sy groot werke. Psalm 111 vers 2 kom by my op: Die werke van die Here is groot, almal wat daarin vreugde vind, dink daaroor na.” Om betrokke te wees by Missie Japan beteken om deel te wees van ’n groter sisteem. “It’s not about me,” verduidelik Elsabé. “Dit gaan alles oor die Liggaam van Christus, waarvan ons deel is. Ek het geleer hoe deursettingsvermoë en roepingsbewustheid lyk as ek na die Van der Watts en De Wets kyk.”

Die NG Kerk in SA het baie jare reeds ’n samewerkingsooreenkoms met die Reformed Church of Japan (RCJ) wat ’n delikate en kosbare verhouding is om in stand te hou. “In November 2012 het dr Gideon vd Watt, toe sendingsekretaris van die Vrystaat Sinode, my saamgenooi op ’n amptelike besoek aan Japan,” vertel Elsabé.  “As vrou het my teenwoordigheid by die vergaderings van die Shikoku Ring van Missie Japan die belangrike rol van die vrou in God se werk daar (in hierdie geval Carina), by die Japannese tuisgebring. Die patriargale kultuur in Japan bied nie altyd ruimte vir hierdie denkwyse nie. Ná daardie besoek het ek terugskouend besef dat my blote teenwoordigheid by die lang vergaderings en persoonlike ondersteuning aan Carina tog ’n belangrike boodskap oorgedra het aan ons Japannese medegelowiges.

“Ek het mettertyd ook geleer dat die kultuurverskille met groot respek en omsigtigheid hanteer word. ’n Boodskap word met takt en groot sensitiwiteit oorgedra.  So ’n benadering is vir die Here aanneemlik en ek het oor die jare gesien hoe dit die verhouding tussen Missie Japan en RCJ baat. 

Buiten Elsabé se ondersteuning aan Carina, is dit ook belangrik om hul gemeente op hoogte te hou van die sendelinge se lewe in Japan.  Sy vertel: “Ek skryf soms in die gemeentenuus wat Sondae verskyn, plaas ’n video van Stephan op die virtuele kerkgroep of skryf sommer ’n nuusbrokkie op ons Getuienisbediening se whatsApp-groep.  Ons versprei ook fisies hul boekmerk met gebedsversoeke Sondae by die kerk en in gebedsgroepe.  Ons poog om so twee maal per jaar ’n Zoom-oproep met Stephan tydens die erediens aan te bied. Die leraar gesels dan met hom terwyl die hele gemeente deelneem.

“Ek het met hierdie besondere betrokkenheid geleer dat met min moeite van my kant af, daar tog baie belangstelling en insig by ons lidmate vir Missie Japan gekweek is.  Vriende wat in ander kerke en selfs buite die kerk is, word ook op hoogte gehou.”

Op die vraag of sy dink gelowiges is armer sonder blootstelling aan ander kulture, antwoord Elsabé: “Mense en gemeentes keer na binne wanneer hulle nie die groter prentjie sien nie. Then it’s all about me!  Alle hulpbronne word dan na binne aangewend en skaarsheid word die lens waardeur gekyk word.  Ek het die meeste respek vir mense wat gewillig is om te leer en van gesindheid te verander ten spyte van moeilike omstandighede; wat hul hande opsteek en sê: Pick me! I’ve got something to offer. Elkeen van ons het soveel om te gee – God vra net my gewilligheid.”

Teen hierdie tyd voel jy dalk ook al vuur en vlam om by Missie Japan betrokke te raak. Kontak dan gerus vir Elsabé by elsabedup2@gmail.com of die sinodale kantoor se Vennote in Getuienis by skakel@ngkvs.co.za.

Foto verskaf: Elsabé du Plessis (regs) saam met die Van der Watt-gesin voor die Osaka Kasteel in Osaka.

Foto verskaf: Ná ‘n erediens van RCJ Kita Kobe-gemeente in 2016. In die agtergrond is die leraar, sy vrou en ander lidmate asook Carina van der Watt, staande met die blou rok in die middel, en hul twee seuns reg voor haar.