Blog

Doen ons genoeg vir ’n groeiende ouerwordende gemeenskap?

 30 Jun 2022  Mariëtte Odendaal   Gerontologie Netwerk
“Hoewel veroudering nie ’n nuwe verskynsel is nie, is ons tans meer bewus van die groeiende ouerwordende gemeenskappe en die uitdagings wat hiermee gepaard gaan.”

Op 15 Junie het prof Laetus OK Lategan, navorser oor geriatriese gemeenskappe in publieke gesondheidsorg, op versoek van dr Kruger du Preez (sameroeper van die NG Kerk Gerontologie Netwerk) ’n aanbieding oor hierdie besonder interessante onderwerp aan die NG Gemeente Aandbloem se Betekenisvolle Verouderingskomitee en lede van die NG Kerk Gerontologie Netwerk gelewer.

“Die doel van hierdie (en ander voordragte) is om tot ’n beter begrip vir en bevordering van betekenisvolle veroudering of oudword by te dra,” verduidelik Laetus. “Daar was heelwat bejaardes by die ruim 50 minuut-lange aanbieding teenwoordig.”

Laetus deel graag met ons ’n opsomming van sy aanbieding, Doen ons genoeg om die uitdagings van ’n groeiende ouerwordende gemeenskap aan te spreek? en lei dit in met ’n gedig van Olga Kirsch

Hoe het dit skielik laat geword?

Die oggend was so lank en stil,

die middag ruim en warm en gul.

Die afdraand van die dag is kil.

Hoe het dit skielik laat geword?

Hierdie gedig van Olga Kirsch, Hoe skielik het dit laat geword? (uit Negentien Gedigte, 1972, Human & Rousseau), verwoord op ’n verbeeldingryke manier verskillende lewensfases. Dit is duidelik dat oudword met uitdagings geassosieer word.

Maar daar is ook ’n opvallende teenstrydigheid – oudword roep twee interpretasies by ’n mens op: Aan die een kant die veerkragtigheid van iemand wat op hoë ouderdom nog ’n indrukwekkende en aktiewe lewe lei en aan die ander kant is daar mense wat vergeetagtig, hulpbehoewend, meestal aan ’n bed gekluister is en wat wag op die naderende einde van die lewe.

Hoewel veroudering nie ’n nuwe verskynsel is nie, is ons tans meer bewus van die groeiende ouerwordende gemeenskappe en die uitdagings wat hiermee gepaardgaan. Die snelgroeiende, ouerwordende gemeenskappe is bevestig in verslae van die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) in 2015 en weer in 2019. Die WGO het daarop gewys dat mense wêreldwyd nou ’n gemiddelde ouderdom van 60 jaar sal leef danksy verbeterde gesondheidsorgstelsels, beleide en begrotings wat gesondheidsorg ondersteun. Die WGO het verder voorspel dat die aantal mense bo dié ouderdom teen 2050 sal verdubbel met ’n geskatte vooruitsig dat hulle 22% van die wêreldbevolking sal uitmaak. Dit sal geweldige uitdagings aan die lewering van gesondheidsorgdienste bied – die kwaliteit daarvan en maatskaplike versorging.

Vir Suid-Afrika is dit ’n somber voorspelling omdat gesondheidsorgdienste reeds enorme uitdagings beleef. Voeg hierby die uitdaging van toeganklikheid in gesondheidsorg. Verder is meer as 80% van ouer mense afhanklik van staatspensioene. Hierdie is maar enkele uitdagings wat die ouerwordende gemeenskap in die gesig staar. In 2021 is gerapporteer dat die aantal persone in Suid-Afrika bokant 60 jaar, 9.2% of amper ses miljoen mense van die bevolking uitmaak. Hierdie syfer moet geprojekteer word teen die aantal mense in 2002; toe het Suid-Afrika amper twee miljoen mense gehad wat as oud geklassifiseer kon word. In die 2021 “Mid-Term Population Estimates”-verslag word die opmerking gemaak dat aandag aan programme vir ouer mense gegee moet word en dat hul ondersteuning prioriteit moet geniet. Dit is jammer dat daar naas die bestaande wetgewing, Older Persons Act, 2006, min oor hierdie prioriteite in die Nasionale Departement van Gesondheid se strategiese plan, 2020 tot 2025 aanwesig is. Daar is minder ander bewyse dat dit wel aandag geniet.

