Blog

Ek het hierdie preek (en vraelys) al gehoor …

 14 Mar 2022  Dr Martin Laubscher   Verbi Divini Minister

In 1994 publiseer Johan Cilliers sy God vir ons. ʼn Analise en beoordeling van Nederduitse Gereformeerde volksprediking (1960-1980) (Kaapstad: Lux Verbi). In 2006 word dit ook in Engels vertaal: God for us. An analysis and assessment of Dutch Reformed preaching during the apartheid years (Stellenbosch: Sun Press) en ook gratis beskikbaar op die internet. Vandag is dit voorgeskrewe werk by verskeie internasionale universiteite in nagraadse programme in homiletiek en praktiese teologie. Voorwaar ʼn klassieke teks wat tot verskillende generasies en kontekste bly spreek. 

Trouens, die laaste paar dae het ek self ook weer hierdie teks-in-ons-konteks opnuut aan my eie bas en vel gevoel. Van die gedagtes wat geuiter was insake teologiese opleiding, resoneer vreemd genoeg met baie van die basiese gedagtes in daardie teks van Cilliers. Alhoewel daar nêrens in die teks na ʼn gelaaide begrip soos “witheid” (whiteness) verwys word nie, kon ek nie help om in my herlees van die teks by al drie die hermeneutiese sleutelskuiwe dit te erken nie. Anders gestel, die kontinuering van die apartheidsdenke muteer en kamoefleer anders (lyk anders), maar die dieper grondstruktuur is en bly herkenbaar (dieselfde). Net so is daar in die versoek om ʼn vraelys van beswaardes aan dosente voor te hou uiteraard geen melding van “apartheid” of “witheid” nie, maar in die aanhoor hiervan kon ek nie anders as om dié onderrok weer te sien uithang nie. Dit maak nie saak hoe wit ons hierdie saak wil pleister nie, die krake is daar – en hoe gouer die lig daardeur kan skyn, hoe beter. 

Aangaande die eerste kenmerkende hermeneutiese skuif wat hierdie soort van “volksprediking” in sy dieptestruktuur sou kenmerk, naamlik “die mitologisering van die geskiedenis”, lees een van talle veelseggende formulerings soos volg: 

  • In die prediking is dit dus van kardinale belang dat telkens gevra word: Watter ‘storie’ (geskiedenis) word aan wie vertel, en waarom? ʼn Bestudering van die analogieskematisme, soos dit in die preke funksioneer, toon dat ʼn enkele aspek van die vertelde heilswerklikheid gefikseer en geabstraheer word, normaalweg met reduksie van die Bybelse horison, met die doel om die huidige situasie te regverdig. Die Bybelse beeld moet die huidige beeld dek. In die proses word die vertelde werklikheid ʼn gelykenis met een punt, in plaas van ʼn analogie wat die kompleksiteit van die situasie van destyds én vandag honoreer (27). 

Dit is allermins vergesog om bogenoemde aanhaling saam te vat en opnuut te vertaal.  Hierdie is niks anders as ʼn white wash van die komplekse (geskakeerde en kleurvolle) werklikheid waarvoor ons staan nie. Nie net spring so ʼn white washing (én white bashing!) terug in die verlede en word diegene self gevangenes in daardie mitologisering van die verlede nie, maar eintlik onthul dit dat ons nie die hermeneutiese vaardighede het om genuanseerd en geartikuleerd met die komplekse werklikheid (wat die verlede en toekoms insluit) mee om te gaan nie. Ons, maar so ook die God wat hier aanbid en verkondig word, asook die verstaan van die verhouding in en deur die geskiedenis, vertoon hiervolgens spierwit. Ons trek net reguit kort lyne (sonder enige gewaarwordinge van kortsluitings). Skoon en steriel, vasgeskryf en vasgepreek, gemonumentaliseer in wit graniet, gestol en gestil, volledig vasgevange en bemeester, God vir óns. Of, soos Cilliers dit self vroeër stel:

  • Wesenlik is die analogieskematisme ʼn manier om aan die tyd te ontsnap, en die voortgang van die tyd en van God se selfopenbaring in die tyd te ontsnap, ʼn teruggrype op die geskiedenis om die werklikhede van die hede en die toekoms te vermy. Dit verteenwoordig ʼn bepaalde vorm van anti-profesie, wat geen sprong vooruit wil waag nie, eerder die tyd arresteer en die geskiedenis reproduseer (25). 

Selfverklaarde “witheid” (lees: volksgeskiedenis) word eenvoudig op God (lees: heilsgeskiedenis) geprojekteer en uitgeruil sodat in die plek van die een ʼn soomlose omruiling kan plaasvind. “Volksgeskiedenis word heilige geskiedenis, word openbaring – van die mite. In die proses word God nie alleen teologies onthistoriseer nie, maar ook volks-gehistoriseer in dié sin dat Hy die geskiedenis van die volk moet legitimeer” (34). Ons klaarblyklike witheid word eenvoudig so deur God wit geverf, en sodoende teologies met ewigheidswaarde gelegitimeer. Die heilige wit koeie vertoon uiteraard geen krake nie soos dit deur ons onaantasbaar oorvertel word as heilige waarhede. 

As daar dalk sprake van ʼn olifant in die kamer is, dan sê ons sommer dit is net ʼn “wit olifant”; en van enige leuens, dan is dit eintlik net ʼn “wit leuentjie”. Die oënskynlike “noise” wat ons dan hoor, word dan sommer net afgemaak as “white noise”. Daar is sprake van klaarblyklike “witness”, maar eintlik is dit net “whiteness”. 

