Blog

Geloftedag of Versoeningsdag?

 16 Dec 2020  Dr Gideon van der Watt   Algemeen

Soos baie ander van my tydgenote, het ek as kind ook met Geloftedag grootgeword. Dit het eers ook Dingaansdag geheet. Ons het elke jaar rondom die 16de Desember op die Dingaansfeesterrein,  ‘n mooi stukkie boomryke kerkgrond in die Marquard distrik, gaan kamp. Dit was ‘n hele gedoente waaraan meeste van die boeregesinne deelgeneem het – die saaiery, wat dié tyd van die jaar so dringend was, moes eers eenkant toe gesit word. Kosse en tradisionele poedings is voorberei, koring- en gemmerbier, koesisters, melktert, beskuit en kruiekoekies. Vooraf het ons vir die toneelstuk (meestal ‘n komedie van Gerhard Beukes) geoefen en ek moes gewoonlik as jong seun ‘n gedig voordra – iets uit "Beeld van 'n jeug: duif en perd"  van NP van Wyk Louw of Jan FE Cilliers se “Ek hou van 'n man wat sy man kan staan; ek hou van 'n arm wat 'n slag kan slaan; 'n oog wat nie wyk, wat 'n bars kan kyk...”.  Daar is plegtig kerk gehou. Meestal het die preke uit die Ou Testament gekom, oor God wat sy volk Israel se vyande verslaan. En daar is volksliedere gesing: “En hoor jy die magtige dreuning? Oor die veld kom dit wyd gesweef: die lied van 'n volk se ontwaking wat harte laat sidder en beef” van Eitemal. Die verhaal van Bloedrivier is dramaties vertel, onder ‘n banier met DF Malan se slagspreuk: “Glo in jou God! Glo in jou volk! Glo in jouself!”

En dan was daar elke jaar gassprekers. Ek onthou dit was eenkeer Oom Blacky Swart, ‘n ander keer Mnr John Vorster. Meestal het die temas gegaan oor oppas vir die gevare wat die volk bedreig: die rooi gevaar, die Roomse gevaar, die swart gevaar. Vingerswaaiend  is gewaarsku teen die verwaarlosing van volksgewoontes en volkswaardes, die versaking van volkstrots en -ideale. Die  ergste gevaar was natuurlik vermenging met ander mense wat nie soos ons is en lyk nie – dit was die eintlike adder in eie boesem waarteen gewaak moes word. Dan het ‘n skare mense soos “een man” van hulle opvoustoele opgestaan en die Gelofte weer hardop bevestig: “die dag en datum ... soos 'n Sabbat sal deurbring.”

Dikwels het daar juis in dié paar kampdae ‘n donderbui uitgesak en als het sopnat geraak in ons tydelike stellasies waaroor seile getrek is. Ons het speletjies gespeel. En ja, tussendeur al die gewigtige sake het ons seuns na die meisies op die kamp geloer, plannetjies probeer beraam...    

Maar algaande het ek as adolessent begin wonder, vrae begin vra, al hoe meer ongemaklik gevoel, ontuis in so ‘n ruimte. En as jong teologiestudent opstandig hierteen geraak. Hoe glo mens in jou volk? Kan ons met God ‘n verbond maak, ‘n kontrak met voorwaardes sluit:  “As U, dan sal ons...?”. En dan nog ‘n verbond ten koste van ander, uitsluitend – net mooi die teenoorgestelde van wat ek oor die verbond geleer het. Kan my voorvaders my dié verpligting oplê om ‘n ekstra “Sabbat”, ‘n volkssabbat, te onderhou? Kan ons as “volk” onsself as só verhewe bo ander sien, uitverkore, met ‘n hoër roeping? Is nasietrots, ‘n volkskerk-teologie, die idealisme van bloed en bodem en die uitsluiting van die ander nie dalk uiters gevaarlike afgode nie? As jong leraar het ek mettertyd my kerkraad gevra om my te verskoon, maar ek kan nie meer die Geloftedagdiens lei nie, veral ook nie meer die “Gelofte” wat, so is ons geleer, méér as net ‘n belofte was aan die gemeente voorhou nie. 

Ja, die geskiedenis, ook ons eie geskiedenis, is vir my mooi. Daarin sou jy die hand van God kon probeer aflees. Maar dan moet jy baie versigtig wees, want God se hand lê soms juis ook in jou eie nederlae en terugslae, in tye van swaarkry en verlies. En die volk Israel se geskiedenis wil ons eintlik meer oor die kerk as oor die volk leer, eerder oor geregtigheid en versoening as dominansie en gewelddadigheid, eerder oor liefde en deernis oor grense heen as uitsluiting en afsondering.

Daarom was ek baie bly, uiters verlig, toe Geloftedag in 1994 Versoeningsdag geword het. Ek kon weer die erediens op dié dag lei! Want versoening sit in die hart van die evangelie. Christus het immers gekom om ons weer met God te versoen, en ons as sy kinders met mekaar te versoen, oor allerlei grense heen. Dáároor kon ek die Woord bedien, want dis die diepste boodskap, die betekenis van Jesus Christus se sterwe en opstanding juis vir ons dag en tyd: eenheid, geregtigheid, versoening.

Die laaste keer, so twee jaar terug, toe ek oor versoening gepreek het, het mense egter kwaad geword, selfs gedreig om uit die kerk te stap. “Ons is moeg vir die versoening-storie”, het die sosiale media na die diens gegons. Ons wil weer Geloftediens hou, die presiese woorde van die Gelofte staande opsê. Daar is duidelik ‘n nuwe golf van Afrikaners – inderdaad kerkmense – wat weer wil terugkeer na die boodskap van Bloedrivier, die Gelofte en alles wat daarmee saamgaan. Ek loer bietjie na die talle webwerwe en Facebook bladsye, ek sien die prente, die embleme, aanhalings en vlae, die Voortrekkermonument as simbool van Afrikanermag, die opwelling van emosies, die idealisme, die redenasies, die teologie ... en my hart krimp ineen, want daar sit meestal ook ‘n nuwe, ongekende onverdraagsaamheid en selfs woede agter die aandrang “keer terug my volk!” Of is dit dalk vrees? En ja, dis ‘n wêreldwye ding die, dié getrompetter oor nasionalisme en “Make America Great Again”, bedoelende: keer weer terug  na wit uitsonderlikheid en oorheersing.

Foto oorgeneem by: https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/geloftedag-moet-ek-of-wil-ek/

Dalk moet ons dit tog maar weer en meer waag om Versoeningsdag te vier, die boodskap van versoening onbevrees uit te dra: “Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.” (Kolossense 1:20)

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van die NG Kerk Vrystaat nie.
Nuutste Artikels