Blog

Erediens Netwerk | Bemagtiging van gemeentes en predikante

 10 Dec 2020  Dr Suzanne van der Merwe   Erediens Netwerk

Die onderstaande skrywe het onlangs op my tafel geland, en ek glo elkeen kan hiermee identifiseer. Gesels gerus saam oor hierdie geweldige belangrike saak, met die oog daarop om Vrystaat gemeentes en predikante te bemagtig met kreatiewe moontlikhede. 

"Ek sou graag wou sien dat daar sterker gevra word na wat prinsipieel die verantwoordelikheid van die kerk as 'n selfstandige instelling met 'n unieke, onvervreembare en tans baie nodige roeping in die samelewing is, eerder as dat die beperkende regulasies wat sonder onderskeid of aanvoeling deur die staat op ons afgedwing word en wat ons eredienste stadig maar seker versmoor, net herhaal word. As hierdie stel regulasies - sommige nog uit Mei vanjaar - vir Vlak 1 in plek bly en ons so ingeperk word tot wanneer daar 'n entstof besikbaar is, moontlik eers einde 2021, sal daardie ander sug van 2020 meer en meer uit ons kerke, eredienste en uit die harte van liturge/bedienaars opgaan: "I can't breathe...". Dit is tyd dat ons ons energie daaraan spandeer om kreatief weë na lewe te soek vir die hartklop van ons bediening, naamlik die eredienste. Bestaan daar regtig iets soos "vas van aanbidding"? Dit is vreemd dat terwyl lidmate daagliks veel langer ure in die teenwoordigheid van werkgewers en werknemers, huismense en vreemdelinge in kantore, winkels, supermarkte en gimnasiums spandeer en in restaurante hul maskers afhaal en saam kuier, eet en drink... ons die enkele uur van die week waarin hulle saam met mekaar sou kon aanbid, dood reguleer. Laat ons medici in die gesprek inkry wat ons kundig kan adviseer oor wat veilig en verantwoordelik is teenoor die gesondheid van lidmate en liturge, vir die bediening van die sakramente en vir die lewens van ons gemeentes. En of dit nodig is dat wanneer daar eers weer volgende Sondag - ses dae later - 'n erediens in die kerkgebou is, "die gebou deeglik afgewas moet word"! Deur regulasies wat nie meer sin maak nie op ons te bly afdwing, word mense en byeenkomste wat werklik nie ander se gesondheid bedreig nie, gekriminaliseer en die gewetenslas op ons alreeds beproefde kollektiewe psige net swaarder. Ná ses maande van inperking en diep onder die indruk van die gevare van Covid-19 aanvaar lidmate en veral die kwesbares onder ons, tot 'n groot mate self verantwoordelikheid vir hul gesondheid. Kom ons as kerke respekteer hul daarvoor en laat die keuses aan húlle oor, terwyl ons as kerkrade en liturge sorg dat ons eredienste met fyn onderskeiding en keurigheid veilige ruimtes vir aanbidding is en bly..."

Ek verwys graag na 'n paar bronne wat ons kan help in hierdie gesprek:

Seën groete,

Suzanne

(Voorsitter Erediens Netwerk)