Blog

Ek wil meer hoor oor gevaarlike hoop

 5 Nov 2021  Dr Wessel Wessels   Verbi Divini Minister

Lana Del Rey sing in een van haar liedere hierdie frase: “Don't ask if I'm happy, you know that I'm not. But, at best, I can say I'm not sad.” 

Hierdie woorde resoneer sterk by my aanvoeling oor die huidige konteks waarin ek myself vind, maar ek dink ook baie van ons. Daar is in hierdie woorde gelyktydig twee idees. Eerstens, ‘n verwoording van apatie – jy weet mos ek is nie gelukkig nie. Maar ook tweedens, ek is nie regtig hartseer nie. Daar is ‘n donkerte te vind in so ‘n menslike realiteit. Nie gelukkig nie, maar daar is ook nie genoeg energie om tot ware emosie te lei nie.

So ook ons huidige konteks. Uitgeput deur die aanhoudendheid van Covid-19, en die fisiese en geestes effekte wat dit op onsself en ons families, vriende, en samelewing het. Terneergedruk deur die aanslae van sosiale media wat valse nuus regs en links uitdeel. Ek dink byvoorbeeld aan die aanmerkings oor akademiese teologie en die entstof. Oorlaai met persoonlike en professionele uitdagings, want die pandemie vererger bloot hierdie uitdagings en niemand van ons het ‘n sekerheid oor wat die toekoms bring nie.

“Don't ask if I'm happy, you know that I'm not. But, at best, I can say I'm not sad.”

En dan volg die volgende sin: “’Cause hope is a dangerous thing for a woman like me to have.”

Hierin breek iets nuuts deur. Die apatie van uitputting en oorlaaiing word tot ‘n mate ontlont, maar nie heeltemal nie. Daar is hoop, maar hierdie hoop is gevaarlik vir die een wat haarself vind in die omstandighede van apatie. Hierdie gevaarlike hoop laat my dink aan ander vroue. Aan Naomi, Orpa, en Rut. 

Maar voor ek by hierdie vroue uitkom, moet ek dalk iets sê oor die hoop wat soms verkondig word vanaf preekstoele. My aanvoeling oor die huidige koers van prediking aangaande hoop is tweërlei. Eerstens, is daar ‘n oorvereenvoudige oorsaak en gevolg wat verkondig word. Indien jy hoop (en glo), sal die Here vir jou uitkoms gee. Tweedens, word hoop geassosieer met positiewe denke. Daar is uiteraard niks verkeerd met positiewe denke nie, maar positiwiteit kan ook toksies word. En dit word toksiese positiwiteit wanneer dit nie in die regte wêreld mense help nie, maar juis tot verwoesting lei.

Terug by Naomi, Orpa, en Rut. Hierdie drie vroue wat hulself vind in ‘n uiters ongemaklike posisie. Sonder inkomste. Sonder beskerming. Sonder veiligheid. Uiteraard, in die antieke wêreld is dit die situasie vir vroue wie nie mans het om na hulle om te sien nie, dit is daardie werklikheid. Naomi verwoord die realiteit waarin sy haarself vind nog sterker: “die Here het teen my gedraai” (Rut 1:13). Orpa, die rasionele een, sien die situasie vir wat dit is – hopeloos. En sy neem die weg van veiligheid. Sy gaan terug na haar familie waar daar mans is wat na haar kan omsien, so het dit gewerk. En sy verdwyn ook uit die storie uit. Daar is iets te sê oor die feit dat haar storie daar eindig en hoe die rasionele uitweg nie inpas by die narratief saam met God nie. Daar teenoor, dit is Rut se woorde en optrede wat die narratief voort neem.

Rut se antwoord aan Naomi is welbekend. Sy gaan nie terugdraai nie, sy gaan saam gaan. “Waar u gaan, sal ek gaan; [...] u volk is my volk; u God is my God.” (Rut 1:16). Maar dit is die laaste woorde wat my aanraak: “waar u sterf, sal ek sterf.” (Rut 1:17).

Hierdie is gevaarlike hoop. Hoop tot en met die dood. Hierdie hoop is "deadly serious". Dit is hoop wat teen die hopelose situasies inspeel, met die moontlikheid dat die dood selfs op die tafel is. Dit is vanuit hierdie hoop teen hoop, waar die narratief in geskiedenis saam met God voort kan gaan. Sonder hierdie gevaarlike hoop is daar nie ‘n verdere geskiedenis nie. En is daar nie ‘n beweging na die beloftes van God nie. Inteendeel, dit is eintlik God se gevaarlike hoop vir ons. Dit is God wie gevaarlik droom en hoop dat ons mag lewe. Dit is God wie ons roep tot die gevaar van die toekoms. En dit is God wat die gevaar opneem, nie sonder die feit dat ons hierdie gevaar aan ons eie liggame voel nie.

Lana Del Rey eindig haar lied met hierdie woorde: 

“Hope is a dangerous thing for a woman like me to have

But I have it

Yeah, I have it

Yeah, I have it

I have”

Ek wil meer hoor van hierdie gevaarlike hoop op preekstoele. ‘n Hoop wat realisties is, wat met die werklikhede van ons wêreld te doen het. ‘n Hoop wat gevaarlik ons dryf na die moontlikhede van ‘n ander toekoms, tesame met die God wat gevaarlik hoop.