Blog

Dolering, sterkes en swakkes

 27 Feb 2021  Ds Jaco Thom   Algemeen

Die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhou­dings begin met ’n erkenning dat daar ’n vasgelooptheid oor die kwessie is. Die menings gaan só ver uiteen dat dit nie vir my lyk of daar ’n besluit kan kom wat almal tevrede sal stel nie. Aan die een kant is daar mense wat wil staan by die Skrifgedeeltes waaruit dit duidelik lyk dat selfdegeslagverhou­dings en -verbintenisse son­de is. Aan die ander kant is daar mense wat, in die lig van die liefdesgebod en met inagneming van die insigte van sosiale wetenskappe, sê dat selfdegeslagverhoudings geregverdig moet word en dat die kerk ruimte daarvoor moet maak.

Dit is sleg dat ondersteuners van die verskillende standpunte in kampe gegooi word en name genoem word, en dat die hele situasie ontaard in ’n “ons” en “hulle”, met oor en weer beskuldi­gings van verkramptheid en vrysinnigheid en nog erger. Ek merk selfs ’n veg­lustigheid by mense, en dit ontstel my diep. Dit lyk nie vir my na ’n toedrag van sake wat hoopvol is of enigsins Christelik nie. Daar is gewoon geen middelgrond nie. Jy is óf aan my kant, óf aan die ander kant en dus teen my.

Voeg hierby dat ’n groot deel van die kerkleiding ongelukkig geen begrip toon vir die lidmate wat probleme het met ’n vryer standpunt nie (ons dwing hulle mos nie, elke gemeente kan mos self besluit, word gesê), en jy het die resep vir kerkskeuring. Want as jy oortuig is dat selfdegeslagverhoudings sonde is, is dit moeilik om te aanvaar dat ’n deel van die kerk geen probleme daarmee het nie. Dit kom daarop neer dat die kerk sonde goedpraat, sê hulle, en dit kan tog nie geduld word nie.

Ek dink dit is hoog tyd dat ons in dié verband weer luister wat Paulus oor ’n soortgelyke situasie geskryf het in 1 Korintiërs 8 (oor die eet van vleis wat aan ’n afgod geoffer is en die sogenaamde sterk en swak broeders). Hy skryf in vers 2: “Kennis maak verwaand, maar liefde bou op.” Hy sê almal het nie die nodige kennis nie (vers 7), en dan, in vers 9 en verder: “Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, ’n aanleiding tot sonde word nie. […] Dan gaan die ­swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit ’n broer vir wie Christus gesterf het. Deur so teen die broers te sondig en ’n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle teen Christus.” En hy sluit af met die bekende woorde: “Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie.”

Dalk moet die kerk weer oor hierdie saak dink, want soos dit nou is, gaan dit nie regkom nie. Ons móét mos mekaar kan vind! Ek besef ek haal hom uit konteks aan, maar ek wil tog soos Paulus in 1 Korintiërs 1:13 uitroep: “Is Christus dan in stukke verdeel?”

En dit lyk my die onus rus op die sogenaamde sterkes.

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van die NG Kerk Vrystaat nie.
Nuutste Artikels