So ʼn wit-geverfde openbaring ontken dan beide God en mens in hul diepste wese, want so ʼn witmens is tog onmenslik; en so ʼn witgod tog ongoddellik. Chalcedon se verbeeldingswêreld is een vlug te ver. So ʼn gestolde en stilstaande geskiedenis word dan vreemd genoeg as evangelie opgedis om ons te behoed en te bewaar van enige nuwe dag van môre wat dalk net mag aanbreek. 

Soortgelyke logika hoor ons ook in die tweede hermeneutiese skuif van ʼn evangelie wat ook nou in ʼn wet verander. Die skyn van moralisme voer nou die botoon. Anders gestel: Die soort van mens is inderdaad nou ʼn “witmens”, ʼn Übermensch, ʼn super witmens, en kan hom- of haarself onbegrensd wit hou. Hy kan alles en almal red. Hy is ʼn spreekwoordelike ridder op ʼn wit perd; die ultimate DIY prediker. Die son skyn spreekwoordelik vanuit hierdie soort van mens. Hy dink hy is volkome in beheer, kan alles en almal (nog) beheer, in die sentrum van oënskynlike mag, en daarom die grootheidswaan en arrogansie om as meester jou normatiewe wit wêreld en verbeelding as kriteria aan ander te kom voorhou.

  • Al hierdie vorme van wettisisme veronderstel ʼn mens met potensiaal, ʼn mens wat deur sy optrede self die sonde skadeloos kan stel. Wettisisme neem as uitganspunt nie alleen ʼn irreële, afwesige God nie, maar ook ʼn vitale, intakte mens, ʼn homo intactus, in plaas van ʼn homo peccator (46). 

Die witmens verwys nog na die witgod, maar laasgenoemde dien eintlik net as ʼn vuller, skyn, en addendum om krake en tekortkominge in die self wie vanuit die sentrum (voorop) sterk staan, mooi toe te pleister. Nie net is die graf dan ook wit (toegepleister en wit geverf) nie; daar is geen tekens van enige gebrokenheid en/of ʼn broosheid wat daarbinne mag skuil nie. Die graf is hiervolgens só wit, dat daar beswaarklik sprake van ʼn kruis en ʼn swart Vrydag kan wees. 

Bogenoemde beteken natuurlik nie daar is geen sprake van “swart” skaap en sondebok nie, want soos die derde hermeneutiese skuif dan ook daarop dui, “óns wittes” benodig immers ʼn “swart húlle” – oftewel, ook “die versterking van onskuld”. Of, in nog meer onthutsende taal, is daar eintlik net sprake van “blank” en “nie-blank”, met eersgenoemde as heer, in die sentrum, en normatief waaraan alles en almal gemeet kan word. Al wat “witheid” nou meebring, is nog meer polarisasie, verdere afstand en vervreemding. 

  • Dié polarisering deur middel van spraakvorme en beelde bring mee dat daar eintlik twee adressate in die preke is: die gemeente en die teenstanders wat indirek aangespreek word. ... In die proses word afstand tussen die gemeente en die indirek aangespreektes geskep. Deurdat uiters terughoudend oor eie aandadigheid aan die ‘probleem’ gepraat word en uiters ekspressief oor die aandadigheid van die ander, word ʼn vyandsbeeld aan die gemeente omlyn. Daar kan géén gemeenskap, géén eenheid wees tussen dié wat naby en dié wat ver is nie (58). 

Let wel, dit het hierdie soort van vyand nodig om te kan funksioneer, mits dit natuurlik net daar ver op ʼn afstand bly. Anders gestel: Is dit nie waaragtig ironies hoe “witheid” soms baie sterk voel oor die “geloof” in die duiwel as ʼn soort van sjibbolet waarby ons as’t ware eers almal moet verbykom nie? Die evangelie is hiervolgens in wese ʼn anti-iets; ʼn vrees vir een of ander bedreiging; uitsluiting en verdagmakery van die een of ander groot gevaar. Bewaar jou siel indien jy nie die duiwel te ernstig wil opneem nie, want dan is jy vir ewig verdoem tot ʼn demoniese volksverraaier. Of, in die woorde van Cilliers: “In hierdie teologiese raamwerk word die ander nie net in terme van demoniese aktiwiteite verstaan nie, maar die volk ook in terme van die predestinerende handelinge van God” (61). Dit klink verskriklik om dit te sê, maar hiervolgens is sonde dan ook niks anders nie as om (die mite van) witheid enigsins te wil bevraagteken. Anders gestel: Jy moet wit wees en jouself wit gedra, maar ook darem ook nie só wit dat jy jouself “kan kom staan en wit hou” deur allerlei (volksvreemde) kritiese vrae aan die meesters te kom voorhou nie. Wit kan nie krake toon nie, en daarom kan wit ook nie bevraagteken word nie. Trouens, nie eens die witgod kan ons bedreig en oordeel nie, want “die verband tussen die bedreiging en die oordeel van God is geheel en al afwesig” (64).

Wit is dan inderdaad nie “ʼn colour nie”, want soos Nathan Trantraal tereg opmerk: “Wit isse ʼn religion”; en ja, jammer om te sê, dalk selfs ʼn afgesaagde preek – en nou ook weer ʼn vraelys – wat vasgehaak het.