Hierdie somber omstandighede dra baie by tot die broosheid van die ouerwordende gemeenskap. COVID-19 het hierdie broosheid verder bevestig. Publieke kommentaar oor die uitdagings van die ouerwordende gemeenskap in grendeltyd was die behoefte aan geld, toegang tot kos en gesondheidsorg. Die impak van inperking van ouer mense is goed verwoord deur die bekende skrywer, Elsa Joubert, wat in haar lewe gepleit het vir meer toeganklikheid. Die pleidooi het op dowe ore geval. As rede is aangevoer dat hierdie groep mense uiters kwesbaar was vir infeksie met die Corona-virus. Hoewel dit ’n geldige argument was, is daar nie ’n sinvolle oplossing vir hierdie uitdaging aangebied nie.

Bekende uitdagings waarmee ouer mense gekonfronteer word, is die toenemende bewustheid van geestesgesondheid. Demensie en variante hiervan word dikwels met ouer mense geassosieer. Hoewel die einde van die lewe nie ’n fase is wat net vir ouer mense gereserveer word nie, is dit meer van toepassing op ouer mense as op ander ouderdomsgroepe. (Met einde van die lewe word bedoel die laaste fase van ’n mens se lewe.)

Genadedood, geassisteerde bystand by selfdood en die sinvolheid van lewe is nog ’n uitdaging waardeur ouer mense gekonfronteer word. Hoewel aktiewe genadedood nie deur die Suid-Afrikaanse reg toegelaat word nie, gaan al hoe meer stemme op ten gunste van geassisteerde bystand by selfdood. Die vraag na palliatiewe sorg word ook groter wanneer die kwaliteit van lewe sodanig versleg het dat daar doelbewus geen ingrepe is om lewe te verleng of ten minste kunsmatig aan die lewe te hou nie. Demente bejaardes en persone in palliatiewe sorg word aan die besluite van ander oorgelaat. Dit skep die situasie van “surrogaatbesluitnemers”. Die vraag word dikwels gevra of alle besluite objektief genoeg is – veral deur familie of persone vir wie kurators aangestel is.

’n Saak waaroor almal sal saamstem, maar min riglyne oor bestaan, is die etiek onderliggend aan bejaardeversorging. Hoewel die bestaande etiek riglyne van die bevorderinng van welstand, geen leed, outonomiteit en sosiale geregtigheid wyd bekend is, is daar meer etiese insigte ten opsigte hiervan nodig.

Die volgende riglyne word aangebied vanuit die perspektef van publieke gesondheidsorg:

  • Publieke gesondheid se fokus val op die gemeenskap en nie die individu nie. Die bedoeling is dat die grootste deel van ’n bepaalde groep in die gemeenskap, byvoorbeeld ouer mense, die meeste voordeel uit programme en aksies moet kry. Publieke gesondheid is voorkomend en, anders as kliniese gesondheid, nie bedoel om mediese ingrepe te wees nie, soos byvoorbeeld ’n terapie of ’n operasie. Hoewel die motief edel is, is die gevaar dat die individu van die groep geïsoleer kan word. Dit moet voorkom word deur ’n fyn balans te tref tussen wat haalbaar is en wat gedoen kan word.
  • Uitdagings is nie beperk net tot die pasiënt of die groep nie. Ook die versorgers het uitdagings – die vraag is dus hoe word die verhoudings tussen versorger en gemeenskap bestuur en bevorder. Dit benadruk die belang van opleiding, verantwoordelike bestuur en leierskap en professionele gedrag. Groot kommer bestaan oor of gesondheidsorgwerkers in die algemeen toegerus is om die beste besluite vir die groep te neem en dan daarvolgens te handel.
  • ’n Moontlike uitweg uit hierdie dilemma is die toepassing van sorg-etiek. Sorg-etiek het ’n lang tradisie en veronderstel dat binne die professionele verhouding waarin gesondheidsorgwerkers en die gemeenskap staan, die klem is om die beste besluite vir ’n situasie te neem wat nóú haalbaar is. Die vertrekpunt is die bou van verhoudings met die oog op die ideale situasie waarna gestreef word.

Hoewel die “afdraand van die dag kil is”, kan dit teengewerk word deur (a) die uitdagings van ouer mense beter te begryp, (b) sinvolle besluite te neem en beleidstrategieë te vestig en (c) ouer mense deel van die hoofstroombesluite te maak.

Hippokrates, die vader van die geneeskunde, se raad is navolgingswaardig: Wees beskikbaar vir mense, en as dit nie kan nie, moenie hulle leed aandoen nie!

Lesers is baie welkom om Laetus by loklategan@gmail.com te kontak vir meer inligting.